Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Waar hulle ’n wig bou, bou ons ’n brug

Dat ons sukkel in dié land om mekaar se waarhede te aanvaar, wil ek met ’n staaltjie uit die redaksiekantoor illustreer.

Op 29 Oktober 2017 het Rapport die bevindinge gepubliseer van ’n grondoudit wat vir Landbouweekblad en
Agri SA gedoen is deur die ekonoom Johann Bornman. Sowat ses weke voor die ANC se Nasrec-konferensie, waar besluit is grondonteiening sonder vergoeding word beleid, het hierdie syfers gewys swart en bruin boere besit reeds sowat 26% van Suid-Afrika se grond.

Dié som sluit tradisionele oftewel trustgrond in (die ou tuislande) wat nie in individuele besit is nie, maar wel van die land se vrugbaarste grond is.

Ons susterskoerant City Press was nie naastenby so opgewonde oor die oudit as ons nie. Hulle het gewys op gebreke in die data. Ek vermoed voorts die bevindinge het nie gestrook met my kollegas se gewaarwordinge oor die stadige pas van grondhervorming nie.

Drie maande later is die bordjies verhang. City Press het die eerste weergawe in die hande gekry van die regering se grondoudit, wat gelui het: “Swart Suid-Afrikaners maak dalk 79% van die bevolking uit maar as individue besit hulle slegs direk 1,2% van die land se landelike grond en 7% van formeel geregistreerde eiendom in dorpe en stede. Intussen besit wit Suid-Afrikaners, wat 9% van die bevolking uitmaak, direk 23,6% van landelike grond en 11,4% van grond in dorpe en stede.”

Die prominensie wat City Press aan dié data verleen het, was volgens ons buitensporig. Kenners was immers skepties oor die data. Prof. Ruth Hall van die Universiteit van Wes-Kaapland het aan Rapport gesê: “Die regering het steeds nie ’n idee wie watter grond in Suid-Afrika besit nie.”

Die ANC het vergeet hoe toenadering klink. Kom ons maak in ons daaglikse lewe nie dieselfde fout nie.

Rapport en City Press word twee gange van mekaar gepubliseer en ons joernaliste boer saam op die rookstoep, maar die afstand tussen die koerante oor kwessies soos grond (voeg maar by moedertaalonderrig of ander kultuureie-sake) is deesdae opvallend groot. Ofskoon daar beduidende konsensus bestaan oor wat fout is in die land, en ofskoon ons selfs dikwels diag­noses deel oor wat gedoen moet word om die staatsdiens reg te ruk of korrupsie te takel, sukkel ons terselfdertyd om soveel van mekaar se waarhede te aanvaar.

In die geval van grond het twee narratiewe – een wat wys op vordering en die ander op die hardnekkigheid van swart grondarmoede – gebots.

Dit het die diepte van agterdog ontbloot wat wit en swart in gesprekke oor grond skei.

Ons ken ons eie stories oor ons gehegtheid aan grond en die verlies aan grond goed, maar betrag mekaar se waarhede hieroor met agterdog.

Verlede week skryf City Press se redakteur, Mondli Makhanya, in Weekliks dat Suid-Afrikaners deesdae pal net ’n “asemteug weg (is) van die volgende rassevoorval of konfrontasie”. Ons is ’n “borrelende pot van wrok en toornigheid”.

Ek deel sy kommer. Baie van u ook.

By ’n ontmoeting tussen redakteurs en pres. Cyril Ramaphosa op 24 Mei in Tuynhuys is Ramaphosa meer as een keer oor rassespanning uitgevra.

Sy antwoorde sou toon of hy die inklinasie het om ’n brug of ’n wig tussen mense te wees.

Ramaphosa het uit die Vryheidsmanifes aangehaal (“Suid-Afrika behoort aan almal wat hier woon”) en nogmaals ’n pleidooi gerig aan wit mense om “te erken ons het voordeel getrek (tydens apartheid) en het daarom ’n verantwoordelikheid om ’n bydrae te maak”. Natuurlik het ons.

Maar so verbete as wat Ramaphosa die afgelope maande van die Zumaïete begin ontslae raak het, so jammer is dit dat hy nog nie gewys het hy kan met durf én verbeelding oor die delikate en moeilike saak van ras praat nie.

Mondli het hom in die oë gekyk en gesê dat die ANC deel is van die probleem eerder as die oplossing. “Daar is geen sin van dringendheid oor waar ons is as land nie,” het Mondli gesê. “Dis regtig baie sleg. Die polarisering is ekstreem. Niemand gee leiding nie.”

Wanneer die ANC praat oor ras, klink dit vir hom net soos wanneer Kallie Kriel (AfriForum) praat oor ras, of Andile Mngxitama (Black First Land First). Middelpuntvlietende kragte.

In ’n verkiesingsjaar sal dit dom wees om van die ANC te verwag om ’n brugbouer eerder as ’n wigbouer te wees. Die ANC het vergeet hoe toenadering klink. Kom ons maak in ons daaglikse lewe nie dieselfde fout nie.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  City Press  |  Rapport  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.