Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat bly van die liefde oor nadat blom verwelk?
Wilhelm Jordaan

Sondag was soendag à la Valentyn, die liefdesmakelaar. En daar is sekerlik gehoor gegee aan die wyse Salomo se “mooiste lied” vir liefdesmaats: “Soen my, soen my weer en weer!”

Maar noudat die blomme verwelk, die sjokolade gesmelt en die passie verlep het, kan ’n mens bietjie nadink oor wat oorbly van Sondag se liefdesvlaag. Na aanleiding van wat iemand op ’n keer te sê had oor die “kitsch” van Valentynsdag. In dié trant: “Hoe kan daar dieper betekenis aan Valentynsdag wees? Iemand wat vlak genoeg is om ’n meisie se hart te wil wen met tjoklits en ’n handvol rooi rose kan gewoonlik nog nie ‘dieper betekenis’ spel nie. Sy emosionele IK begin en eindig met ’n nul.”

Op ernstiger trant is dit so dat vroue in ’n wêreld steeds oorheers deur mans sagte teikens is en Elisabeth Eybers se wrang “portret van ’n vrou” geld nog wyd: “Die Lewe het haar arm van gees gemaak / omdat sy met haar liggaam hom moet dien / en niemand het soos sy, naby en naak, / sy wrede wispelturigheid gesien . . .”

Baie vroue (en al hoe meer mans) verwag veel meer van ’n verhouding – dinge soos vriendskap, emosionele intimiteit, skerts, respek, gesprek, lewenspret, erkenning en vennootskap. Vir hulle is dít die noodsaaklike voedingstowwe vir volhoubare romantiek en toewyding aan mekaar.

By vroue is die verlange na “iets meer” sterk aanwesig. En hulle druk dit uit in ’n taal waarin liefde gesien word as ’n soort osmose.

En dit is juis die som van hierdie stowwe – volgens elke paar se wisselende kapasiteit en voorkeure – wat die liefdeseenheid gee waarna liefdesmaats smag; ’n eenheid waarin die benewelende, dronk heerlikheid van die dye wat die dye aantrek ook ander kragvelde van die liefde betrek.

By vroue is die verlange na “iets meer” sterk aanwesig. En hulle druk dit uit in ’n taal waarin liefde gesien word as ’n soort osmose; ’n deurlaatbare membraan wat ál die voedingstowwe van die liefde tussen man en vrou uitruil.

Daarom skryf Ntozake Shange in Stealing the Language die geestelike ruimte wat ’n man se liefde vir haar skep, is soos wanneer “die Nyl in die Ganges vloei; waar die Mississippi die Amasone ontmoet”. En Eloise Healy beskryf ’n liefdespaar se eenheid as ’n “onverdeelde wensbeentjie” en dat die liefdespaar “soos ’n hoop ou klere is waarvan die kleure saam dowwer word”.

Sonder dié soort eenheidservaring en die volgehoue bevestiging en genieting van mekaar, in eendersheid én andersheid, bly liefde ’n stryd; ’n teleurstellende onvolkomenheid.

Juis daarom skryf Marge Piercy in ironiese trant oor die “ruiling” tussen man en vrou. Die man praat en die vrou luister.

Hy is ’n teepot gevul met ’n donker brousel probleme. Hy giet dit by haar in en dit skommel in haar om. Dit verstik haar, maar tog vertroetel sy dit, bekommer haar daaroor en dit word die hart van haar lewe. Maar wat beteken dit vir haar?

“How much lighter I feel, / the man says, ready / for business. / How heavy I feel, the woman / says: this must be love.”

Meer oor:  Wilhelm Jordaan  |  Romanse  |  Valentynsdag  |  Verhoudings  |  Liefde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.