Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat as Turkye die Weste die rug toekeer?

Die ongekende stabiliteit waarmee die wêreld sedert die jare vyftig – en veral sedert die val van die USSR in 1991 – te make het, is aan die agteruitgaan.

Dis in verskeie opsigte die geval, maar die kollig val hier op Navo se suidoostelike flank, wat tot dusver soos ’n rots deur Turkye bewaak is. Dié rots is nou aan die wankel. Waarnemers begin so saggies aan die vraag stel hoe lank Turkye nog lid van Navo gaan bly.

Die vlieg in die salf is pres. Recep Tayyip Erdogan, ’n outoritêre politikus wat steeds minder ruimte aan sy binnelandse politieke opponente bied. Hy is ’n felle Turkse nasionalis wat die ortodokse Islam as ’n noodsaaklike element van sy nasionalisme sien en wat minder waarde heg aan multilaterale belange soos Navo.

Daarmee vertoon sy politieke ideologie duidelike ooreenkomste met regs-nasionalistiese populiste in Europa en Amerika. Sy party het onlangs die munisipale verkiesing in Turkye se grootste stad, Istanbul, verloor. Maar Erdogan, wat gesorg het dat hy die regbank in sy sak kry, het die uitslag ongeldig laat verklaar en opdrag gegee dat die stemmery opnuut moet plaasvind.

In dié tweede ronde, kan nou al gesien word, doen hy groot moeite om te keer dat die liberale opposisie sy boodskap by die kiesers kan uitkry. Moenie verbaas wees as Erdogan se party dié keer behoorlik wen nie.

Internasionaal beklee Turkye ’n sleutelposisie. Enersyds is hy weens sy ligging ’n brug tussen die Weste en die Midde-Ooste. Enige Westerse land wat invloed in die Midde-Oosterse Islamitiese lande wil uitoefen, moet óf deur Saoedi-Arabië óf deur Turkye werk.

Andersyds was Turkye ook altyd ’n liberaal-demokratiese alternatief vir die fundamentalistiese Moslems in die streek.

Waarnemers begin so saggies aan die vraag stel hoe lank Turkye nog lid van Navo gaan bly.

Dié land is altyd voorgehou as voorbeeld van hoe ’n Islamitiese land tóg liberale Westerse waardes kan aanhang. Maar Erdogan het die laaste jare steeds verder van dié posisie beweeg. Hy bevind hom tans ideologies taamlik na aan dieselfde Islamitiese fundamentaliste wat deur die Weste verguis word.

Ook beweeg hy nader aan die ewe outoritêre pres. Wladimir Poetin van Rusland. Turkye het, tot groot woede van pres. Donald Trump, Russiese missiele bestel. Trump se reaksie? Erdogan moet die bestelling voor die eerste week in Junie kanselleer en dit vir Amerikaanse missiele verruil, anders sal die hipermoderne F-35-vegterbomwerpers wat Turkye van Amerika bestel het, nie afgelewer word nie.

Turkye het jare lank pogings aangewend om lid van die Europese Unie te word. Met die rigting wat hy inslaan, is die kans dat hy sal slaag nul. As Turkye die Weste die rug toekeer, sal dit ernstige geopolitieke gevolge hê.

Dit sal ’n onomwonde oorwinning vir Rusland en ’n ernstige verswakking van die Weste in die Midde-Ooste en Navo se suidoostelike flank beteken.

Meer oor:  Turkye  |  Navo  |  Wêreld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.