Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Waaraan meet ons inperking se sukses?

‘Op hierdie aarde is daar pestilensies en daar is slagoffers en dit is ons plig om sover as moontlik nie kragte saam te snoer met die pestilensies nie,” sê die karakter Jean Tarrou in die Algerynse skrywer Albert Camus se roman Die Pes. Dis ’n wonderlike boekie waarin dit nou mode is om te gaan soek na maniere van kyk na die pestilensie van ons tyd – die virus wat so ’n abrupte einde gemaak het nie net aan eenvoudige plesiere soos bergklim of stap met die hond of ’n drukkie vir jou ma nie; amper 400 000 mense in Suid-Afrika kan ook weens die inperking van drie weke tot 16 April hul werk verloor, waarsku die Reserwebank.

Die verlenging van die inperking met nog 14 dae laat my wonder wie die slagoffers is by wie ons ons tydens die inperking en die soms brutale polisiëring daarvan moet skaar.

Dit het die norm geword in kommentare in koerante en elders om die fokus te laat val op potensiële slagoffers van Covid-19. Gesondheid is belangrik en ’n voortydige dood is uiteraard iets wat die meeste mense moeite doen om te vermy. Covid-19 is nou die vernaamste oorsaak van dood in Amerika en in Italië word lyke in trokke weggery. Ons president en gesondheidsminister weet wat in New York en Lombardye aangaan en is met reg bekommerd oor hoe lelik dinge kan raak indien ons gesondheidsdiens – ’n skedonk met vuil vonkproppe teenoor Italië se Ferrari – reg van voor getref word deur die korona-trok. Die aankondiging op 22 Maart van ’n inperking toe ons minder as 300 bevestigde gevalle gehad het, was die regte ding om te doen. Lande wat te lank gewag het, betaal in lewens die prys daarvoor.

Maar om die langer inperking te beoordeel, moet ’n mens vra, soos die president Donderdagaand gevra het, of dit werk. Dit weet ons nog nie.

Die persentasiestyging per dag in gevalle tydens die inperking is inderdaad heelwat laer as voor die inperking, maar stygings word nou bereken vanaf ’n hoër basis: Toe 31 nuwe gevalle op 18 Maart aangekondig is, het dit ’n styging van 36,5% teenoor die vorige dag verteenwoordig; die 31 nuwe gevalle op 6 April daarenteen het slegs ’n dag-tot-dag-toename van 1,9% behels. Ramaphosa is korrek dat ons sedert die inperking nie meer ’n eksponensiële kurwe van nuwe infeksies volg nie en dit is goeie nuus.

Waarom hou die departement eksakte syfers oor opnames in hoësorgeenhede so dig en waarom wil die regering nie wys watter modelle hulle gebruik wanneer hulle die pandemie in Suid-Afrika karteer nie?

Maar weerspieël dié syfers die werklikheid? Waarom hou die departement eksakte syfers oor opnames in hoësorgeenhede so dig en waarom wil die regering nie wys watter modelle hulle gebruik wanneer hulle die pandemie in Suid-Afrika karteer nie?

En as ons eintlik meer Covid-19-gevalle het as wat die regering sê, sou dit ’n rede wees om weg te doen met die inperking omdat dit die ekonomie onnodig verwoes, of eerder ’n rede om die inperking wéér te verleng? Soos die DA-leier John Steenhuisen Vrydag gevra het: Hoe lyk sukses?

Die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, is op rekord dat ons eers sal weet presies hoe groot die Covid-19-krisis is as honderdduisende mense getoets is. Tog kom toetsing nie op dreef nie. Terwyl gemiddeld 3 900 mense elke dag getoets is in die eerste week van die inperking, was dit in week twee net 2 900 per dag. Sodra toetsing op groot skaal begin, sal die aantal amptelike gevalle deur die dak skiet. Sal ons dan steeds sê die inperking werk?

“Werk” die inperking vir die miljoene Suid-Afrikaners wat daagliks stukwerk doen net om daardie aand te eet of kleinboere wat beboet word as hulle wil omsien na hul vee? “Werk” dit vir haweloses en arm mense wat deur polisielede in maskers tot in die hospitaal gemoker word? “Werk” dit vir die agt mense wat in week een van inperking dood is in polisie-optrede?

In Die Pes het honger, arm mense die slagspreuk “brood of vars lug!” met kryt op die mure van die besmette dorp gekrap; hier wys woedende desperate mense reeds dat hulle tuisbly as ’n sekerder doodsvonnis as ’n virus sien deur drankwinkels te plunder en swartmark-sigarette te rook.

Hier’s die knoop: Dit is belangrik dat die inperking werk in die publiek se belang; en dit is ewe belangrik dat daardie regulasies wat nie regstreeks help om die gesondheidskrisis by te lê nie, geskrap word.

Die meeste slagoffers van hierdie siekte is op die oomblik nog – en ek vermoed ook vorentoe – mense sonder geld in die sak en kos op die tafel. Hul krisis is ook ’n humanitêre een; dis bog om besorgdheid oor hulle af te maak as ’n koue obsessie met geld.

Vet weet, dis nie eenvoudig nie. Ons almal se lot is nou meer as ooit aan mekaar gebind.

“Daar was nie meer iets soos ’n individu se lot nie; slegs ’n kollektiewe lot, gevorm deur die pes en almal se emosies daaroor,” skryf Camus. “Die sterkste van hierdie emosies was dié van ballingskap en ontbering, met al die strominge van rebellie en vrees wat daardeur opgestel word.”

Kom ons vat hande in hoop eerder as vrees, en kom ons kry mense so gou doenlik weer aan die werk sodat hulle vir hul gesinne kan help sorg.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.