Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat gaan ons doen aan die Poskantoor?

Op 20 November 2020 stuur ons drie lappieskomberse, netjies en volgens die voorskrifte verpak, van die poskantoor op Darling weg Windhoek toe. Na Gerhard Engelbrecht toe wat dit by ons bestel het.

Dana Snyman

Ons verkoop die komberse as deel van ons Swarthond-projek, wat gaan oor werkverskaffing en om mense bewus te maak van depressie as ’n behandelbare siekte. Dit is meer as ’n maand voor Kersfees en Gerhard, wat die komberse as geskenke gekoop het, gaan dit betyds ontvang, glo ons.

Dis dan die goeie ou Poskantoor.

Ná drie weke laat weet Gerhard vir Erna Oosthuizen, wat Swarthond bestuur, die komberse is nog nie by hom nie. Erna ry van Yzerfontein, waar sy woon, Darling toe en gaan doen navraag by die poskantoor. Op die versendingsbrief is ’n nasporingsnommer: GN00122996525. Elma in die poskantoor tik die nommer by haar rekenaar in.

Die komberse is van Kaapstad Johannesburg toe gestuur, is min of meer al wat behulpsame Elma kan sê.

Van Johannesburg sal die komberse Windhoek toe gestuur word. Ons moet dalk nog ’n bietjie wag. Tydens die erge Covid-19-inperking was die grense toe. Daar is agterstande.

Ná nog ’n week laat weet Gerhard van Namibië: Nog niks. Erna ry weer Darling toe. Elma laat sak haar kop toe sy Erna sien. Sy bel en bel, sê sy, maar haar kollegas antwoord nie hul telefone nie. Elma stuur ’n e-pos aan ene Monde Banisi, een van haar hoog-op-kollegas. Help, asseblief. Kersfees kom en gaan. Gerhard het steeds nie sy komberse nie.

Ná Nuwejaar ry Erna wéér Darling toe. Elma is op vakansie, maar Muriel is net so behulpsaam.

Nóg oproepe. Nóg e-posse. Ons kry ’n nommer vir die vraghouer in Johannesburg waarin die komberse glo is: JHB015094638FJMU.

Daar is net ’n probleempie: Die Poskantoor se rekords sê die komberse is op Darling – ná drie maande is ons terug waar ons begin het. Vir die soveelste keer ry Erna Darling toe. Dis beslis nie hier nie, sê Muriel.

Erna stuur ’n e-pos aan Sekano Kgalanyane en Lindiwe Kwele, onderskeidelik senior bestuurder en bestuurshoof van die Poskantoor. Help. Geen reaksie. Nie eens ’n ontvangserkenning nie.

Erna gesels ook met Peter Andrews, ’n engel van ’n man in die Kaapse hoofkantoor. Hy probeer help, maar sukkel met sy eie mense.

Erna stuur ’n e-pos vir Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologie. Geen reaksie nie. Nie eens ontvangserkenning nie. Nóg oproepe. Nóg e-posse na Ivan Leeuwschit, Tsepo Motloung, Brandley Green, Martha Mahlasi en ander senior Poskantoor-mense. Geen reaksie nie.

Erna praat met Mathapelo Mphuti van kliëntediens. Mathapelo belowe sy sal self, as dit nodig is, in die houer gaan kyk of ons komberse daar is.

Toe verdwyn sy weer. Iemand anders sê ene Isra weier om die vraghouer oop te maak.

Dit sal môre ses maande later wees en Gerhard het steeds nie sy komberse nie.

Ek vermoed ander mense het min of meer dieselfde probleme met die Poskantoor. Of nie?

Ons móét iets doen. Wát gaan ons doen?

Meer oor:  Deurloop  |  Dana Snyman  |  Meningsberig  |  Van Alle Kante
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.