Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: ‘Stop Zuma,’ sê Zille mos al in 2009

Jacob Zuma móés gestop word. Skielik sê almal dit!

Stop Zuma, het adv. Tembeka Ngcukaitobi die regters van die konstitusionele hof in Maart vanjaar namens die Zondo-kommissie gevra: “Ons vra nie dat hy verskyn (voor die kommissie) nie. Ons vra dat hy gestraf word,” aldus die advokaat. Zuma se optrede “bedreig die hele grondwetlike bestel”.

Stop Zuma, het die waarnemende hoofregter, Sisi Khampepe, Dinsdag in haar epogmakende uitspraak beveel ná die hobbelkop-oudpresident se “sinistere en ekstreme minagting” van die grondwetlike hof. “Die skade wat aangerig word deur sy voortdurende aanslae op die integriteit van die regsproses . . . moet nou gestop word,” het Khampepe gesê.

Haar besluit om Zuma tronk toe te stuur wys “enigiemand wat die hof minag, sal boet”, skryf Business Day in ’n hoofartikel met die opskrif: “Hardkoppige en smalende Zuma móés gestop word.”

En dankie tog hy is, al sweer sy geharde lakeie hulle sal sterf om hom uit die tronk te hou waar hy beveel is om vandag aan te meld.

Almal wat nou so uitbundig dans om die pot waarin Zuma kook, kan gerus deur hul dagboeke blaai om te kyk waar hulle was en wat hulle gesê het in 2009, toe Helen Zille, DA-leier, die vermetelheid gehad het om te eis dat Zuma gestop word vóórdat hy sy plundertog voltrek eerder as in 2021, toe dit te laat was.

Verstaan my nie verkeerd nie – dis welkom, en noodsaaklik.

Dis ook 12 jaar te laat.

Nadat die nasionale direkteur van openbare vervolgings, Mokotedi Mpshe, in April 2009 besluit het om strafregtelike klagte teen Zuma te skrap, het Zille oorlog verklaar teen ’n man wat sy geglo het die korrupte ANC verder die verderf in sou lei.

“Wanneer ons terugkyk oor tien jaar, moet ons kan sê dat ons ANC-korrupsie gestop het voordat dit te laat was,” het Zille gesê.

Op 13 April het sy die eerste “Stop Zuma!”-plakkaat op ’n paal geplak.

By die DA se laaste byeenkoms voor die verkiesing op 22 April 2009 het Zille gewaarsku oor wat die ANC met ’n tweederdemeerderheid sou doen, en opnuut verklaar: “Oor tien jaar sal mense terugkyk en weet die DA het van die begin af die waarheid gepraat.”

(Maak dit 12 jaar.)

Toe word Zille, nie Zuma nie, gekruisig.

Die Mail & Guardian wou by haar weet of “Stop Zuma” dan nie ’n vreeslik “negatiewe” boodskap is nie. Zille se antwoord: “Jacob Zuma is wat negatief is.”

Toe lede van die publiek DA-plakkate van pale afruk omdat dit so aanstootlik is, het Kwandile Kondlo, destyds hoof van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) en deesdae ’n professor in politiek in Johannesburg, die vandalisme in die Sowetan verwelkom.

Die “Stop Zuma”-boodskap sou swart kiesers van die DA vervreem, is gewaarsku in The Times.

“Die DA word steeds gesien as ’n meestal wit party. Die ‘Stop Zuma’-slagspreuk herinner mense aan die ‘Veg terug’-slagspreuk wat hulle voorheen gebruik het, wat volgens baie mense rasse-konnotasies gehad het.”

Die politieke ontleder Steven Friedman het die DA-plakkate in dieselfde koerant ’n “strategiese fout” genoem. “Die plakkate toon dat hulle bekommerd is oor een individu omdat hulle een of ander kulturele probleem met hom het.”

Die DA-skrywer Jacques Maree het ook ander kritici van “Stop Zuma” die afgelope week op Twitter aan hul destydse naïwiteit herinner. Dit wys net hoe gretig soveel Suid-Afrikaners oor die jare was om siende blind die ANC se storie – en sy verdorwe leier – te glo.

Die “Stop Zuma”-boodskap sou swart kiesers van die DA vervreem, is gewaarsku in The Times (iets wat natuurlik eerder ’n aanklag teen swart kiesers as teen die DA was).

Die ontslape Karima Brown het in Business Day gemaan die plakkate is “kortsigtig” en word allerweë gesien as ’n “swart gevaar”-taktiek om wit mense mee bang te praat.

In die Daily Dispatch het Sandile Memela verklaar: “Dit help nie om anti-Zuma te wees nie”, terwyl Peter Bruce op 20 April 2009 in Business Day skryf: “Ek vind die DA se ‘Stop Zuma’-veldtog so ontstellend dat ek nie eens daaroor kan skryf nie. Is dit ‘Stop korrupsie. Stop Zuma’ of ‘Stop die swartes. Stop Zuma’? Ek vermoed (dit is) ’n groot fout.”

As die DA en Zille hulle gesteur het aan die kritiek in ’n poging om meer “sensitief” te wees, sou die party dalk besluit het om liewer nie meer as R3 miljoen oor die volgende dekade te bestee om korrupsieklagte teen Zuma heringestel te kry nie. Dié saak kom uiteindelik vandeesmaand voor.

Wat as die DA gehou het by ’n “positiewe” boodskap soos dié op die voorblad van die nuustydskrif Time in Desember 2009: “The Surprising Promise of Jacob Zuma”?

Selfs in 2014 het die joernalis Max du Preez deurgeloop toe hy Zuma ’n “one-man wrecking ball” durf noem het.

Dit sal ons loon om volgende keer vroegtydig op geldige ofskoon “ongewilde” kritiek op bedreigings vir ons grondwetlike bestel ag te slaan.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.