Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wanneer hou dié dinge op?

Hy wonder hoe lank ons nog opgeskeep sal wees met twiste oor ras wat ons brose eenheid bedreig, vra Willem Fransman jr.

Lede van die EFF betoog verlede week voor ’n Clicks-winkel in Soweto. Foto: AP

Die grap word vertel van drie leiers – Ronald Reagan, Michael Gorbatsjof en PW Botha – wat eens op ’n tyd saam gekuier het.

Hulle het oor hul eiesoortige probleme begin gesels. Reagan het die wêreld in daardie stadium van sy “constructive engagement” met Suid-Afrika probeer oortuig. Gorbatsjof het pas sy idees van glasnost en perestroika – oftewel politieke openheid – met sy mede-Russe gedeel.

En PW Botha het gesels oor sy Nasionale Party-regering se beleid van gedwonge skeiding tussen mense van verskillende rasse.

Reagan het voorgestel dat hulle by God self uitvind hoe lank hulle nog gaan sukkel om hul landgenote van hul idees te oortuig.

Reagan het gehoor sy idee sal so binne twee jaar posvat, beslis nog in sy eie leeftyd. Gorbatsjof het gehoor hy sal binne ses maande as een van die beste Russiese leiers ooit beskou word en sy idees sal beslis binne sy eie leeftyd deur die meeste Russe gesteun word.

Botha het gesê sy party probeer mense al sedert 1948 vergeefs oortuig dat apartheid sal werk.

“My Liewe PW,” moes hy hoor, “jul probleme in Suid-Afrika sal moeilik opgelos word. Maar van een ding is ek seker: Dit sal beslis nie in my leeftyd gebeur nie!”

Ons harte het só van die trots geswel dat ons borskaste amper te klein was om dit binne te hou.

Sedert ons eerste demokratiese verkiesing in 1994 waarna Nelson Mandela ons president geword het, het ons geglo dit sal onvanpas wees om dié grap ooit weer te vertel.

Ons het die een hoogtepunt ná die ander beleef.

Ons het die Wêreldbeker-rugbytoernooi gewen en sokker se Afrika-beker ook. Ons het krieket en sokker se Wêreldbeker-toernooie met groot sukses aangebied.

Ons harte het só van die trots geswel dat ons borskaste amper te klein was om dit binne te hou.

Dit was goed en lekker om in “Mandela-land” te bly. Suid-Afrika was nie meer die muishond van die wêreld nie.

Toegegee, daar was krisisse, maar ons het dit te bowe gekom. Ons het nooit op die rand van moedeloosheid beland nie.

Saam teen Covid-19 . . . en toe die advertensie

’n Kennisgewing by ’n Clicks-winkel in Goodwood vertel die storie van die gewraakte advertensie. Foto: Jaco Marais

Selfs toe die Covid-19-pandemie in Maart uitbreek, was daar tye wat ons as ’n nasie saamgestaan het.

Ons het gedoen wat ons president van ons gevra het. Ons het ontsmet, gemasker en by die huis gebly. Party het wel met sigarette gesmokkel en ander het alkoholiese konkoksies van omtrent enigiets denkbaar gestook.

Maar mense het verborge deugde herontdek en oorlewingsplanne gemaak.

Ons het uitgereik na dié wat minder as ons het. Selfs die vreemde versoeke van minister Ebrahim Patel is gehoorsaam.

Die geveg tussen die Black Lives Matter-groep en die All Lives Matter-groep het al aan ons eenheid weggekalwe toe die haar-advertensie ons tref.

En glo dit as jy wil, selfs die politieke partye het vir ’n slag uit een mond gepraat. Dit was asof daar ’n ongekende krag van hulle na ons toe gevloei het.

Toe die staat van inperking van vlak 5 tot vlak 4 verlig is, het ons as nasie moed gekry. Ons het nog beter gevoel toe dit van vlak 3 na vlak 2 verskuif het.

Maar met die munisipale verkiesing van 2021 net om die draai, het sekere opportunistiese partyleiers besluit die tyd is ryp om ’n streep in die sand te trek.

Die geveg tussen die Black Lives Matter-groep en die All Lives Matter-groep het al aan ons eenheid weggekalwe toe die haar-advertensie ons tref.

Willem Fransman jr.

Dit was die perfekte vonk vir die Rooi barette om ons brose eenheid as ’n nasie tot die uiterste te beproef. En die hele kleur-ding het ons samelewing weer van vooraf oorheers, net toe ons begin dink het dat velkleur en haartekstuur nie meer so voorop gestel behoort te wees nie.

Vir bykans twee en ’n halwe dekades het ons afgeleer om “wit” as standaard na te strewe. Ons het ons identiteit as Afrikane en verbintenis met die res van Afrika vuriglik omarm.

Maar dié enkele haar-advertensie het alles wat lelik is en wat ons soms met rou wonde gelaat het, weer kom oopruk. Ons jong demokrasie het sulke onnadenkende advertensies beslis nie nodig nie. “Thoughtless words may break a link that time can never mend.”

Die hartseerste van hierdie ding vir my en my gesin is dat my dogter met ’n wit man getroud is. Ons het die mooiste kleinkind, wat vir enige samelewing tot seën sal wees.

Ek wil glo dat my kleinkinders in die toekoms hierdie gemors gespaar sal word.

Dié soort bakleiery ná die advertensie het ons regtig nie nodig nie. Ons het so gehoop dat ons rasseprobleme in hierdie pragtige land teen dié tyd al iets van die verlede sou wees.

Ek wil egter glo dat my kleinkinders in die toekoms hierdie gemors gespaar sal word.

Maar terug by ons grap. Ek kan verkeerd bewys word, maar terwyl die hare-betogers so aanjaag, kom die woorde van David Kramer se liedjie “Skipskop” by my op: “wanneer hou die dinge op?”

Soms lyk dit vir my of dit beslis nie in my leeftyd gaan gebeur nie.

* Fransman is ’n skrywer en vryskutjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.