Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar Pelser: ‘Womxn’ maak dié gesprek bespotlik

Sedert sy stigting in 2013 argumenteer die EFF dat die ANC- regering nie te vertrou is nie. Nou wil dieselfde EFF hê dieselfde regering moet beheer oorneem oor alle grond. Ek glo nie dit sal ooit gebeur nie, maar dat die EFF dit hoegenaamd vra, wys hoe oneerlik die party oor sy bedoelings is.

In sy pleidooi aan jong mense om hierdie naweek te registreer om te stem, skryf Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, dat (ouer) kiesers “ ’n staatsleierskap in stand hou vol korrupsie, staatskaping en wanadministrasie”. Die EFF betreur dit dan dat “beleid wat gelei is deur die mark” nie daarin kon slaag om grondhervorming voldoende te laat gebeur nie, al het ’n oudit deur die ekonoom Johann Bornman in Oktober bevind dat die grond wat sedert 1994 aan swart besit oorgedra is in kommersiële aankope dubbel soveel was as die grond wat na swart besit oorgedra is danksy die regering se grondhervormingsprojekte.

Ndlozi, wat darem vra dat Suid-Afrikaners “van alle rasse” aan grondgesprekke moet deelneem, gaan voort: “Oor die afgelope dekade en meer het reaksionêre magte versuim om vorendag te kom met alternatiewe beleid oor grondhervorming, en tog het hulle die vermetelheid om ’n demokratiese besluit te wil ondermyn.” Die demokratiese besluit synde verlede Dinsdag se mosie om ’n ondersoek te begin na veranderings aan die 1996-Grondwet ten einde onteiening sonder vergoeding nog makliker te maak.

“Nog makliker”, want onteiening sonder vergoeding was nog altyd onder streng voorwaardes moontlik.

Die eintlike “vermetelheid” is dat die EFF oneerlik is oor die rede vir ons grondprobleem, naamlik ’n gebrek aan politieke wil sedert 1996 en ’n korrupte amptenary (aldus ’n hoëvlakpaneel gelei deur oudpres. Kgalema Motlanthe). Nie een maal eien die EFF die ANC-regering as die eintlike verwoester van swart grondaspirasies nie. Dalk hou Ndlozi et al hul kruit droog vir wat hulle beskou as die land se eintlike probleem, naamlik ’n party (die DA) wat nog “witheid” duld.

                                                                                             ***

Van wit gepraat: In dieselfde week waarin ’n nuwe kinderboek (Onder my vel oftewel Skin We Are In) ons herinner aan die absurditeit van diskriminasie op grond van iets so onbenullig as ras, sirkuleer ’n lys polities hiperkorrekte woorde op die Matie-kampus. Dit is ’n kaart van die landmyne wat deesdae begrawe lê waar ook al gewone mense met mekaar gesels: Moet nie hiér trap nie, en beslis nie dáár nie, anders sal jy dalk aanstoot gee.

“Rassisme” word eweneens as iets beskryf wat slegs gepleeg kan word teenoor gekleurde mense.

Die Universiteit Stellenbosch se Transformasiekantoor wil gesprek aanwakker oor vrae soos: Is die woord “womxn” verkieslik bo “woman”, aangesien die woord “man” nog steeds in laasgenoemde vassteek? “Rassisme” word eweneens as iets beskryf wat slegs gepleeg kan word teenoor gekleurde mense.

Ek het ’n bietjie van ’n broertjie dood aan diegene, of dit nou ’n individu of die staat is, wat aan ander wil voorskryf hoe om te dink en praat. Dit is nie versoenbaar met hoe ek ’n “oop samelewing” verstaan nie.

Natuurlik moet ek toegee woorde kan kwetsend wees en dat strukturele ongelykhede steeds in ’n mate genormaliseer word deur die woorde wat ons kies om teenoor mekaar te gebruik. Dit is insgelyks waar dat taalgebruik en idiome verander. Dit gee uitdrukking aan marginale idees wat die norm word. Woorde wat eens in pas was met samelewingsnorme word vandag beskou as outyds, rassisties, seksisties, of bloot uit voeling.

Die k-woord is ’n (te) maklike voorbeeld. Daar is ook ander woorde wat geleidelik uit die mode raak.

’n Vriend vertel dat ’n kandidaat vir ’n skoolbeheerliggaamverkiesing Donderdagaand verwys het na sy “vroutjie”. ’n Gewaardeerde medewerker van my praat soms van “asters”. Hoewel geen kwaad bedoel word nie en hy vroue met respek behandel, kan die woord dui op ’n poging om vroue skadeloos te laat klink.

Maar wat bly oor van taal as ’n (enkele) persoon daarop aandring om “hulle” genoem te word ten einde ’n geslag- of genderkategorie te vermy?

Taal kan nie so ingerig word dat dit nooit enige aanstoot gee sonder om woorde óf van hul betekenis te stroop óf ons vryheid om onsself uit te druk weg te neem nie.

Om taal te manipuleer en polisieer sodat ’n woord soos “woman” onaanneemlik word, of sodat wit mense toegang tot die aanklag van “rassisme” verloor, of sodat “hulle” ewe skielik kan verwys na net een mens, maak niks heel nie. Dit kontamineer.

In ’n oop samelewing moet die onus rus op die een wat kies om aanstoot te neem om te illustreer waarom ’n woord ’n Trojaanse perd is waarin euwel beskaafde geselskap ingedra word.

Deur die betekenisse van woorde só te bevraagteken en gebruikers daarvan só verdag te maak, bevorder Maties allermins die oop gesprek waarna hulle sê hulle streef. Dit maak eerder ’n projek bespotlik wat hom met werklike ongeregtigheid behoort te bemoei.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.