Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Watter reputasie verdien die DA?

Ek het gelag toe ek in Rapport lees die Universiteit Stellenbosch wil die debat oor taal “oorheers” met die stigting van ’n propagandakomitee, asof jy jou reputasie red nie deur anders te handel nie, maar deur beter oor jou bedenklike dade te kommunikeer.

Reputasies word nie gebou met dekrete of in veldtogte wat tevrede burokrate in raadsale opdroom nie.

Die publiek besluit oor jou reputasie op grond van wat hulle oor jou wéét. So is dit ook in die politiek.

Die ANC sal graag wil hê dat sy aanvanklik geduldige en later gewapende stryd teen die totalitêre apartheidsregering, die ootmoed van ’n vry Mandela, en die verskaffing van elektrisiteit, behuising en nou ook toelaes aan miljoene armes sedert 1994 sy reputasie bepaal.

Die dermuitrygery voor die Zondo-kommissie en konsekwent verdoemende verslae deur die ouditeur-generaal wys egter die ANC verdien eerder die reputasie van ’n misdaadsindikaat. In Business Day haal Jonny Steinberg die ontwikkelingsekonoom Albert Hirschman aan wat geskryf het oor sisteme van “onderdrukking van die swakkes deur die onbekwames en uitbuiting van die armes deur die luies”.

Lanklaas was daar ’n raker tipering van vandag se ANC.

Tog wys kiesers se volgehoue steun vir die ANC, ook in tussenverkiesings dié week, dat dit wat die kommentariaat reken die ANC se reputasie behoort te bepaal – soos die uitbou van staatsmag terwyl jy die staat aftakel – nie noodwendig dit is wat die meeste saak maak vir kiesers nie, wat ’n geduld met die “party van bevryding” toon wat ek dikwels sukkel om te verstaan.

Wat my by Suid-Afrika se amptelike opposisie bring, wat Woensdag weer bruin en wit Afrikaanse kiesers in tussenverkiesings verloor het, en wie se Phumzile van Damme Donderdagaand bedank het as DA-LP “weens ’n kliek” in die party.

Watter reputasie verdien die DA?

Soos met die ANC hang dit af wie jy vra.

Die DA wil hê sy reputasie moet bepaal word deur ’n beter geskiedenis van doeltreffende regering as enige ander party – kyk maar na skoon oudits jaar ná jaar in DA-beheerde rade, waar ryk én arm skoner water drink en op netjieser paaie ry, en kyk na hoeveel vinniger siekes gehelp word in staatshospitale in die een provinsie in DA-beheer. Talle van die DA se felste kritici looi die party vir wat die kwaai ouma op Twitter sê (“die nie-amptelike leier van die amptelike opposisie,” noem een van hulle Zille hierdie week), maar bid snags dat hul dorp of stad asseblief tog net in DA-hande bly.

Die DA wil spog met aktivistiese LP’s soos Annette Steyn, die enigste politikus wat help keer dat korrupte ANC-burokrate opkomende swart boere van plase in Mpumalanga gooi, of Leon Schreiber, wat vir die professionalisering van die staatsdiens baklei, seker die belangrikste voorwaarde vir die vestiging van ’n regering wat werklik pro-arm is.

Die DA sal wil wys op sy veldtog, saam met kleiner partye soos die VF Plus en burgerlike groepe soos AfriForum, teen onteiening sonder vergoeding, of sy bestorming van Wim-vormige windmeule op Stellenbosch, waar die party jare te laat besef het Afrikaans word wegbestuur – en dat dit dalk saak maak.

Voeg by tekens van suksesvolle ad hoc-vennootskappe met geswore teenstanders in die parlement: In Maart het die ANC-koukus die DA-LP Natasha Mazzone se mosie gesteun om adv. Busisiwe Mkhwebane te laat ondersoek. En die afgelope week het ANC-LP’s hul steun toegesê aan die DA se Dion George se private wetsontwerp wat werkers wil toelaat om voor aftrede hul spaargeld te gebruik om teen te leen.

Dis ’n gewaagde idee waarna selfs Cosatu nuuskierig kyk.

Die DA wil hê al hierdie goed moet sy reputasie bepaal, plus die tegnokraat Alan Winde wat ’n model-premier in die Wes-Kaap is en Covid-19 sekuur bestuur het . . . sonder om ’n sent te steel.

Bogenoemde is egter nie al wat kiesers sien nie.

Die party wat vroeër ’n leier met charisma maar geen rigting gehad het, het nou ’n leier met slim idees maar sonder die talent, so lyk dit, om veral Afrikaanse kiesers, wit en bruin, werklik weer opgewonde oor die DA te maak. Die DA wen steeds onder dié kiesers groot meerderhede, maar sy voorsprong krimp.

In diepblou Faerie Glen (Tshwane wyk 44) het die DA Woensdag 65% van die stemme gelok – ’n mooi meerderheid, maar 24 persentasiepunte minder as in 2016. Sy beste antwoord op die VF Plus, waarvan die steun van 4% in 2016 na 11% in 2019 en nou tot by 31% gegroei het, was om op Twitter ’n foto te deel van VF Plus-baniere langs ’n EFF-lessenaar by die woord EFF+, so asof die VF Plus aan die voorpunt van alliansievorming met die EFF was.

In die aanloop tot Oktober se munisipale verkiesing sal kiesers besluit wat vir hulle die belangrikste is: Is dit skoon bestuur, wat almal getuig hulle wil hê, of is dit 27 jaar ná demokratisering hoe jou party lyk, en die taal wat sy leiers praat?

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.