Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wanneer gaan ons tog mekaar as mens erken?

Die onlangse Twitter-onderonsie tussen onder andere Helen Zille, Wes-Kaapse premier, die akteur Hlomla Dandala en adv. Thuli Madonsela, voormalige OB, oor wit- en swartbevoorregting, het die oë laat rek.

Die inhoud daarvan getuig nie net van ongeheelde verhoudinge en diepliggende ongelukkigheid nie, maar toon veral hoe ver ons as Suid-Afrikaners nog moet gaan om mekaar net as mense te sien.

Dit het ook hierdie vrae by my laat ontstaan: Gaan ons ooit die dag bereik wanneer ons nie meer die apartheidstroefkaart speel nie, nie meer mekaar kategoriseer in rassegroepe nie, en of ons die kwade van kolonisasie ooit sal kan oorbrug en die tentakels daarvan sal kan afskud? En is dit in ons bloed en beskik ons oor die vermoë en wilskrag om dit wel te wil doen?

Die probleem met sulke gesprekke op sosiale media is nie net dat ons mekaar kan misverstaan, of dat dit wat ons kwytraak ons gewoonlik nie bereid sal wees om van aangesig tot aangesig vir mekaar te sê nie. Of erger nog, dis nie net dat sulke gesprekke rassehaat voed om as ’n onoorkoomlike vyand voort te leef nie.

Die probleem is dat ons mekaar gevange hou in die boksies waarin ons mekaar plaas, en dat ons opvattings, vooroordele, persepsies en historiese kennis van mekaar ons gevange hou.

Suid-Afrika met al haar politieke, sosiale en ekonomiese probleme kan nie bekostig om gedurig daaraan herinner te word dat ons swart of wit of wat ook al is nie.

Suid-Afrika met al haar politieke, sosiale en ekonomiese probleme kan nie bekostig om gedurig daaraan herinner te word dat ons swart of wit of wat ook al is nie.

Die land kan nie bekostig om rassehaat op watter manier ook al aan die lewe te hou nie, of om deur jongmense of die internasionale gemeenskap gesien te word dat ons nie met rassisme, stereotipering, onverdraagsaamheid of onversoenbaarheid kan handel nie.

Dit sal ’n bittere dag wees as dit blyk dat ons nie oor die potensiaal beskik om rassehaat dood te leef, versoening te bevorder, verdraagsaamheid te versterk, en vrede en veiligheid te bewerk nie.

En dit sal ’n nare dag wees as ons die wêreld laat glo dat ons nié die gesindheid of ingesteldheid het om mekaar – ongeag kleur, geloof, geletterdheid, seksuele oriëntasie, politieke affiliasie, status en gesondheid – as mense kan aanvaar nie.

Dit sal ’n wonderlike dag wees wanneer ons mekaar as Godgeskape wesens sal kan aanvaar; dit sal ’n bevrydende dag wees wanneer ons almal daartoe verbind is om enige vorm van stereotipering of kategorisering te vermy.

En dit sal ’n salige dag wees as ons, soos Galasiërs 3:28 (“Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”) ons leer, verby ons verskille, die mens kan sien.

Só bou ons ’n land waar mense mekaar as mense sien, behandel en respekteer.

  • Dr. Katts is ’n voormalige moderator van die Volkskerk van Afrika.
Meer oor:  Donald Katts  |  Helen Zille  |  Rassisme  |  Wit Bevoorregting  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.