Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: VF Plus se aandele gaan ná 8 Mei styg

By Rapport en kykNET se openbare gesprekke in Pretoria, George, Stellenbosch en Bloemfontein, waar ons amper duisend mense verwelkom het, het ’n hele paar kiesers (meestal wit en Afrikaans) in vraetyd oor die DA iets te sê gehad.

Daar is ’n gekriewel, ’n gatvol-faktor, ’n nuk. Dit is nie duidelik hoe algemeen die nuk is nie.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) se jongste peilings, waarin die DA 21,8% meet (teenoor 22,2% in die 2014-verkiesing), wys 71% van wit kiesers (teenoor 69% van bruin kiesers en 72% van Indiër-kiesers) sou DA stem as die verkiesing middel Februarie plaasgevind het toe die telefoniese navorsing gedoen is (foutspeling: 3,3%).

Luidens die IRV se Desember-peilings het DA-steun onder “minderheidskiesers” (wit, bruin en Indiër) in die drie maande sedert hul September-peiling met tien persentasiepunte geval van 71% tot 61%. Die jongste syfers kan dus dui op ’n herstel, en wys nie juis dat baie wit mense van die DA vlug nie.

Tussenverkiesingsuitslae is nog ’n lekker dog gevaarlike plek om vir data oor die “nuk” te soek – lekker omdat die uitslae werklike stemme verteenwoordig; gevaarlik omdat die opkoms in tussenverkiesings laer is as in algemene verkiesings. ’n Mens moet pasop om uit klein getalle groot gevolgtrekkings te maak.

As die VF Plus ’n aandeel was op die JSE eerder as ’n politieke party, het beleggers dit opgeraap.

Nogtans het Dawie Scholtz, die kiessyfer-ghoeroe, in November aangeteken dat die DA se steun in een tussenverkiesing in George met 11 punte gedaal het tot 81%, terwyl die VF Plus s’n gestyg het met nege punte van byna niks tot 12%. In wyk drie in die Moqhaka-munisipaliteit (Kroonstad) het Scholtz die uitslae in dele van die wyk waar wit kiesers stem, geïsoleer en bevind DA-steun het met agt punte gedaal tot 73%. Weer was die VF Plus die wenner met ’n aandeel van 26% (+8).

Dit gaan nie oral so nie. Tog het dié uitslae bietjie stukrag gegee aan die idee dat die VF Plus se pogings om vanjaar die DA se wit en selfs bruin kiesers te teiken, vrugte kan afwerp.

Die VF Plus se steunvlak kan eintlik net styg: In 2014 kon die party net 166 000 stemme landwyd lok – nog nie eens 1% van die totaal nie. Hul stemme kom oorweldigend uit Gauteng, waar die VF Plus een setel verower het danksy 52 436 stemme (1,2% volgens die OVK). Ook in die Vrystaat (21 339 stemme) en Noordwes (18 746 stemme) kon die VF Plussers net een setel wen.

In die Wes-Kaap was 11 587 stemme nie genoeg vir ’n enkele wetgewer-setel nie, net soos in die Oos-Kaap (6 818, nul setels), KwaZulu-Natal (7 695, nul setels), Limpopo (10 102, nul setels), Mpumalanga (11 018, geen setels) en die Noord-Kaap (4 600, geen setels).

Om van so ’n klein grondslag af te groei, is veel makliker as wat dit gaan wees vir die Demokratiese Alliansie om sy 4,09 miljoen stemme van 2014 te ewenaar, wat nog te sê van groei.

Die DA hoop nie meer op groei uit wit geledere nie – slegs op behoud. Groei moet van swart kiesers kom. Daarom probeer die party boodskappe ontwerp wat tot swart kiesers sal spreek sonder om wit en bruin kiesers af te skrik (dit slaag net sóms). Dis hoe breëbasis-politiek in ’n veelrassige en ideologies geskakeerde koukus werk.

En soos onlangse botsings oor swart ekonomiese bemagtigingsbeleid ons herinner het, is dit nie maklik nie. Voeg hierby ’n leier wat neig om konsensus te soek en dis duidelik waarom die DA soms moeë kompromisse kies.

Die VF Plus het nie dieselfde uitdagings nie. As jy net met ’n klein groepie in die wit bevolking praat, en ’n paar bruin kiesers ook, kan jy oor taal of grond of regstelaksie vet gee. Jy hoef swart kiesers se idees hieroor hoegenaamd nie in berekening te bring nie.

Daarom reken ek dat as die VF Plus ’n aandeel was op die JSE eerder as ’n politieke party, het beleggers dit opgeraap. Hierdie aandeelprys sal ná 8 Mei styg. Die DA s’n sal ten beste stagneer.

Wat voorspel dit vir ons saambestaan as die enigste party wat probeer om in sy eie geledere die moeilike gesprekke tussen wit, bruin en swart te bemiddel, sou vassteek op 22% terwyl die rasna-sionalistiese EFF na 10% mik en die moreel bankrot ANC steeds buite Gauteng en die Wes-Kaap groot meerderhede kry?

Politieke partye sukkel om voertuie te wees vir versoening en vir oop gesprekke. Die politiek is te mededingend. Die stryd om setels en idees oorheers. In Bloemfontein Vrydag vra die filosoof prof. Johann Rossouw of die antwoord nie dalk soos voor ’94 lê in “nuwe alliansies” buite die politiek nie.

As wit kiesers louwarm raak oor die DA omdat die party “eie sake” ondergeskik stel aan die versugtinge van swart kiesers, is Rossouw dalk reg.

As politici buite die DA nie so ver kom om betekenisvolle veelrassige bondgenootskappe te smee nie, dan moet ons dit nie aan die politici oorlaat nie. Ons mag dit natuurlik wel van hulle vra.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.