Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Want oudword begin mos eers oor vyftien jaar
Annelie Botes

In die bestek van net een geslag het dit gebeur dat bejaarde mense nie meer deurgaan as bejaard nie. Merendeels bly hulle veerkragtig en lig van gees tot in hulle verre tagtigs.

As ek een geslag terugblaai en na my pa en sy garde kyk, sien ek horingou mense. Hulle het kruisbande gedra en stadig geloop.

Hulle het muwwerig geruik en heeldag by die draadloos gesit. Hulle kon nie meer bergklim of langpad bestuur nie. Hulle het elke dag rys, vleis en aartappels en kookgroente geëet, en saans agtuur gaan slaap.

Nie dat daar iets verkeerd is daarmee nie, maar hulle horisonne het nie wyd gelê nie.

Juis laasweek sien ek op kykNET se Met ’n huppel in die stap hoedat 80-jarige tannies op 4x4-toere gaan. Bejaarde egpare wat op Harley- Davidsons rondrits en valskerm spring.

Nie lank gelede nie het ek gelees van ’n oom wat op sy 100ste verjaardag ’n valskermsprong gewaag het. En hy het glimlaggend anderkant uitgekom – met sy enkels en knieë en heupe nog perfek in lit.

Op pad huis toe ná die VLV skrik ek by die gedagte dat ek aan haar dink as ’n “tante”. Want sy is net 16 jaar ouer as ek.

By verlede maand se VLV-aandvergadering vertel ’n tante van 78 dat sy daardie aand vroeg in die bed wil kom, want môreoggend gaan sy haar wenkbroue laat ta­toeëer en toonnaels laat doen. En sy wil nuwe gimklere kry, want oor ’n week ry sy Stellenbosch toe om haar suster te gaan versorg ná ’n rugoperasie.

Op pad huis toe ná die VLV skrik ek by die gedagte dat ek aan haar dink as ’n “tante”. Want sy is net 16 jaar ouer as ek. En ék voel wesentlik niks ouer as toe ek in my vroeë twintigs was nie.

Op 66 was my pa, en vele van sy tydgenote, afgeleefde mense wat nie meer nuwe skoene gekoop het nie. Want waarvoor? Nou is die gryse 66 en hy klim nog leer en snoei bome en bou pergolas en lê teëls en ry gemaklik binne ’n dag tot in die Kaap.

Net nou die dag was hy vir drie maande die skipper op ons kanaalboot van 18 ton op die Engelse kanale. Sonder kraakpyne of ’n rug wat aan ’n seninkie hang; met al sy loodgieterspype nog in goedvloeiende toestand.

Dis iewers op ons horison om te gaan motorfiets ry in die berge van Indië. En om vir drie maande met ’n motorwoonwa deur die Italiaanse platteland te toer en saans in kroeë te gaan deelneem aan volksdanse.

Dis ondenkbaar en grensend aan lagwekkend om mý ouers in hulle middel sestigs op ’n motorfiets in die berge van Indië voor te stel. Of ounag, swetend in ’n Italiaanse kroeg.

Die Amerikaanse filantroop en staatsman Bernard Baruch het gesê: “To me, old age is always 15 years older than I am.”

Maar hy is in 1870 gebore, ’n eeu voor die omwenteling in die oudwordproses. Hy was al op die hakskene van 60 toe penisillien in 1928 deur Alexander Fleming ontdek is.

Vandag se dae is 70 die kuikendae van bejaardheid. Dan stap ons nog die Otter-wandelpad en ry die rooiduine in die Kalahari. Want oudword begin eers oor 15 jaar.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Pensioen  |  Ouderdom  |  Oudword
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.