Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wanneer gaan mans opstaan?
Amanda Gouws.

Onlangs het ons vir die eerste keer op nasionale vlak die aktivisme van vroue teen seksuele geweld gesien met #TheTotalShutdown.

Die vroue in rooi en swart met plakkate met slagspreuke soos “my body is not your crime scene” en “respect my existence meet with resistance” was ’n duidelik breuk met vervelige toesprake van vorige Vrouemaande.

Hoekom het dit so lank geneem vir vroue om tot hierdie stap oor te gaan?

Toe ’n groep mans Anene Booysen in 2013 verkrag, geskend en vir dood agter gelaat het, het stemme landwyd opgegaan oor hierdie ongeregtigheid.

Oudpres. Jacob Zuma het ’n nasionale raad op geslagsgeweld aangekondig, daar is beloftes gemaak om weer geslagsmisdryfhowe in te stel, en om bronne aan die Thuthuzela-versorgingsentrums by polisiekantore te vermeerder.

’n Maand voor Booysen se dood was daar ’n soortgelyke voorval in Indië. Dit het onmiddellik aanleiding gegee tot grootskaalse protes wat vir weke aangehou het. Die regering daar was verplig om ’n komitee van ondersoek onder die voorsitterskap van ’n regter aan te stel. Van die uitkomste was wetshervorming rondom verkragting.

Protes kan nie die enigste manier wees om politici verantwoordbaar te hou nie.

Maar vyf jaar later wag ons nog steeds vir die raad op geslagsgeweld. Die herinstelling van die howe is stadig, en die Thuthuzela-sentrums funksioneer nog steeds met te min hulpbronne.

Protes kan nie die enigste manier wees om politici verantwoordbaar te hou nie. En waarom is daar ’n gebrek aan politieke wil om geweld aan te pak, met 49 660 aangemelde verkragtings in 2016-’17 alleen?

Vroue het mans versoek om nie deel te neem aan die optogte nie. Daar was ’n gevoel dat vroue moet standpunt inneem teen geweld. Mans, as bondgenote, moet werk met ander mans wat betrokke is by geweld.

Verlede week het Khensani Maseko, ’n belowende student en toekomstige leier aan die Rhodes-Universiteit haarself om die lewe gebring nadat sy verkrag is.

Dit is asof #EndRapeCulture nog steeds nie deurgedring het tot die institusionele kulture van universiteite nie. #MeToo het gewys hoe diep gesetel seksuele teistering is en hoe wydverspreid dit globaal voorkom.

Wat is dit omtrent manlikheid dat baie mans vroue met soveel minagting behandel?

Wat is dit omtrent manlikheid dat baie mans vroue met soveel minagting behandel? Wat is dit omtrent mans se selfrespek dat iemand anders se liggaam misbruik kan word sonder om sleg daaroor te voel? Hoe word seuns en jong mans gesosialiseer wat almal ma’s en miskien susters het om te dink dat hierdie gedrag aanvaarbaar is?

Verkragting laat baie ernstige sielkundige letsels. Dink hierdie mans daaraan dat teen die tempo waarteen verkragting in Suid-Afrika plaasvind, die vroue waarmee hulle eendag wil trou, heel moontlik slagoffers kon wees? Hoe voel hulle daaroor?

Ons kan soveel meganismes as moontlik skep om verkragting ná die tyd te hanteer, maar ons sal voorkomend moet begin optree.

Hoe is dit moontlik dat twee jaar ná #EndRapeCulture dieselfde praktyke en gebruike nog steeds by die Rhodes-Universiteit voortgaan – en sekerlik by ander universiteite ook?

Die woord “giftige manlikheid” (toxic masculinity) het inslag gevind in ons taalgebruik. Een van die grootste rolmodelle van giftige manlikheid is Donald Trump met sy gedrag teenoor vroue en die goed wat hy oor vroue sê.

Die media is vol giftige manlikheid. Universiteitskoshuise is vol giftige manlikheid. Seuns en jong mans het beter rolmodelle nodig. Ek wag vir die dag dat mans ’n optog teen geslagsgeweld hou. Oplossings vir seksuele geweld kan nie alleenlik vroue se verantwoordelikheid wees nie.

Gouws is professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Amanda Gouws  |  Mans  |  Verkragting  |  Geweld  |  Seks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.