Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Warm debat oor superslim African Grey

Mense het die African Grey-papegaai (Psittacus­ erithacus) “tot die dood toe lief”. Dit was die woorde van ’n voormalige direkteur van die Amerikaanse vis-en-wildlewe-diens op COP17, die 17de beraad van die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) wat in 2016 in Sandton gehou is.

Elise Tempelhoff

Ek kan onthou hoe die vere gewaai het oor dié geliefde papegaai, waarvan miljoene hul lewe in hokke slyt, die meeste daarvan in Suid-Afrika, waar hulle in agterplase vir die troeteldierbedryf geteel word.

Sommige telers – van wie daar meer as 1 600 in Suid-Afrika is – het seker moderne teelsentrums en skep honderde werkgeleenthede, maar dit maak die teel van wilde voëls vir die troeteldierbedryf en dieretuine nog glad nie eties nie.

Die African Grey, wat as een van die slimste voëls ter wêreld gereken word, word in aanhouding tot 60 jaar oud. Navorsing het gewys hulle kan honderde woorde aanleer. Hulle het glo die verstandelike vermoë van ’n kind van vyf.

Daar is baie geld by die bedryf betrokke. In ’n verslag wat onlangs verskyn het oor die handel in bedreigde spesies wat in Suider-Afrika in die natuur gevang, geteel en na ander lande uitgevoer word, is daarop gewys die African Grey het van 2004 tot 2015 R4,8 miljard vir Suid-Afrika verdien.

Ontstelde telers het die laaste tyd heftig gereageer op “negatiewe” berigte wat in Beeld oor dié papegaai verskyn het. Een teler het aan my ’n boodskap gestuur om te sê die meeste telers in Suid-Afrika doen “alles wettig” en het permitte wat deur “natuurbewaring” uitgereik is. Die skrywer van die berigte maak telers “verdag”.

Telers beweer hulle teel ook die papegaai omdat die voëls besig is om in die natuur uit te sterf. Só word die papegaai dus in een hok geteel net om die res van sy lewe in ’n ander hok deur te bring. Dis juis hier waar die knoop lê: Die telery van die African Greys het niks met natuurbewaring uit te waai nie. Die argument word ook deur die telers van die geblikte leeubedryf gebruik en oningeligtes eet dit vir soetkoek op.

Die telery van die African Greys het niks met natuurbewaring uit te waai nie.

Maar kom ons kyk na die feite. In die afgelope 30 jaar is bykans 2 miljoen van die papegaaie uit hul natuurlike habitat – onder meer die Demokratiese Republiek van die Kongo, Ghana en Uganda – gevang.

Peilings dui daarop dat die African Grey-bevolking in Ghana feitlik uitgesterf het. Hulle word met groot nette gevang, in bokse geprop en na onder meer Suid-Afrika gestuur waar hulle geteel word. Baie van hulle – tot 40% – oorleef nie dié tog nie.

Volgens Cites, wat duidelik beheer oor die bedryf verloor het, is die African Grey die mees verhandelde voël op sy lys van bewaarde voëls. Die African Grey se stem in die woude van Sentraal-Afrika is besig om stil te raak. Die geluide van die woud is verplaas na ons sitkamers, stoepe, kombuise en agterplase.

  • Tempelhoff is ’n vryskutomgewingsjoernalis.
Meer oor:  Elise Tempelhoff  |  Wilde Diere  |  Papegaai  |  Bedreigde Spesies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.