Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wanneer die mistigheid oor Lootsberg lê
Gerhard Verdoorn

Die nanag se sagte reën hardloop soos die voetval van duisende miere oor die berg. Vlae druppels sweef oor die aarde en sypel in die dorstige grond wat vier somers laas die hemel se sluise sien oopmaak het. Deur die druppels prewel die oostewind ’n seëning vir die dorre aarde om uit die dode op te staan waar die skedel van ’n vergane wildsbok grynsend in die klam grond geanker lê.

Sterre is vergete in die malende mistigheid wat oor Lootsberg lê, met net ’n dowwe maan wat rakelings sy lig oor die kranse drapeer.

Teen eerste lig draai die mistigheid in kolke uit valleie na die ou berg se hange op. Die reën het op die oostewind vertrek en net die ligte asem van die aarde steun uit valleie waar stroompies water viool oor die dorre grasse stryk.

Rooiribbokke skud wolke sproei van hul lywe af waar hulle teen die hange die dag inwag. In die ooste is daar nog net ’n gedagte van ’n dowwigheid, want die reën se wasemkombers lê vas geanker oor die vlaktes heen.

Uit die mistigheid verrys ’n forse gestalte met huid glinsterend in die eerste skynsels van die nuwe dag. Strepe loop soos fonteine oor sy rug af en maanhare wuif ’n welkomgroet vir die nuwe dag.

Draaiende horings staar soos periskope oor die hange heen en die groot ore vang die eerste geselsies van die bergpatrys onder teen die waterval op.

Draaiende horings staar soos periskope oor die hange heen en die groot ore vang die eerste geselsies van die bergpatrys onder teen die waterval op.

Neusvleuels drink dankbaar aan die nuwe reuk van aardse lewe, voortgebring deur die vlae van reën en in sy geestesoog sien hy weer die hange wuiwend in die grasse staan.

Agter hom staan die res van sy harem met droogte-kalwers wat nog lyf moet kry. Die ore draai geluidloos en skep die sagte stemme van die eerste lig terwyl die aarde stoom uitsweet soos die water sy siel insypel.

Die koedoes staan versteen. In die verte dreun die waters teen die kranse af waar miljoene druppels in die sloot mekaar na die afgrond jaag. ’n Otter hap speels na die kabbelende waters voor hy onder die stroom se wit baarde verdwyn.

Rooiribbokke fluit skielik en die groot gryse se ore draai. Die reuk wat oerinstink soos vuur deur hom jaag, daal oor die hange af en hy brul ’n diep blaf wat teen die kranse galm.

Onder die oorhang blaas die luiperd geïrriteerd omdat sy pels deurnat is en hy antwoord die koedoe met ’n sagte grom.

Die ribbokke bokspring teen die ander hang uit en smelt in die mistigheid weg.

Die draaihoring staar net stip na die oorhangkrans, maar die mistigheid trek geheimsinnig die gordyne toe.

’n Windjie speel met pelse en jaag spatsels reënwater aarde toe. Hy draai sy kop bergkant toe en flits ’n uitdaging vir die luiperd met die eerste lig se glim op sy draaihorings.

Dan beweeg die trop geluidloos oor die veld met ore wat die oostewind se stemme tel en verdwyn soos spoke in die mistige asem van Lootsberg.

Meer oor:  Gerhard Verdoorn  |  Omgewing  |  Natuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.