Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat bedoel ons met ’n pleit vir gelykheid?

Vanjaar gedenk ons ’n kwarteeu van inklusiewe en konstitusionele demokrasie in Suid-Afrika. Die entoesiasme oor demokrasie is egter glad nie meer so gloeiend soos in 1994 nie.

Daar is verskeie redes hiervoor. Een van die belangrikste dempers is die diepgaande en groeiende ongelykheid.

In die Grondwet word gelykheid geskets as een van die kernbeginsels waarop die samelewing geskoei is. Sonder gelykheid kan demokrasie nie gedy nie.

Gelykheid het verskillende betekenisse. Dit beteken dat alle mense gelykwaardig is. Mense het gelyke, godgegewe menswaardigheid. Mense geniet gelyke menseregte.

Menseregte is ’n instrument wat menswaardigheid bevorder en verwerklik. Dit beteken voorts dat mense gelyke toegang het tot die middele wat ’n lewe van menswaardigheid verseker. Dit sluit in fisieke middele soos water, kos, klere, behuising ensovoorts.

Gelykheid impliseer ook gelyke deelname aan sosiale, ekonomiese en politieke prosesse. Gelyke geleenthede om jou potensiaal te verwesenlik is nog ’n belangrike vorm van gelykheid.

Die strewe na gelykheid wat die demokrasie bepleit, kan misverstaan word. Gelykheid is nie gelykheid in die absolute sin nie. Al kry mense dieselfde geleenthede, het ons verskillende kapasiteite en talente. Ons werk ook nie almal ewe hard nie. Hierdie werklikhede lei tot bepaalde vorme van ongelykheid.

Die strewe na gelykheid wat die demokrasie bepleit, kan misverstaan word.

Denkers oor geregtigheid en gelykheid beklemtoon hierdie genuanseerde kyk na ongelykheid. Die teoloog en kerkhervormer Johannes Calvyn redeneer egter dat daar grense aan ongelykheid is.

Ongelykheid kan nie net ongebreideld groei nie. Hy pleit dat ons te midde van hierdie byna onvermydelike ongelykheid na gelykheid, ekwilibrium en ewewig moet werk.

In samelewings van ewewig is daar steeds vorme van ongelykheid, maar daar is wel genoegsame ekwilibrium en ewewig sodat sommige nie té veel het en ander té min nie.

Die ongelykheid in Suid-Afrika is van die grootste ter wêreld. Waar ewewig in ’n samelewing só erg versteur word, kan demokrasie nie gedy nie, en word ’n toekoms van veiligheid, vrede en vreugde onmoontlik gemaak.

Die Amerikaanse teoloog Reinhold Niebuhr het gesê mense se kapasiteit vir geregtigheid maak demokrasie moontlik – en dat ons geneigdheid tot ongeregtigheid demokrasie noodsaak. Demokrasie help ons dus om onreg en ongelykheid te bestry, en ons het wel die potensiaal om geregtigheid en gelykheid te laat seëvier.

Ten spyte van sy gebreke bly demokrasie skynbaar die beste weg na ’n samelewing van gelykheid en ewewig.

Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Nico Koopman  |  Demokrasie  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.