Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat doen ons met ons land se geskiedenis(se)?

Ons het geskiedenisse waarvan die ander nie weet nie. Ons vertel verhale en deel verstane oor ander wat nie heeltemal korrek is nie, skryf Leslie van Rooi.

Leslie van Rooi

Ena Jansen se boek, Soos Familie, handel oor aangrypende verhale en vertellings van huiswerkers in verskillende tydperke in ons land se geskiedenis.

Die boek probeer meestal indirek, ’n stem aan huiswerkers gee wat op verskillende maniere deel van ons lewe is. Ons tweede ma’s, ons vriende. Inderdaad, soos familie.

Maar dit is juis hierdie begrip, soos familie, wat die leser aangryp. Daar, maar nie heeltemal nie. Familie, maar nie eintlik nie.

Om dié begrip te verstaan, neem die verhale ons terug na sommige van ons eie belewenisse, na ervarings met verskeie huiswerkers wat ons help vorm het.

Die wreedheid van soos familie-wees, sowel as ’n verstaan van die werklikheid wat erg hiërargies en vernederend is, kom telkens in die verhale na vore. Dit herinner aan wat was en laat ons ook diep nadink aan wat tans in ons land aan die gang is.

Die boek laat ’n mens ook wonder wat ons met ons land se geskiedenisse – ons het beslis nie net een verstaan van geskiedenis nie – moet maak. In samelewings met vorms van verdeeldheid en ’n gesukkel om die verskillende leefwêrelde behoorlik te verstaan, maak ons op veralgemenings en persepsies staat om die weg tussen mekaar te vind.

Ons het geskiedenisse waarvan die ander nie weet nie.

Boonop verstaan ons die werklikheid dan meestal vanuit ons eie perspektief.

En omdat ons steeds sukkel om mekaar te vind, is dit presies wat ons in ons land doen.

Ons het geskiedenisse waarvan die ander nie weet nie. Ons vertel verhale en deel verstane oor ander wat nie heeltemal korrek is nie. Boonop bevestig ons hierdie verstane soms op ’n heeltemal arbitrêre manier omdat ons dit as waar wil bekragtig sonder om konteks en kompleksiteit in ag te neem.

So bevestig ons dit is nié so nie, sonder om te dink dat ons dalk nie anders sou optree nie as ons in dieselfde posisie was nie.

Dink maar hier aan die twiets wat heel gereeld die lig sien. Almal is absoluut reg. Net één verstaan is geldig. Net één standpunt kan gehuldig word.

SA het ’n behoefte aan meer stemme

Die voorblad van Ena Jansen se boek.

Maar wat maak ons met hierdie geskiedenisse? Beklemtoon ons ons stories ten koste van die ander? Word ons stories verwerp om aan ander se stories meer mag te gee? Maak ons stories op om te pas by ons verstane? Is ons bereid om ander se ervaringe van ons stories aan te hoor?

En juis hierin lê die moeilikheid met ons verstane van die geskiedenisse. Ons sukkel om krities om te gaan met ons eie stories en geskiedenis.

Die feit dat “ons nie so is nie” en dat “hulle maar so is” ontneem ons verder van die moontlikheid om oor grense heen te skuif. Meer nog, dit ontneem ons die moontlikheid om onsself beter te verstaan.

Dit help om in ag te neem dat ons verstane waar is, maar nie absoluut waar nie. En dat ons manier van na die prentjie kyk ’n werklike perspektief is, maar nie die enigste perspektief nie.

Maar meer nog.

Dit is belangrik dat ons moet verstaan dat ons interpretasie van ons geskiedenisse ons ’n posisie laat inneem, selfs al besef ons dit nie.

Die verhale van die huiswerkers en die werkgewers beklemtoon dit oor en oor.

In Suid-Afrika het ons behoefte aan meer stemme wat die verskillende kante van ’n saak goed genoeg kan verstaan.

Maar hierdie verhale leer ons ook iets anders: dié een wat in meer as een wêreld kan leef, meer as een perspektief kan verstaan, skep die moontlikheid om meer gemaklik met identiteit(e) en selfverstaan(e) te vereenselwig.

In Suid-Afrika het ons behoefte aan meer stemme wat die verskillende kante van ’n saak goed genoeg kan verstaan. Ons kort meer mense wat ook kan verstaan dat my manier om met die waarheid en die werklikheid om te gaan ten beste tot sy reg kan kom wanneer ek verstaan dat ek juis ander nodig het om my dit te help sien.

Die geskiedenis leer ons baie lesse. Twee is veral relevant: die geskiedenis herhaal hom gereeld. En tweedens, natuurlik, ons skryf, lees en interpreteer altyd geskiedenis uit ’n oogpunt van mag.

* Dr. Leslie van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Ena Jansen  |  Leslie Van Rooi  |  Geskiedenis  |  Huiswerkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.