Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Toelaes is die maklike uitweg

Danksy skitterende winste in die afgeskeepte mynbousektor, en in die nasleep van anargistiese skokke in KZN, reën dit maatskaplike toelaes, terwyl die droogte in werkskepping vererger.

’n Staat wat gevaarlik naby is aan bankrot maar pas ’n bedraggie in die lotery gewen het, onderneem om nóg miljoene mense te versorg.

Nadat toelaes ter waarde van R220 miljard die afgelope jaar betaal is aan 18,2 miljoen maandelikse begunstigdes, is ’n spesiale Covid-19-toelaag van R350 die afgelope week verleng tot in Maart 2022.

Sowat 9,5 miljoen arm Suid-Afrikaners sal daarvoor kwalifiseer teen ’n geraamde koste van R27 miljard.

Wanneer dié (broodnodige) pap behoorlik begin reën, sal meer as 27 miljoen Suid-Afrikaners van staatshulp afhanklik wees.

Hierteenoor is daar slegs 15 miljoen Suid-Afrikaners wat werk.

Miljoene mense wat nie werk nie omdat daar nie werk vir hulle is nie of omdat hulle te swak opgelei is daarvoor, raak dus al hoe meer afhanklik van middelklas-belastingbetalers wat self aan hul werk klou, en die rykes wat nog in die land oor is.

Die uitbreiding van Suid-Afrika se ruim maatskaplike veiligheidsnet verteenwoordig volgens pres. Cyril Ramaphosa “een van die grootste prestasies van ons demokrasie”.

Ramaphosa is reg in dié sin dat elke Suid-Afrikaner wat deur ’n toelae gered word van ’n hongerdood ’n betekenisvolle oorwinning oor menslike lyding verteenwoordig.

Dis ook ’n belegging in stabiliteit.

In 2001 het slegs 3,8 miljoen Suid-Afrikaners voordeel uit staatstoelaes getrek; in 2011 was dit 14,8 miljoen; toe steek dit die getal werkendes so vyf jaar gelede verby.

Die behoefte is groot: Weens langtermynarmoede en werkloosheid van 32,5% het meer as 10 miljoen mense in April en Mei in huishoudings gewoon wat deur honger getref is en 1,8 miljoen mense het volgens die Nids-Cram-peiling aangedui hulle was bykans elke dag honger.

Die R350 is boonop ver onder die R585 wat nodig is om aan die lewe te bly; daarom sê ekonome soos Neil Coleman en organisasies soos die Black Sash die bedrag behoort eintlik heelwat hoër te wees.

Sulke argumente het nuwe stu­krag gekry ná die onluste in Julie, wat volgens die vakbondbaas Zwelinzima Vavi ’n “uitdrukking van woede deur die armes” was. Selfs Ramaphosa sê die regering oorweeg nou ’n basiese inkomstetoelaag (BIG) van méér as die R350 om die lyding te takel waarvan die onluste volgens hom ’n uitvloeisel was.

Die #PayTheGrants-veldtog sê selfs ’n inkomstetoelaag is “nie ’n guns nie, maar mense se reg”.

Maar dui die uitbreiding van staatstoelaes, soos wat Ramaphosa aanvoer, op ons land se “sukses”?

Elke Suid-Afrikaner wat ’n toelae eerder as ’n salaris kry, is immers ook ’n lopende bewys van hoe ons misluk in die groter taak om armoede uit te wis en welvaart te bou, iets wat toelaes nooit kan doen nie.

Daarom is Ramaphosa, wat in die prestasieooreenkoms van sy minister van maatskaplike ontwikkeling die doelwit ingeskryf het dat 20,1 miljoen Suid-Afrikaners teen 2024 toelaes moet kry, ook verkeerd.

Maatskaplike besteding op die huidige skaal sou onnodig gewees het as die regering die afgelope jare liefde op werkskeppers laat neer­reën het, eerder as net op staatsamptenare en die desperate ontvangers van beskeie staatstoelaes.

Werkskeppers – wat selfs hul laags besoldigde werkers veel meer betaal as R350 per maand – word stief behandel deur die ANC.

Die mynbousektor, danksy wie R100 miljard se ekstra belastinginkomste inrol en waarsonder Rama­phosa volgens sy eie erkenning nie Sondagaand se aankondiging oor die uitbreiding van die R350-toelaag sou kon gemaak het nie, voel pal die staat se koue afsydigheid.

Só ongunstig is die beleidsklimaat dat Suid-Afrika in 2019 slegs 1% van mynbou-ekplorasie in die wêreld gelok het, het Sake Rapport berig. Miljarde in beleggings word verbeur weens die chaos in ons aansoekstelsel vir lisensies en mynbouregte, waar die agterstand 5 300 is.

Die gans wat die goue eiers lê waarsonder die welsynstaat eindig, word gewurg. Niemand weet hoe lank die lopie sal duur nie. En wanneer kommoditeitspryse val, wie is so naïef om te dink die ANC sal die toelaes wegvat?

Intussen is R53 miljard se belastinginkomste ook vanjaar verlore weens die onluste en die gek alkoholverbod, het Edward Kieswetter, belastingkommissaris, aan Money­web gesê.

Ramaphosa moet ag slaan op die waarskuwing van Bobby Godsell en Lael Bethlehem in Business Day dat “ons nie alles kan bekostig waarvoor ons wens nie – gratis hoër onderwys, jaarlikse loonverhogings vir staatsamptenare, maatskaplike uitbetalings wat skerp styg”.

Toelaes red lewens. Maar dis ’n “maklike” en onvolhoubare uitweg vir ’n regering wat versuim om die “moeilike” beleggings in groei en werkskepping te maak. As groei wegbly, tap ons ons dam leeg sonder enige vooruitsig op reën.

Meer oor:  Waldimar Pelser
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.