Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Walvisse se lot vandeesweek op spits gedryf

Die lot van walvisse, daardie soogdiere wat ons so opgewonde maak as ons hulle in die see sien speel, word vandeesweek bepaal. Afgevaardigdes van etlike lande kom van vandag af in Florianópolis, Brasilië, byeen vir die 67ste vergadering van die Internasionale Walviskommissie (IWK).

Dié byeenkoms is baie belangrik omdat 89 lidlande die volgende tien dae debat sal voer en uiteindelik sal stem oor die hervatting van kommersiële walvisjag. As hulle stem dat walvisse weer soos in die laat 19de en 20ste eeu op groot skaal kommersieel gejag kan word, beteken dit die moratorium wat in 1986 op dié aktiwiteit geplaas is, sal opgehef word.

Wetenskaplikes en bewaringsorganisasies is op hul agterpote hieroor. Die Environmental Investigating Agency (EIA) het verlede week in ’n verslag gesê Japan gaan “als in sy vermoë doen” om weer toegelaat te word om walvisse kommersieel te jag.

Ondanks die moratorium het Japan, saam met Ysland en Noorweë, die afgelope 32 jaar meer as 38 500 walvisse gejag. Japan jag walvisse vir “wetenskaplike navorsing” en Ysland en Noorweë beskou dit as deel van hul kultuur.

Maar hul agterbaksheid is ook in die verslag ontbloot: Dié twee lande stuur jaarliks tonne walviskarkasse na Japan. Japan se “navorsing” word al jare lank as ’n skande in wetenskaplike kringe bestempel. Dit is ook algemeen bekend dat Japan dit as dekmantel vir kommersiële walvisjag gebruik.

Niemand kon nog regtig vasstel wat Japan met die vleis maak nie omdat moderne Japanners dit nie eet nie. Sommige ondersoeke toon hulle maak troeteldierkos daarvan of gaar die walvisolie op.

Walvisjag is wreed en dit neem sommige van hulle, soos die blouwalvis, tot ’n halfuur om te vrek.

Walvisjag is wreed en dit neem sommige van hulle, soos die blouwalvis, tot ’n halfuur om te vrek.

Die EIA sê die mensdom moet sy kop in skaamte laat sak oor walvisjag in die 20ste eeu. Tot en met 1986 is 2,9 miljoen walvisse gejag. Die spermwalvis en die suidelike noorkapper het in dié tyd byna uitgesterf. Dit is toe dat die IWK besef het ’n moratorium op walvisjag is nodig. Suid-Afrika was self een van die grootste sondaars en het ’n walvisstasie by die Bluff in Durban gehad.

Dit is ’n groot uitdaging vir wetenskaplikes om die see en sy inwoners te bestudeer omdat dit so groot, uitgestrek en heeltyd aan die beweeg is. Tog het navorsing wat die laaste paar dekades gedoen is, wonderlike ontdekkings opgelewer.

Soos dat walvisse – net soos olifante op land – die “ingenieurs van ekostelsels” is. Wetenskaplikes het gevind dat bultrugwalvisse byvoorbeeld die oseaanbodem versteur wanneer hulle afduik om te gaan vreet. Voedingstowwe wat op die oseaanbodem lê, beweeg dan deur waterkolomme na die seeoppervlak sodat seevoëls dit kan vreet.

Wanneer walvisse op ’n natuurlike manier doodgaan, stel hul karkasse ook allerlei voedingstowwe vry waarvan ander seediere leef.

Suid-Afrika het jaarliks ’n verteenwoordiger by die IWK. Wat dáár meestal agter geslote deure afspeel, is ’n stemkopery en ’n politieke spel. Geld speel gewoonlik die grootste rol.


Meer oor:  Iwk  |  Elise Tempelhoff  |  Dierebeskerming  |  Seelewe  |  Wild  |  Walvisse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.