Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: Wie moet ons glo, Cyril of sy hologram?

Voor op die verhoog staan pres. Cyril Ramaphosa. Dit lyk of dit regtig hy is, nie die flonkerende hologram van hom wat Vrydag voor ’n gehoor in Rustenburg geprojekteer is nie.

Waldimar Pelser

Ek kyk op TV na die president van vlees en bloed se toespraak by die Beraad vir die Digitale Ekonomie in Midrand. Ramaphosa is links op die TV-skerm; regs is ’n beeld van die hologram-president wat ’n sekonde of wat later ook sy hologram-linkerhand lig om klem op iets te lê en wie se hologram-lippe ook byna in pas met dié van die lippe van die regte president beweeg as hy praat.

Onder op die TV-skerm rol nuusflitse verby: “Probe into KZN hospital after patient found with maggots in his mouth” en “N2 closed after night of protest at Plettenberg Bay”.

Die feit dat die president sy toespraak Vrydag gelyk op twee plekke gelewer het, is deur die presidensie beskryf as ’n teken van “Suid-Afrika se gereedheid om ’n leier in die vierde nywerheidsrevolusie te wees”. Dit was ook “die eerste regstreekse holografiese uitsending van ’n staatshoof”.

En dalk die eerste keer wat ’n Suid-Afrikaanse president aan twee gehore presies dieselfde gesê het . . .

Links op die TV sê die regte Rama­phosa aan sy gehoor ’n vriend het hom eendag aangeraai dat Afrika moet ophou om die Asiatiese ekonomieë te probeer nadoen en liewer net toeriste met natuurskatte moet probeer lok.

“Julle sal nooit inhaal nie. Fokus liewer op jul diere,” het die vriend, intussen oorlede, volgens Ramaphosa gesê.

“Ek het na hom gekyk en gesê: ‘Is jy ernstig?’ Ons gaan van die eerstes wees om die tegnologieë van die vierde nywerheidsrevolusie te implementeer. Ons moet voor die golf wees. Ons het dromers nodig in hierdie land. Dit is die geleenthede wat niemand anders sien nie wat die ware geleenthede is.”

Die een Ramaphosa sê die regte ding. Die ander predik ANC-dogma.

Ek dink die presidensie het hier só ’n geleentheid gesien – en dit aangegryp. Die aanwendingsmoontlikhede van die Ramaphosa-hologram is werklik opwindend. Terwyl die “regte” president markgedrewe regeringsbeleid verkondig, kan sy hologram-alter ego ANC-dogma preek.

Die “regte” pres. Ramaphosa kan beleggers verlei met beelde van IT-mekkas, sneltreine en kinders wat kan kodeer, terwyl die hologram-Cyril ontplooi kan word by ’n beraad van die onderwysvakbond Sadou, waar hy vir onderwysers wat volgens die jongste navorsing net 66% van die tyd voor hul klasse staan, kan sê: “Sadou is ’n groot bate, eerder as ’n las vir ons onderwysstelsel.” Hologram-Cyril kan dus doen wat die regte Cyril twee jaar gelede as adjunkpresident gedoen het, en sê: “Party mense hou nie van sterk vakbonde nie. Die ANC wél.”

Terwyl die “regte” pres. Rama­phosa die staatshoofde paai van hoofsaaklik Westerse moondhede by die G20-beraad in Osaka, Japan, kan hologram-Cyril die volgende ANC welwillendheidsbesoek verskoon of selfs stilswyend goedkeur aan Venezuela, waarvandaan ’n amptelike party-afvaardiging onlangs vol bewondering vir Chavizmo teruggekeer het.

Terwyl die “regte” Ramaphosa sê hy sal doen wat nodig is om Eskom te red, kan hologram-Cyril beloof geen van Eskom se meer as 48 000 werkers sal hul poste verloor nie.

Terwyl die “regte” Cyril op die wynplaas Beyerskloof sê hy wil wit jong mense aan die “bome vasmaak” sodat hulle bly en bou, asseblief, kan hologram-Cyril vir Julius Malema met sy volksmoord-fantasieë terugnooi na die ANC.

Langs Cyril-die-man in Midrand op die verhoog was die Gautengse premier, David Makhura. Vir hom kon Ramaphosa sê hy ondersteun sy plan om met e-tol weg te doen. Op dieselfde dag kon hologram-Cyril die foon optel na sy pel Tito Mboweni, minister van finansies, wat Vrydag sy standpunt herhaal het dat e-tol regeringsbeleid is.

Gepraat van Mboweni, ons sjarmante, snaakse, neoliberale minister van finansies, wat saam met die regte Cyril in Osaka was: Mboweni het al privatisering van staatsbates bepleit en die afgelope week oor gewelddadige betogers geskryf: “Die vernietiging van openbare eiendom en nie-betaling vir dienste MOET STOP! Dit lyk of ons ons eie vyande geword het.”

Die gevaar van hologram-Cyril, net soos die gevaar van politieke dubbelpratery, is dat ons nie meer weet watter Ramaphosa die regte een is nie.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.