Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Uitspraak wys MRK koop in op ideologie

They found peaceful Africans here. They killed them. They slaughtered them like animals. We are not calling for the slaughtering of white people – at least for now. What we are calling for is the peaceful occupation of the land and we don’t owe anyone an apology for that.”

Dié opmerking deur Julius Malema in 2016 het baie mense geskok. Veral die woorde “at least for now”. Want: Bedoel jy dalk later? En: Wie de hel is jy om te besluit?

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het die afgelope week bevind wit mense kan dalk “seergemaak” voel, maar dit was nie haatspraak nie. Baie wit Suid-Afrikaners sal ná dese met reg voel dat dit nie die moeite werd is om hulle op die MRK te beroep nie. Die bevinding is nie skokkend omdat dit die wetgewing oor haatspraak noodwendig verkeerd toepas nie – oor die definisie van haatspraak woed ’n stryery in die howe al jare. Nuwe (drakoniese) wetgewing is ook op pad.

Dit is eerder skokkend omdat dit wys dat die MRK ingekoop het in ’n ideologie wat bepaal dat diegene wat laag op die ranglys van historiese slagofferskap lê maar moet opsnork.

As jy histories ontmagtig is deur diskriminasie gegrond op jou ras, geslag, seksuele oriëntasie of ’n gebrek, dan is jy vandag “magteloos” en dus ’n slagoffer in direkte verhouding tot die mate van diskriminasie wat nie jy nie maar mense soos jy al ervaar het.

Die feit dat Malema politieke en ekonomiese mag het, mag ons vir geen oomblik laat glo dat hy enigiets anders as ’n slagoffer is nie?.?.?.

As jy daarenteen byvoorbeeld (hemel behoed jou) ’n heteroseksuele, wit, Afrikaanssprekende man is, dan het jy strukturele mag selfs al is jy arm en sonder matriek, want jy het (en soms is dit natuurlik wel so) ekonomiese en maatskaplike dividende ontvang in ’n stelsel wat gerat was in jou guns.

Kyk deur hierdie “lens” van sogenaamde interseksionaliteit na die rubriek op News24 van die joernalistiekstudent Zenoyise John, wat ná die Hoërskool Driehoek-tragedie geskryf het dat diegene wat hul blydskap oor die dood van wit kinders uitgespreek het, bloot die kollig laat val het op “ongehanteerde swart woede wat spruit uit jare van apartheid”. “Dit is onregverdig vir enigiemand om die voorwaardes te wil voorskryf waaronder swart mense met die gevolge van dié sondige stelsel moet worstel. Swart woede . . . is moreel geregverdig.”

Toe ek op 3 Februarie op Twitter sê die EFF “handel in haat”, het ’n vriend wat in die studie van slagofferskap spesialiseer, gekap: “Wat jy ‘haat’ noem, noem ek skerp strukturele kritiek.”

Reg so.

Stappe wat dus mik om groepe te bevorder wat volgens hierdie skema relatief minder mag het, word as aanvaarbaar en nodig beskou. Dit sluit in die Nelson Mandela-stigting se pogings om die “ongegronde” tentoonstelling van die ou Suid-Afrikaanse vlag tot “haatspraak” verklaar te kry (die vlag ontstel volgens die Stigting swart mense, ’n groep sonder mag); die regering se nuwe “aksieplan” teen rassisme, wat rassisme definieer as vooroordeel op grond van die geloof dat jou ras superieur is (met ander woorde anti-swart rassisme); en die einste MRK se litigasie teen Jon Qwelane, wat homofobiese onsin kwytgeraak het in ’n koerantrubriek in 2008 (dit was teen gay mense gemik, wat ook al dikwels die teikens van diskriminasie was).

Maar in Malema se geval was die klaers wit. Skielik kies die MRK om die bepalings in die Grondwet en die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie (Pepuda) eng te vertolk. Skielik is die drempel vir haatspraak hoog: Dit moet haat propageer en mense aanhits om skade te doen. En daar maak die MRK toe uitdruklik wat ons al jare vermoed: ’n Klaer se velkleur tel.

“Robuuste spraak moet beskerm word vir diegene wat steeds struktureel gemarginaliseerd is sodat hulle hul morele invloed kan uitdruk deur uitdrukkings wat woede of frustrasie oordra oor hardnekkige maatskaplike ongeregtighede,” lui die bevinding.

Malema se opmerking “kan dalk as ‘kwetsend’ ervaar word deur ’n wit gehoor. Maar konteks vereis dat ons die identiteit van die teikengroep en die oortreder in ag neem. Die wit groep is sosio-ekonomies bevoordeel. Hierteenoor behoort meneer Malema aan die kwesbare swart bevolkingsgroep, wat oorwegend arm en grondloos is.”

Die feit dat Malema politieke en ekonomiese mag het, mag ons vir geen oomblik laat glo dat hy enigiets anders as ’n slagoffer is nie, want hy is swart.

Selfs Ferial Haffajee skryf: “Die MRK sê jou relatiewe vlak van onderdrukking in die verlede bepaal vandag jou reg op waardigheid, so as Indiërs minder onderdruk was, het hulle vandag ’n mindere reg tot waardigheid.”

Daarom kan Malema bykans sê wat hy wil terwyl “wit spraak” al hoe makliker die toets van toelaatbaarheid dop.

Meer oor:  Julius Malema  |  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie  |  Mrk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.