Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat drink jy – ’n eentoon- of tweevinger-dop?

Nobukazu Kuriki is ’n Japanse bergklimmer wat in 2015 Everest se piek op sy emmerskoplysie gehad het. Hy het dit nie gemaak nie. Nie omdat hy nie fiks genoeg was nie, maar omdat hy nege van sy vingers verloor het.

Everest is 8 948 m bo seevlak. Op hierdie hoogte is die hoeveelheid suurstof in die lug baie min en die meeste klimmers bereik die piek net met die hulp van bykomende suurstof.

Heinz Mödler

Om hierdie hekkie te oorkom oefen klimmers maande voor die klim in hoogliggende gebiede waar die hoeveelheid suurstof ook min is.

Deur dit te doen word die produksie van rooibloedselle, wat verantwoordelik is vir die vervoer van suurstof in die bloed, gestimuleer.

Wanneer die groot dag aanbreek, is klimmers se hematokriet (die waarde wat aandui hoeveel rooibloedselle in die bloed aanwesig is) aansienlik hoër as die gemiddelde persoon se hematokriet.

Maar selfs hierdie hoër waarde is vir baie klimmers nie genoeg om die gesogte selfie op Everest se kruin te kan neem nie.

Everest het egter veel ander hindernisse. Een van die uitdagendste om te oorkom is die koue.

Vriesende temperature, wat dramaties vererger wanneer die wind waai, is een van die hoofredes waarom hoeveel klimmers elke keer sonder die selfie huis toe keer.

Om jou lyf warm te hou is nie te moeilik nie. Vingers, tone en die neus is egter ’n ander saak, want hulle het nie baie omliggende beskermende vetweefsel nie, en ook het ’n klimmer sy hande en voete nodig om te klim en kan dit dus nie onder warm kleding begrawe word nie.

Wanneer die omliggende temperatuur daal, sal die liggaam poog om liggaamstemperatuur te handhaaf. Bewe is een manier om ekstra hitte te genereer, maar onder hierdie omstandighede is dit ondoeltreffend.

Later bly net ’n swart stompie oor, amper soos ’n ou pruimedant.

Die liggaam probeer dan kompenseer deur bloed van die liggaam se verste punte, die vingers en tone, na die sentrale dele te herlei, want die brein, hart en ander organe is belangriker as die vingers en tone wanneer dit om oorlewing gaan.

Bloedvloei na die vingers en tone word verminder deur die bloedvate wat saamtrek. Die vingers en tone raak kouer, maar kry ook te min suurstof en sterf.

Aanvanklik raak die vingers wit en blou. Hierdie stadium is pynlik, want die weefsel is besig om te sterf. Later is daar net ’n swart stompie wat oorbly, amper soos ’n ou pruimedant.

Dié swart aanhangsel val gewoonlik ná ’n paar dae af, maar kan ook eenvoudig met die gesonde hand afgebreek word. Hierdie amputasie is gewoonlik pynloos, want die senuwees het ook gesterf.

Om van hierdie geamputeerde stompies ontslae te raak kan problematies wees. Moet jy dit begrawe of mag jy dit in die vullisdrom gooi?

Indien jy nie weet wat om met jou stompies te doen nie, kan jy dit altyd stuur na die Downtown Hotel in die Kanadese dorp Dawson City.

Adresseer jou toon of vinger aan die eienaar, Terry Lee. Hy sal dit gebruik om sy befaamde Sourtoe Cocktail te meng.

Mense wat hierdie besonderse dop bestel, kry ’n sertifikaat indien hul lippe met die drywende geamputeerde lidmaat kontak maak.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, skrywer en kunstenaar van Kaapstad.
Meer oor:  Heinz Mödler  |  Everest
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.