Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waldimar: Tyd vir Groot Trek weg van ekstreme

‘Die ekstremis is altyd min of meer gevaarlik, maar nêrens is hy gevaarliker as in die politiek nie. In ’n land soos ons s’n gaan die kuns van regering veral daaroor om verskille met mekaar te versoen eerder as om daardie verskille te beklemtoon.”

Nee, hierdie is nie iets wat ek die afgelope week op Jacaranda FM gehoor of gelees het op die Facebookblad van die soveelste wit mens wat aandring op ’n oog vir ’n oog in die nadraai van die Tumi Morake-debakel nie.

Dit is die woorde uit 1931 van Mackenzie King, legendariese eerste minister van Kanada, aan ’n ondersteuner van die Liberale Party.

King se sober opmerking het my laat verlang na ’n plek wat ek nie meer ken nie, ’n plek wat op die meeste kaarte van Suid-Afrika se politieke landskap omtrent nie meer bestaan nie: Die middelgrond.

Aan topografiese ekstremiteite het ons geen tekort nie: Van die dramatiese kuslyn tot die lemagtige bergspitse spog ons land met geografiese uitskieters. ’n Mens vergeet maklik van die doodgewone tussenin.

Ons vingers is deesdae ewig gereed om ’n vernietigende twiet af te vuur.

Net so, in die nasionale gesprek, is die ekstreme tans oordonderend. Louwarm is passé. Dié wat die kuns probeer beoefen om verskille met mekaar te versoen in ’n land wat ooglopend van verskille bars, en waarin daar geen politieke leiers is wat ekstreme met mekaar kan versoen nie, is sissies.

Ons fikseer en reageer eerder op Black First Land First se anti-wit-propaganda, hul blatante haatspraak, hul oproepe tot geweld, asof dit aanduidend van die “swart mening” is.

En ons raak rasend oor Steve Hofmeyr of oor die reaksie op die omroeper Tumi Morake se poging om swart pyn op radio te verwoord, asof dit aanduidend van die “wit mening” is.

Is dit?

Is ons voorkeur-antwoord op ’n gebroke gesprek werklik om elke keer in die oortreffende trap te reageer, om haatspraak te skree, om ’n klag in te dien?

Ons vingers is deesdae ewig gereed om ’n vernietigende twiet af te vuur, die sneller op Facebook te trek, die wandade teen ons in kommentaar­kolomme te wreek.

Kyk na sosiale media en sien self: Suid-Afrikaners is fyngevoelig, aggressief en rassisties. Ons gun mekaar niks en verseg te gereeld om mekaar se pleidooie aan te hoor.

Ek skryf nie vir ’n swart gehoor nie – Rapport se lesers is oorweldigend wit en bruin. So dit loon nie om daardie minderheid swart Suid-Afrikaners wat wurms in hul breine het, wat mense soos ek dood wens, hier te woord te probeer staan nie.

Ek kan my net beroep op die ordentlikheid wat ek glo oorweldigend aanwesig is in die gemeenskap waarvan ek ’n lid is wanneer ek vir ’n 2017-“Groot Trek” na die middelgrond pleit.

Kom ons slaan tent op daar waar ons dié wat anders dink en lyk as ons by die watergat sal raakloop.

Ek glo nie Tumi Morake is ’n vyand van wit mense omdat sy haar mond uitgespoel het oor die dralende verontwaardiging van swart Suid-Afrikaners van wie verwag word om hul bitterheid te bêre nie.

Afrikaners veral behoort daarvoor waardering te hê dat die verhale van ongeregtigheid teen ons eie mense vir geslagte nog oorvertel is, en dat die verhale van ongeregtigheid teen swart Suid-Afrikaners nog vir lank oorvertel sal word.

Dis nie ’n patologie nie. Dit is doodnormaal.

Dit beteken nie dat ek glo dit is produktief om in die verlede te leef nie – ons voorouers het self besef dat jy in ’n stadium moet aanbeweeg. Maar dit was nie ’n Brit wat hulle indertyd tot dié insig gebring het nie. En dit het gebeur – in daardie gevalle waar aanbeweeg hoegenaamd ’n opsie was – wanneer hulle self gereed was daarvoor.

Wit mense kan nie vir swart of bruin mense voorskryf hoe hulle hul eie subjektiewe pyn oor wat met hulle of hul ouers en dié se voorouers gebeur het, moet verwoord nie. Dis gewoon nie ons plek nie.

As elke kwetsende of ongemaklike opmerking deur swart Suid-Afrikaners beantwoord gaan word met ’n pleidooi vir vergelding, of ’n boikot à la Spur, dan gaan ons die voornemende setlaars opnuut van die ideologiese middelgrond verjaag. Ons kan ’n oog vir ’n oog nie bekostig nie.

Meer oor:  Waldimar Pelser  |  Dis Die Punt
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.