Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat dóén ons aan rassisme?
Prof. Anton van Niekerk

Prof. Amanda Gouws maak geldige aansprake in haar rubriek (23.03) waarin sy reageer op my radeloosheid oor volgehoue rassisme in die wêreld, soos onlangs weer geïllustreer deur die debakel in die Britse koningshuis. Haar vernaamste aanspraak is: “Om rassisme op ’n rasionele vlak aan te roer, is om die probleem mis te kyk.”

Daardie probleem is dat rassisme nie slegs figureer in wat ons verbaal daaroor sê (ook al is dit afkeurend) of hoe ons dit ook al moreel evalueer nie. Die eintlike probleem is dat ons die euwel en pyn van rassisme nie na behore kan peil nie omdat dit opkom uit iets wat nie primêr figureer op die vlak van rasionele denke en verstaan nie, maar op die vlak van die “onderbewuste”.

Kortom: Daar is ’n onherstelbare kortsluiting in die vermeende “kommunikasie” tussen wit en swart omdat rassisme in wese ontstaan uit die “ervaring van witheid”. Sy skryf: “Witheid is ’n lewensingesteldheid wat saamhang met ’n belewenis van die wêreld waar die leefwyse, norme en simbole van ‘witwees’ as normaal ervaar word.”

As ons nie rasioneel kan kommunikeer nie, loer ons gou vir mekaar van agter die lope van gewere.

Laasgenoemde “stop” swart mense om ooit onbevange, in eie reg en op basis van hul eie werklikheidsbelewenisse die wêreld te verstaan en te bewoon. “Witheid” is die amper onsigbare, psigologiese medium wat die katalisator is van die vermeende “korrekte” belewenis en interpretasie van die wêreld – ’n belewenis en interpretasie wat swart mense voortdurend uitsluit.

Ek gaan akkoord met ’n aantal aspekte van Gouws se ontleding van rassisme. Waarmee ek wel probleme het, is haar siening van wat – indien enigiets – daaromtrent gedoen kan word.

As rassisme dan gewortel is in die ondeurdringbare ideologie van “witheid” – en dus op die vlak van ’n soort sosiale patologie funksioneer – wat staan ons te doen? Is die enigste uitweg dat die ganse “wit wêreld” op die een of ander manier onderwerp moet word aan ’n (onvoorstelbare) proses van so­siale psigoanalise waarin die oorspronge van hierdie magsbeluste ideologie ontmasker sal word deur, Freudiaans, die verband uit te wys tussen huidige gedrag en die kernbelewenisse in mense se jeug of selfs in die baarmoeder?

Ek het ’n nog groter probleem met Gouws se (myns insiens) fatalistiese aanspraak dat “om rassisme op ’n ra­sionele vlak aan te roer, is om die probleem mis te kyk”. Hierdie soort uitspraak herinner my aan wat in die logika ’n “diktatoriale strategie” genoem word, dit is ’n soort argument wat nie weerlegbaar is nie en dus nie verloor kan word nie.

Dit werk só: As ons sou voortgaan met “witwees” soos tans, bewys dit ons rassisme. As ons die probleem beter wil verstaan ten einde dit te verander, bewys dit eweneens watter rassiste ons is, want dan werk ons met die futiele idee dat rassisme “op ’n rasionele vlak” verstaanbaar gemaak kan word. Dit bewys opnuut watter rassiste ons is. Wát ons dus ook al doen, bevestig die onvermydelikheid van ons rassisme.

Die implikasie? Gouws is in terme van albei moontlikhede reg en sy kan dus nie die argument verloor nie. Waar laasgenoemde gebeur, bewys dit die denkfout van die diktatoriale strategie. (Maak die aanvoer van hierdie punt ook van my ’n rassis?)

Ek dink dis sowel verkeerd as ge­vaarlik om die moontlikheid van rasionele gesprek en interpretasie sover moontlik ooit prys te gee. As ons nie rasioneel kan kommunikeer nie, loer ons gou vir mekaar van agter die lope van gewere.

Om ’n tese van Marx effens aan te pas: “Die filosowe (en politieke wetenskaplikes!) het nog altyd net probeer om die wêreld te interpreteer. Die punt is om die wêreld te verander!”

Meer oor:  Anton Van Niekerk  |  Witmense  |  Rassisme  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.