Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Watter wit mense het die grond gesteel?
Waldimar Pelser

Vir die eerste keer sedert 1994 praat álmal oor grond. Ons hoor aan die een kant boere se dringende vrae oor wat die regering se planne met onteiening sonder vergoeding kwansuis is en aan die ander kant die EFF wat eis: Nasionaliseer alles!

Onsekerheid in die landbougemeenskap is op ’n kritieke hoogtepunt, sê Dan Kriek van Agri SA Woensdag by Rapport en City Press se grond-indaba. Die rasretoriek van roekelose politici pla boere met reg. Tog plant en oes hulle steeds, hierdie besonderse spesie wat al vir jare soveel meer as die regering doen om swart boere te help slaag. Baie wit boere is die onbesonge helde van ware bemagtiging.

’n Paar van hulle het Woensdag saam gesit en luister hoe adv. Tembeka Ngcukaitobi lostrek oor waarom grondgesprekke pal in Engels plaasvind en toe die temperatuur verder opjaag deur die ingrypende rasgegronde wetgewing te wys wat vanaf die laat 19de eeu tot en met die Groepsgebiedewet vir swart mense voorgeskryf het waar hulle nie mag bly of grond besit nie. Die verraad was só groot. Dit was in baie gevalle kru onteiening sonder vergoeding op grond van velkleur.

Tog weet ons dat om in die verlede te boer mos geensins die probleme van vandag en môre kan oplos nie. Om in 1913 vas te haak kan nie ons kinders voed nie. Maar ten einde saam met ander bekommerde swart Suid-Afrikaners oor die pad vorentoe te praat, moet ons darem die basiese onreg toegee.

Baie wit boere is die onbesonge helde van ware bemagtiging.

Ek het begrip vir die pogings van AfriForum en die VF Plus om die narratief te beveg dat “wit mense die grond gesteel het”, maar so ’n walgooiery word maklik deur swart Suid-Afrikaners gesien as ’n ahistoriese ontkenning van onregte wat goed gedokumenteer is, selfs al mik dit soms bloot om veralgemenings en historiese dwalings reg te stel. Die ANC self het lank, lank gelede toegegee hoe kompleks die situasie was deur in die vroeë ’90’s te erken hoewel dit so is dat baie swart mense hul grond onwettig of onbillik verloor het, verreweg die meeste wit grondeienaars wat vandag grond besit, dit wettig bekom het. Daarom het die ANC besluit, soos uiteengesit in “Ready to govern”, om te streef na ’n “billike balans tussen die legitieme belange van die titelhouers en die legitieme behoeftes van diegene sonder grond en skuiling”. En daarom sal “vergoeding deur die staat in die nasionale belang ’n belangrike rol moet speel”.

Hierteenoor het die VF Plus se Pieter Groenewald Woensdag gesê dit is “heeltemal inkorrek” om te sê “die wit mense het die grond gesteel”.

Toe pres. Cyril Ramaphosa onlangs gesê het “geen boere” word vermoor nie, is joernaliste wat hulle voorgehou het as die lesers van Ramaphosa se gedagtes gekapittel dat hulle raai wat hy eintlik bedoel het en ek wil nie met Groenewald dieselfde fout maak nie. Tog reken ek dit sou meer korrek gewees het om te sê: “Wit mense wat vandag grond besit, het daardie grond nie gesteel nie. Nietemin het swart landgenote rede om verontreg te voel oor hoe grond van hul voorsate en soms van hulself weggeneem is. En selfs al het ek geen grond gesteel nie, verstaan ek dat hulle sê hul grond is deur ‘wit mense’ van hulle gesteel, want die regering van die dag was ’n regering van en vir wit mense.”

Ek begryp dat Groenewald en talle ander stemme bekommerd is oor die verdelende en oorvereenvoudigde narratief wat van die ander kant af aangebied word. Waarteen hy baklei, is die wanopvatting dat alle wit grondeiendom vandag illegitiem is, en dit is inderdaad verkeerd, al is dit presies wat die ANC in Desember by Nasrec besluit het, skryf Thabo Mbeki. En “gesteelde” goed kan mos teruggevat word . . .

Voorstanders van die “terugvat van gesteelde grond”, vernaam die EFF se voorsitter, adv. Dali Mpofu, is met ’n paar harde waarhede gekonfronteer. Prof. Peter Delius het daarop gewys dat soveel stamme op verskillende tye besit gehad het van soveel stukke grond dat daar op baie eiendomme vandag botsende en skynbaar onversoenbare grondeise bestaan. Kriek het gewaarsku rampspoed kom as ons aan eiendomsreg torring. Nick Serfontein het duidelik gemaak wat die ANC se Ronald Lamola later self sou erken: Die staat moet daarvoor blameer word dat grondhervorming misluk het.

’n Interessante perspektief is gedeel deur Bantu Holomisa, wat tussen Lamola en Mpofu stelling ingeneem het op die verhoog. Dit was naamlik dat ’n grondwetwysiging nooit gaan gebeur nie. Sy punt? Dit is duidelik die EFF eis nasionalisering van grond, terwyl die ANC die Grondwet slegs wil wysig om dit duidelik te maak dat die staat in uitsonderlike gevalle grond sonder vergoeding kan onteien.

Dalk is Holomisa reg: 66% sal die ANC in ’n stemming ontwyk. Maar terwyl die politici stry, bly ons verbind tot ’n rasionele gesprek waarin feite hárd praat terwyl ons ook mik om mekaar se verwagtinge oor grond te begryp.

Meer oor:  Wag 'N Bietjie  |  Grondberaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.