Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Waar’s die steun vir dié Trump-petisie?

Toe Donald Trump Maandag 500 dae in die Withuis gevier het, het hy gespog oor ’n werkloosheidskoers van slegs 3,8%, belastingkortings vir Amerikaanse gesinne en skouspelagtige seges op die wêreldverhoog.

Die 87% Republikeine wat glo hy vaar goed as president het instemmend geknik. Dit is ons man daai!

Hulle sê: Kyk na die scoreboard.

Drie miljoen nuwe werksgeleenthede is in 500 dae in die VSA geskep en werkloosheid is ook onder swart Amerikaners (5,9%) die laagste sedert 1972.

Meer as 140 000 onwettige immigrante is in die boekjaar tot einde September in hegtenis geneem – die hoogste syfer in drie jaar. 38% meer ongedokumenteerde immigrante is boonop in Trump se eerste jaar gedeporteer as in die vorige jaar.

Trump het sy verkiesingsbelofte nagekom deur aan die Iran-kernooreenkoms te onttrek en die Amerikaanse ambassade van die liberale kusstad Tel Aviv na Jerusalem te skuif. Die eerste ontmoeting ooit tussen die demokraties verkose Amerikaanse president en Noord-Korea se despotiese kluisenaar Kim Jong-oen, wat albei tot onlangs gedreig het om mekaar se lande met kernwapens uit te wis, vind Dinsdag in Singapoer plaas. “Dit kan die koers van die geskiedenis verander,” sê die BBC.

Trump se juigbrigade, wat nie tot die 30 rooi (Republikeinse) deelstate beperk is waar hy in 2016 gewen het nie, sal by bogenoemde CV voeg dat hy in sy 3 500 twiets vreeslose (nota: soms ook feitlose) opstoppers plant in die (plat!) magie van ’n hovaardige liberale elite wie se heldin, Hillary Clinton, indertyd na Trump se volgelinge verwys het as ’n “basket of deplorables”.

Die persentasie Amerikaners wat reeds werk of werk soek, is nou net 62,9%, die laagste sedert die 1970’s.

Kyk waar het dié meerderwaardige houding die Demokrate gebring, sê die Trumpiste. Liberales en Demokrate se verklaring dat hulle die finish en klaar-oorwinnaars was van die kulturele oorlog oor gayregte, swart bevordering, polities korrekte taal, die koestering van minderhede en die bemagtiging van vroue, was toe voortydig. Hulle was verkeerd om te aanvaar alle Amerikaners wil hê standbeelde van Suidelike helde uit die Burgeroorlog, beelde wat swart Amerikaners aan die vergrype van slawerny herinner, moet val.

Die Trump-brigade duld geen kritiek nie. Net so glo Trump se kritici – onder wie die 90% van Demokrate wat sê hy vaar sleg – hy kan niks reg doen nie.

Hulle sal uitwys dat werkloosheid in die laaste vier jaar van die Obama-administrasie selfs vinniger gedaal het as onder Trump: Teenoor die 2,2 miljoen nuwe werksgeleenthede wat laas jaar geskep is, is 2,24 miljoen geskep in 2016, 2,71 miljoen in 2015, 2,99 miljoen in 2014 en 2,3 miljoen in 2013.

Die indrukwekkende werkloosheidsyfers versluier ook die jammerlike feit dat die persentasie Amerikaners wat reeds werk of werk soek, nou net 62,9% is, die laagste sedert die 1970’s.

Groot maatskappye vind boonop meer baat by Trump se belastingkortings as gewone middelklasgesinne.

Oor buitelandse beleid sal die Trumpiste hul skouers optrek oor die feit dat Amerika met die skuif van sy ambassade na Jerusalem die hoop op ’n tweestaat-oplossing in Israel-Palestina nog verder op die lange baan skuif en Amerika vir alle praktiese doeleindes as bona fide-onderhandelaar in dié konflik diskwalifiseer. Voorts sê die VSA se Europese vennote Iran word gestraf al het hy sy verpligtinge kragtens die kernooreenkoms nagekom.

Dit bring ons by Trump se handelsbeleid, wat Suid-Afrika gaan seermaak.

Die vakbond Solidariteit het hom die afgelope week by die internasionale kritiek-koor aangesluit oor Trump se invoertariewe op staal en aluminium wat tot duisende werksverliese in Suid-Afrika kan lei.

Eerder as om in Trump se karakter in te klim, soos wat sy liberale kritici sonder veel sukses so graag doen, lui die petisie wat Solidariteit op die Withuis se webblad geregistreer het: “Daar is begrip vir die redes waarom die VSA sy nywerhede wil beskerm, maar die Suid-Afrikaanse staalbedryf is onder kritieke stres. Suid-Afrikaanse invoere maak minder as 2% uit van die Amerikaanse mark en Suid-Afrikaanse maatskappye is boonop nie die skuldiges wat staal (in Amerika) stort nie.”

Dit is treffend dat soveel Suid-Afrikaners klaarblyklik ’n kultureel-etniese band voel met die liegende Trump, hy van wie die meeste ordentlike Afrikaanse mense alles sou doen om hul dogters (en vroue) weg te hou, maar dat slegs 542 mense teen Vrydagmiddag Solidariteit se anti-Trump-petisie geteken het wat vir die toekoms van werkende mense net soos hulle veg.

Dat Trump se kritici so arrogant is, beteken nie hulle is altyd verkeerd nie.

Meer oor:  Donald Trump  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.