Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Stryd in DA is morsig – met lang messe uit

Wie gaan vir Mmusi Maimane vervang?

Dis ’n ongemaklike vraag. Sy huidige termyn as DA-leier eindig eers in 2021 wanneer die federale kongres vergader.

Maar die lang messe is uit vir die charismatiese maar wankelende Maimane. Al hoe meer DA-kiesers, -leiers en -skenkers vra of hy die party se ski­sofrenie kan heel en die party se kreeftegang in tussenverkiesings kan stuit.

Dié week het die DA ’n wyk in Potchefstroom afgestaan aan ’n al hoe meer selfversekerde VF Plus en ook in Kuruman, Saldanhabaai en die Cederberg-munisipaliteit verliese gely. Dawie Scholtz, kiesdata-tsaar, bereken die DA geniet nou 66% van die steun in wyke in die noorde van die land waar die party in 2016 nog 94% gekry het.

Hierteenoor het die VF Plus se steun in dieselfde meestal wit en Afrikaanse wyke van 6% na 34% gegroei.

Tussenverkiesings lok die vurigste kiesers en kan anomalieë oplewer, maar Scholtz skryf: “Die punt is dat die tendense wat in die 2019-verkiesing geblyk het, aanhou versterk. Die ekstreme groei en die sentrum krimp.”

DA-steun onder swart kiesers stagneer ook. Dit is eerder die EFF wat ANC-steun eet.

Terwyl die DA dié nuus verwerk, het ’n paneel met onder andere Ryan Coetzee en Tony Leon pas hul hersiening voltooi van die DA se swak prestasie in die Mei-verkiesing, en berei die party vir ’n taai federale raadsvergadering in Oktober voor, waar die verslag tot vurige bespreking sal lei.

In die gange gons dit, want die party val uitmekaar en dis ’n belangrike projek dié.

Die inhoud daarvan sowel as die uitkoms van Oktober se vergadering sal bepaal of Maimane sy mag kan konsolideer en of sy einde eerder nader kom.

Die paneel kan selfs kies om ’n aanbeveling te maak oor ’n vervroegde leiersverkiesing indien genoeg getuienis wys dat Maimane sal aanhou om sy doelwitte vir groei te mis.

Indien die paneel, soos verwag word, Maimane se leierskap bevraagteken, sal Maimane hoop dat Athol Trollip, huidige DA-voorsitter, in Oktober verkies word as voorsitter van die federale raad wanneer James Selfe ná 19 jaar uittree. Trollip word geag as ’n lojale Maimane-bondgenoot. Hy is ook veglustig en word deur baie mense as ’n politieke boelie beskou.

Nadat dit in Meimaand geblyk het die DA het 472 000 minder stemme gekry as in 2014, was dit Trollip wat gesê het die DA sal gesamentlik daarvoor verantwoordelikheid aanvaar.

Hy het bygevoeg dat die DA “heeltemal verenig” is. Dat dit bog was, kan almal deesdae sien.

Dalk was die DA verenig in 2015, toe Maimane in Port Elizabeth met ’n 90%- meerderheid verkies is omdat die briljante liberaal Wilmot James as te saai gesien is – en te lig van gelaat.

Dalk in April 2018, toe Maimane onbestrede herkies is. Maar nou?

Die party is vrot van die vetes.

Aan die een kant is diegene wat geglo het dat Maimane deur Helen Zille se opmerkings oor kolonialisme gekneus is en dat die groeitrajek sal hervat sodra Zille uit die pad is. Saam met hulle staan ’n meerderheid van die DA se provinsiale leiers, wat ’n al hoe meer formidabele pro-Maimane-magsblok vorm.

Aan die ander kant is ’n losse koalisie klassieke liberale – die sogenaamde 1959-komitee – wat hoop om die DA weg te stuur van die lui identiteitspolitiek wat deesdae so in die mode is.

Ghaleb Cachalia, Michael Cardo, Geordin Hill-Lewis, Mike Waters, Dean Macpherson en Dianne Kohler Barnard tel onder hul geledere.

As die foutlyne egter so eenvoudig was, sou dit makliker gewees het vir Maimane om die mag te hou.

Maimane het egter ook apologete onder die liberale, wat sidder as hulle oor die moontlikheid dink dat die EFF-darling Herman Mashaba eendag die DA kan lei, en vyande onder die rasnasionaliste, wat Maimane as ’n marionet beskou van Selfe en John Steenhuisen, die talentvolle hoofsweep, en wat dink hulle kan beter as hy vaar.

Dis morsig.

’n Veldtog om Maimane op te volg is daarom nog nie aangekondig nie, maar in die gange gons dit, want die party val uitmekaar en dis ’n belangrike projek dié. Eerder as om ’n nuwe liberale party te stig voor die 2024-verkiesing, moet die stryd om die siel van die DA en daardie waardevolle naam eerder op die spits gedryf word tot dit duidelik is watter kant toe dinge beweeg.

Die vegters vir die DA se siel sien afgang nie net in verkiesingsuitslae nie, maar ook in die DA se bankstate.

Skenkings aan die party, wat weens geldnood dosyne werkers afdank, het sedert Meimaand skerp gedaal weens die giftige kombinasie van ’n vertrouenskrisis, en nuwe wetgewing wat die DA sal dwing om sy boeke oop te gooi.

Met sy rug teen die muur trek Maimane laer.

Die leier wat volle deursigtigheid van pres. Cyril Ramaphosa eis oor private skenkings aan sy veldtog in 2017, weier om vrae te beantwoord oor groot skenkings die afgelope jare aan homself wat kragtens wet verklaar móét word.

Dis kwansuis ’n skending van sy privaatheid.

Al wat vriende en vyande van Maimane voorlopig deel, is die hoop dat ’n groot skandaal, wat nog vrae oor hul leier se integriteit opper, nie bars terwyl Maimane nog partyleier is nie, want dan trek dit almal saam na onder.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.