Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat alle menopousale vroue moet weet

Vroue in hul menopouse is klaar met ’n hele paar goed. Nou is die tyd om mal te gaan, skryf Erla-Mari Diedericks en maak sommer ook ’n paar voorstelle.

Erla-Mari Diedericks

Nou die dag kleur ek my hare pers. Per ongeluk. Lang storie. Maar daar is dit toe. Lekker pers strepe in my hare.

Man, skryf ’n vriendin vir my, maak asof dit net deel was van jou f*** itlist. Jy weet, daai lysie wat elke vrou in haar menopousejare moet hê.

Mamarazi Nina (haar profielnaam) verduidelik toe: Daar is die bucket list en dan is daar die f*** it list . . . die mal goed wat mense nog wil aanvang maar nie die guts voor gehad het toe hul jonger was nie.

Ek vermoed ek het al alles op my FI-lysie al gedoen, heel moontlik in my 20’s, maar haar opmerking oor menopouse het my laat dink. Wat van ’n MGM-lys? (Menopouse-gaan-mal-lysie).

Vroue in hul menopouse is klaar met ’n hele paar goed – klaar met die maer jare en die kindgrootmaakjare en die vrugbaarheidsjare. Nou is die tyd om mal te gaan. Dit is nou as die voorafgaande jare jou nie reeds mal gemaak het nie.

So, sonder huiwer of skroom, hier volg my MGM-lysie – ook getiteld: Wat Alle Menopousale Vroue moet weet.

• Koop daai groot waaier wat jy nog altyd begeer het. Die duur soort waarin jy water gooi vir jou eie mistige weertoestande en wat selfs sy eie afstandbeheer het. Glo my, ’n waaier gaan nog jou beste vriend word.

• Koop sommer ook daai espressomasjien, robotstofsuier of duur selfoon. As jy die geld het, bederf jouself. Ek het nou weer begin ophou verskoning maak dat ek goedkoop Ricoffy drink. Dis waarvan ek hou, so regtig, ek kan min geskeel wees as koffiesnobs vir my gril.

• As jy nog nie geleer het om op hoëhakskoene te loop nie of nog steeds nie daarvan hou nie . . . regtig, gee net op. Koop vir jou lekker gemaklike plat skoene en omarm jou platvoetgeit – ek het twee pare met silwer blinkers op. Aan die ander kant, as jy hou van spykerhakke, koop tog nou eenmaal daai lekker “slettieskoene” – sommer met ’n kort rok by en gaan mal. Wie gaan jou keer?

• Sexy onderklere? Eers kon jy dit nie bekostig nie, toe het jy gedink jy is te vet en nou is jy heel moontlik te vet en te oud. Bog. Dit is nooit te laat vir iets sexy nie. Kry daai sexy bra, laat hom uitloer en besef ’n mens kan sexy voel, maak nie saak wat nie.

• Dan weer, as jy nog nooit met vuil hare en pajamas of oefenklere in die supermark rondgeflons het nie, het jy nog nie geleef nie. Wie gaan frons en wie gaan kla? Hou net jou masker op!

• Gee jy nog om wat ander mense dink? Wow, dit moet uitputtend wees. Dit is nou die ouderdom om te besef dat mense heel moontlik nie eens oor jou dink nie. En as hulle nou regtig hul monde wil rek oor jou – maak dit saak?

• Hou sommer ook op skinder van mense – sou jy dit nog doen – dis net negatiewe energie. En hou op om jouself te vergelyk met ander. Daar sal altyd iemand mooier, ryker en slimmer wees.

As jy nog altyd als van scratch af gemaak het, maak die woordjie 'kits' jou beste vriend. Kitsgis, kitswitsous, kitspannekoeke. Niemand gee om hoe dit gemaak is nie, dis die eindproduk wat tel.

• Maak sommer nou ’n lysie van goed wat nie saak maak nie: die kolle op die duvet wat jy net nie uitgewas kry nie, die huis wat nie skitterskoon is nie en ongewaste vensters.

• Nie almal gaan van jou hou nie. As jy dit nou nog nie besef het nie, doen dit nou. Selfs Jesus, Mandela, Ghandi en Lady Diana – almal geliefde en gerespekteerde figure – is deur sommige mense verafsku.

• As jy nog steeds heimlik wens jy het ’n naeltjiering, tatoeëermerk, pers hare en jy het dit nog nie gedoen nie, spring gou voordat die plooie te veel oorneem. Wat het jy om te verloor? Niks nie.

• As jy nog altyd als van scratch af gemaak het, maak die woordjie “kits” jou beste vriend. Kitsgis, kitswitsous, kitspannekoeke. Niemand gee om hoe dit gemaak is nie, dis die eindproduk wat tel.

• Nuwejaarsvoornemens werk nooit uit nie, so hou op daarmee.

• “Perfek” is net ’n woord in die woordeboek. Eintlik bestaan dit nie, so hou op om dit na te jaag. Die lewe is te kort.

En o ja, as jy ooit jou hare wil pers kleur op ’n goedkoop manier, hier is hoe: Gooi te veel Gentian Violet in jou sjampoe en los dit te lank in jou hare. En Voila!

• Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.