Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wanneer is ’n konflik, oorlog geregverdig?

Verskeie mites is vandeesweek weer met die herdenking van die Geallieerde inval in Normandië 75 jaar gelede verkondig.

Een daarvan was dat dit die keerpunt van die oorlog was. In werklikheid was die keerpunte van die oorlog vroeër: In Desember 1941, toe die Duitse poging om Moskou te verower in die Russiese yshel misluk het; in November 1942, toe die Britte die Duitsers by El Alamein in Egipte gestuit het; en in Februarie 1943, toe die oorlewendes van die gehawende Duitse Sesde Leër in Stalingrad moes oorgee.

’n Tweede mite was dat D-dag – en die finale Duitse kapitulasie tien maande later – die oorwinning van goed oor kwaad was.

Inderdaad, byna nooit in die geskiedenis was daar só ’n misdadige regime soos dié van Adolf Hitler nie. Maar die feit dat die Hitler-regime die versinnebeelding was van alles wat sleg was, beteken nie dat sy teenstanders vlekkeloos goed was nie.

Die Duitse historikus Peter Lieb het in sy boek Unternehmen Overlord (2015) bewys dat veral Amerikaanse soldate hulle op die slagveld net so skuldig aan oorlogsmisdade as die Duitse Waffen-SS (byvoorbeeld die doodskiet van krygsgevangenes) gemaak het.

Bowendien het die Geallieerdes die feit dat hulle vir ’n goeie saak geveg het, besoedel deur hul grootskaalse lugaanvalle op Duitse en Japanse stede, waarin etlike honderdduisende burgerlikes, met inbegrip van bejaardes, vroue en kinders, gesterf het.

En ten slotte het die Sowjetunie se opmars in Oos-Europa met grootskaalse massamoorde, massale verkragtings van vroue (selfs bejaardes) en uitgebreide plundering gepaardgegaan.

Daarby is 15 miljoen Duitsers gedwing om te vlug uit die gebiede wat deur die Sowjets ver­ower is. Nagenoeg 2 miljoen Duitse vlugtelinge het in dié verskriklike omstandighede gesterf.

Die Westelike Geallieerdes het vir ’n goeie saak geveg, maar dit met hul eie oorlogsmisdade besoedel.

Ek wil nie verkeerd verstaan word nie. Níks van wat hier genoem is, kan ’n gram van die Nazi’s se oorlogskuld en gruwelike misdade wegneem of relativeer nie. Dis nie soos ’n hoeveelheid botter wat jy dunner oor twee snytjies brood smeer nie. Op albei snytjies is die botter ewe dik gesmeer.

Die Nazi’s was skuldig aan die kil, doelbewuste volksmoord op ’n geskatte ses miljoen Jode in ’n poging om dié groep uit te wis. Dat die Geallieerdes óók oorlogsmisdade gepleeg het, kan dit nóóit uitwis of kanselleer nie.

Sedert die kerkvader Augustinus in die vyfde eeu het talle teoloë gefilosofeer oor wanneer ’n stryd as ’n geregverdigde oorlog (just war) beskou kan word. Oorkoepelend moet aan twee vereistes voldoen word. Die eerste word genoem Jus ad bellum, wat beteken jy moet vir ’n goeie saak veg. Die tweede is Jus in bello, oftewel dat jy op die regte manier moet veg.

Die Westelike Geallieerdes (nie die Sowjetunie nie) het vir ’n goeie saak geveg, maar dit met hul eie oorlogsmisdade besoedel.

Meer oor:  Herdenking  |  Konflik  |  Oorlog  |  Geregverdig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.