Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat gaan aan in ons howe?

Wat gaan werklik in ons howe aan? vra Danny Titus nadat die staat in nog ’n opspraakwekkende saak oor die kole gehaal is.

Adv. Shamila Batohi nadat pres. Cyril Ramaphosa (regs) onlangs aangekondig het sy is die nuwe hoof van die nasionale vervolgingsgesag. Foto: Felix Dlangamandla

Die gemoedere loop behoorlik hoog nadat waarnemende regter Peet Johnson ’n veiligheidswag van Soweto verlede week op aanklagte van die seksuele aanranding van laerskoolmeisies vrygespreek het.

Wat gaan aan in ons plekke waar die wet toegepas moet word? Hoe kan ’n staatsaanklaer ’n jaar lank werk aan so ’n opspraakwekkende saak, die polisie en getuienis lei in die voorbereiding en dan so deur ’n regsprekende amptenaar tereggewys word?

Tot die Leviete is voorgelees oor wat die riglyne vir staatsaanklaers is. “A comedy of errors”, is Johnson se gevolgtrekking.

Die uitspraak gaan uit die aard van die saak verder getoets word en die vervolgingsgesag sê hy bestudeer die teks daarvan.

Die vervolgingsgesag was onlangs in die kollig met die aanstelling van adv. Shamila Batohi as die nuwe hoof.

Daar moet nog bepaal word hoe diep ons regstelsel verrot is. Wat gaan werklik in ons howe aan?

Ons gee altyd hoog op oor ons Grondwet en ons regstaat. Rêrig?

Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, het vroeër vanjaar aangekondig dat ’n landwye ondersoek in die kantoor van die staatsprokureur deur die spesiale ondersoekeenheid begin is.

Dit gaan oor onreëlmatighede in die instelling wat regsdienste aan nasionale en provinsiale staatsdepartemente moet verskaf. Die beweerde bedrog en korrupsie beloop ongeveer R80 miljard van die belastingbetaler se geld.

Strafsake is glo teen staatsprokureurs geopen en private prokureurs word ook hierby betrek.

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, verwys na ’n eis van R70 miljoen wat uitbetaal is vir ’n besnydenis wat na bewering skeefgeloop het. Toe hy dit verder ondersoek, moes hy vasstel dat daar geen besnydenis was nie.

Die persoon ter sprake het ’n siekte gehad en die hospitaal het sy lewe gered. G’n besnydenis nie en die eis gaan deur sonder dat die LUR daarvan bewus is.

Korrup of onbevoeg?

Ek dink ook aan die uitspraak van regter Eberhard Bertelsmann in 2014 oor die betreurenswaardige gehalte van die kantoor van die staatsprokureur. Hy het verwys na die staatsprokureur se regsdiens wat neergekom het op ’n ernstige verwaarlosing van pligte.

Wat gaan aan in ons howe?

Ons gee altyd hoog op oor ons Grondwet en ons regstaat. Rêrig?

In sy boek How to Steal a Country skryf die voormalige Britse ambassadeur in Suid-Afrika, Robin Renwick, hoe hy aan ’n senior lid van die ANC sy kommer oor korrupsie in die land oorgedra het.

Dié sê toe daar is ’n groter probleem as korrupsie. “Wat is dit?” vra Renwick. “Bevoegdheid,” kom die antwoord.

Onbevoeg? Eerder aspris, arrogant en ’n houding van 'ek vreet die krip leeg'.

Dis seker nie die een of die ander nie, maar dit maak sommige sake duideliker. Waarom verval ons munisipaliteite so drasties? Die ouditeur-generaal se verslag sê onder meer onreëlmatige uitgawes in munisipaliteite het met 75% gestyg sedert die vorige jaar en vrugtelose en verkwistende uitgawes met 71%.

Onbevoeg? Eerder aspris, arrogant en ’n houding van “ek vreet die krip leeg”.

Ek lees verlede week ’n artikel van Ranjeni Munusamy oor die Guptas wat beplan om ons regering ’n tweede keer te kaap. As Ajay Gupta aan The New York Times sê dat hy na die land sal terugkeer om sy naam skoon te maak, dan weet hy waarvan hy praat. Dis gegrond op fyn uitgewerkte planne om die politiek om te keer.

Dit mag vergesog klink, maar, sluit Munusamy af, die Guptas glo dat as Suid-Afrika onnosel genoeg was om die land een keer te kon oorgee, kan ons dit ’n tweede keer ook doen.

Danny Titus

Ek het vantevore gevra of ons vervolgingsowerhede in staat is om gesofistikeerde skelms vas te vat. Die Guptas se advokaat, Mike Hellens SC, het reeds gesê sy kliënte glo die “NVG en die Valke is roekeloos onbevoeg en ’n nasionale verleentheid”.

Ek twyfel darem of die Guptas daarin sal slaag, hoewel hulle geld en toegang tot goeie regsverteenwoordiging het, terwyl die ANC se binnegevegte voortwoed.

Ek is saam opgewonde oor die aanstelling van ons nuwe nasionale direkteur van openbare vervolgings.

Ons land is besig om terug te keer na reg en geregtigheid en hopelik ook na wet en orde. Ons sal egter spoedig ons Suid-Afrikaanse naïwiteit moet afskud en verwoed moet probeer om die verrotting om te keer en ons land terug te wen.

Die kripvreters sal nie oorgee nie, die vervalsers sal voortgaan met hul werk, die politiek-ideologiese regverdigings sal nie ophou nie. Hulle sal voortgaan in die naam van die armes, die noodlydendes, die wese en die weduwees.

Hulle sal gewoon baie hard gepak moet word, aan die kaak gestel moet word en waar nodig lank toegesluit moet word.

Dit klink dalk soos ’n feëverhaal.

Maar wie het ooit kon droom dat oudpres. Jakob Zuma tot ’n val sou kom?

Kom ons bly hoop en vat mekaar se hande in die stryd vir wat reg is.

* Dr. Danny Titus is die uitvoerende hoof van korporatiewe aangeleenthede vir die ATKV.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.