Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Wat as ek dáár pleks van hier gebore is?

Vyf maande gelede is ’n vriendin se pa met ’n gevorderde kanker gediagnoseer in Bulawayo, Zimbabwe.

’n Maand later was hy dood.

’n Kankerdiagnose is altyd slegte nuus. Tog is dit moeilik om jou ’n slegter plek vir ’n stryd teen kanker te verbeel as Bulawayo.

In Sizanda, ’n krotbuurt, vergaar ma’s met babas op die rug modderige rioolwater uit gebreekte pype omdat hul krane drie maande lank weens die ergste waterkrisis tot nog toe droog is, berig The Guardian.

Die soeke te voet in die son na water – iets waaraan almal van ons se oervoorsate ure van hul dae gewy het voor daar iets soos ’n “beskawing” was – is alledaags in ’n stad wat 320 km van die Suid-Afrikaanse grens geleë is.

Meer as 2 600 gevalle van diarree is sedert Junie aangeteken – meestal kinders onder vyf.

Waldimar Pelser

Zimbabwe se Sunday News berig op 8 November inwoners van Bulawayo was aanvanklik net vir vier dae elke week sonder water. Dit het vyf en toe ses dae uit die sewe geword en nou sê die owerhede bloot daar’s water wanneer daar water is – wat meestal nie die geval is nie.

Die stad se min besighede steier; talle sluit.

Hier en elders in Zim is paaie ongeteer en die krag 18 uur per dag af.

Die gevolge van die land se regressie na ’n regeringlose natuurstaat – met lewens wat in die woorde van die Engelse filosoof Thomas Hobbes “eensaam, armlastig, aaklig, brutaal en kort” is – is veral sigbaar in die hospitale waarop my vriendin se pa in Junie nie kon reken nie.

Die nuusagentskap AFP het in Augustus foto’s gepubliseer van sewe doodgebore babas in kokonne van groen doek toegedraai wat op die toonbank lê van Harare se grootste staatshospitaal, wat in November laas jaar herdoop is tot die Sally Mugabe-hospitaal sodat die naam van die tiran Robert Mugabe se eerste vrou darem kan voortleef al sterf pasiënte op die vloer.

Op een nag in Julie is sewe uit die agt babas wat by Sally Mugabe per keisersnee die wêreld ingebring is, doodgebore omdat hul ma’s weens ’n staking van verpleegsters onvoldoende sorg gekry het, het Reuters berig.

Mediese personeel is raadop: Minder as 2 000 dokters versorg 14 miljoen Zimbabwiërs en operasies word klokslag weens kragonderbrekings gekanselleer.

Onlangs is dokters per SMS ingelig hulle salarisse word van $1 800 per maand (sowat R30 000) na $80 (R1 250) verlaag terwyl inflasie in September 659,4% was teenoor ’n hoogtepunt van 837% vir die jaar in Julie, volgens Al Jazeera.

Dis nie eens genoeg vir busgeld nie.

Dr. Peter Magombeyi, ’n mediese dokter wat in September ontvoer is nadat hy betogings gelei het teen die toestande waaronder dokters en verpleegsters gevra word om te werk, het aan Maverick Citizen vertel hospitale moet alle verwysings aanvaar, al is daar geen chirurgiese handskoene of pleisters nie.

“Pasiënte moet hul eie proefbuise koop en saambring,” sê hy. “Ons het nie eens Parasetamol nie. En die privaat hospitale is vir die rykes en politici, wat dikwels die opsie het om landuit te vlieg om mediese sorg te kry.”

Of ’n mens in sulke onmenslike toestande gebore word of as volwassene met kanker gediagnoseer word, is natuurlik grootliks ’n vloekskoot. Dis toeval.

Te midde van dié verval is die meeste hospitale sonder administratiewe hoofde omdat hulle, tesame met die minister van gesondheid, Obadiah Moyo, afgedank is weens betrokkenheid by massiewe Covid-19-tenderbedrog.

Hoe bekend klink dit nie.

Of ’n mens in sulke onmenslike toestande gebore word of as volwassene met kanker gediagnoseer word, is natuurlik grootliks ’n vloekskoot. Dis toeval.

Waar op aarde of waar in ’n bepaalde land ons ons eerste asem inasem, mediese sorg of skoling kry, studeer of nie studeer nie en werk soek en vind – of nie vind nie – is die gevolg van ’n geografiese lotery.

Dié besef maal in my kop nie net weens die gesprek met my Zimbabwiese vriendin oor haar pa, en die vertellings van ’n vriendin in Nigerië oor haar desperate pogings om eendag by haar suster aan te sluit in New Jersey nie, maar die lees van Jeanine Cummins se vuishou-in-die-maag-roman American Dirt.

Dit is die storie van ’n ma van vroeg in die 30 en haar agtjarige seuntjie wat te voet en op die dakke van goederetreine, in gietende reën en deur poeierdroë woestyne, 2 645 myl aflê om na die VSA te vlug nadat ’n dwelmkartel hul hele familie vermoor.

Hul middelklasbestaan is weens brutale geweld en vrees vir die dood kortgeknip. Net soos wat soveel Zimbabwiërs al van ontbering gevlug het na Suid-Afrika en elders, het die ma en seun oornag migrante geword wat onwettig in andermansland uit beskeie huiswerk en aalmoese ’n nuwe lewe probeer maak.

Of ’n mens daar gebore word of hier, aan dié kant van die grens of die ander, in ’n huis met warm water en ’n swembad of onder ’n laken in die stof – lewend of dood – is so dikwels bloot dít: ’n vloekskoot.

Meer oor:  Menings  |  Waldimar Pelser  |  Zimbabwe  |  Stemme  |  Wag ’N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.