Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat beteken dit om oud te word?

Wat beteken dit om oud te word? Kobus Anthonissen meen ware ouderdom beteken die ontdekking van die egte innerlikheid.

Illustrasie: iStock

Wanneer daar oor ouerwording, bejaardheid, geskryf en gepraat word, verwys baie mense na Alba Bouwer se boek Die afdraand van die dag is kil. Die titel verwys na ’n lewe waarin ’n afname op biologiese vlak plaasvind: brille vir swak sig, pille vir baie kwale, gehoorapparate, krukke . . .

Dit is nie hoe die Switserse teo­loog Karl Barth ouerwording sien nie. As teoloog beskou hy elke fase van die lewe as ’n verdere groeiproses in die mens se lewe met God. Bejaardheid is vir hom daardie finale fase van ontwikkeling. Die pad is boontoe. Dit is die bereiking van die bergspits.

Om die bergspits te bereik, beteken dat jy wys geword het. Jonas Salk, groot bioloog en ontwikkelaar van die eerste polio-entstof, spreek ’n besondere insig uit: “We must move beyond Darwin’s concept of ‘Survival of the fittest’ to a new paradigm: ‘Survival of the wisest’.”

Die menslike evolusie verduidelik die biologiese voorwaardes vir kulturele ontwikkeling, maar dit kan nie voorspel watter koers die menslike kultuur gaan inslaan deur rasionele kennis, morele bewussyn, estetiese waardering of godsdienstige oortuigings nie.

Definisie van wysheid

Die bekroning en toejuiging van menswees gaan oor die bereiking van wysheid.

Die suiwerste definisie van wysheid is dat dit die misterie van die mens se bestaan bemeester het. Erik H. Erikson sê dat wysheid daaruit bestaan om die menslike bestaan in die geheel te beskou. Jy kyk vanaf die bergtop.

Dit is ’n dieper kennis van die menslike toestand omdat die menslike bestaan dan vanuit ervaring en kennis beskou word. Wysheid moet nie gelykgestel word met verborge kennis of abstrakte teoretisering nie. Dit is ’n praktiese verwerwing wat die moeite werd is om vir die ganse mensdom aan te beveel.

Die jeug is vol idealisme, maar die ouderdom balanseer en bevorder dit deur wysheid.

Ons moet na die lewe van bejaarde rabbi’s, monnike, ander geestelikes, antieke skilders, skrywers en digters gaan kyk. Hulle is “lewende” getuies van mense wat wysheid verwerf het.

Deur kunssinnig na hulle te luister met heilige nuuskierigheid, neem ons die ware lewe waar. Die woord “oud” het ’n Indo-Europese oorsprong wat in die Gotiese, Oudnoorse en antieke Engels beteken iets is “ten volle versadig”, “uitgegroei”, “ryp” – woorde wat ons gebruik vir kase en wyne van gehalte. Dit beteken betroubaarheid, dit bring voordele, het waarde en dwing respek af. Sulke bejaardes ken die weë van die wêreld omdat hulle oud, “uitgegroei” en “ryp” is.

Werklike wysheid keer die blik na binne. Dit berus op die eie innerlike siening. Ware ouderdom beteken die ontdekking van dié egte innerlikheid. Die psigoanalis Ulanov sê: “Aging cracks us open.” Dit is die ontdekking van wie jy in werklikheid is. Geduld met jouself het aangebreek; jy maak tyd en ruimte om met jouself te verkeer. Jy vertoef by jouself. Soos die Engelse digter John Keats dit stel:

“Time that aged nurse,

Rock’d me to patience.”

Wysheid wat jy verwerf

Die jeug is vol idealisme, maar die ouderdom balanseer en bevorder dit deur wysheid. Die jeug is besig met doen, hulle wil nie weet nie. Volwasse bejaardheid wil wéét. Wysheid ontwikkel in die gang van die lewe. Die ou mens ontdek deur die ervaring van die lewe dat hy vir so lank aan die uiterlike voorskrifte van die wêreld verslaaf was.

Met ’n groot deel van ervaring en baie herinneringe het die bejaarde geleentheid om “voorraad op te neem” en te ontdek dat baie van die innerlike self se groei gedwarsboom was deur die verslaafdheid aan sosiale verwagting, die tirannie van ordentlikheid. Dit is ’n wysheid wat jy nie geleer word nie, maar wat jy verwerf deur daarin te groei.

Aanvoeling vir die lewe is nie ’n deug wat jy van die winkelrak afhaal nie. Volwasse oordeel is ’n deug wat geslyp moet word. Werklike smaak beteken dat daar eers ’n paar sakke sout opgeëet word.

Die lewe is kompleks en om dit te oorleef is ervaring nodig.

’n Indiese gesegde lui: “This is not the kind of knowledge you acquire but the kind you must become.” Wysheid is wat jy ís en nie wat jy dóén nie. Werklike integriteit gaan oor wie jy ís.

Hierdie uitsortering van wat werklik saak maak, juig nie bogemiddelde prestasies toe nie, maar neem die besondere waar wat bedek word deur die gewone en algemene van ons-bestaan. Hul waarneming is dié van lang inoefening. Hierdie egte self vertoon ’n innerlike gevuldheid met ’n verruimende en versuimende kyk na buite.

Die aktiewe lewe van die vroeëre bestaan het jou afgesny van die satisfaksie van kontemplasie. Innerlike gevuldheid en geluk lei nou tot ’n nuwe verhouding met die wêreld buite jou. Om terug te keer na Barth.

Hy sê ouerwording is ’n proses wat nooit vasvries, kil word nie.

Nee, dis ’n rivier wat na die einde loop. Vloeiend en energiek!!

* Anthonissen is die skrywer van 'n boek oor veroudering, Dansend met die lewe: In die jeug van veroudering.

Meer oor:  Kobus Anthonissen  |  Bejaardes  |  Ouderdom  |  Oudword
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.