Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat het verander ná #FeesMustFall?

Is ons nou uiteindelik bereid om ná #FeesMustFall te praat? vra Leslie van Rooi.

Betogende studente aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het die ingange van die universiteit versper as deel van die #FeesMustFall-betogings. Foto: Cornel van Heerden

Dit val my op dat ons oor die afgelope paar maande weer op ons land se universiteitskampusse moeite doen om met mekaar te praat. Of dit begin ten minste so voel.

Dit is waarskynlik die eerste keer ná die #FeesMustFall-proteste dat daar tekens is dat studente, van verskeie oortuigings en kultuuragtergronde, moeite doen om met ander studente gesprekke te voer. Die tekens is nog gering, maar dis beslis daar.

Die bereidwilligheid om te ontsnap uit silo’s van eendersdenkendheid, waar ons sterk aanvalle loods op diegene wat nie in ons kamp is nie, neem toe. Die voorneme om mekaar te vind en sáám te stap is weer in die lig. Dalk is dit net die lente wat hier is.

Maar wat het verander?

Dit lyk my tog of ons nou die post-#FeesMustFall-periode binnegaan. Die las van dié periode asook die noodsaaklikheid om ons universiteitskampusse te transformeer en te vernuwe neem nou ander gedaantes aan. Een daarvan is ons hernude bereidwilligheid om mekaar te vind.

Bongani Mayosi

Prof. Bongani Mayosi, dekaan van die mediese fakulteit aan die Universiteit van Kaapstad, het op 27 Julie 2018 in die nadraai van die #FeesMustFall-beweging sy eie lewe geneem. Foto: Verskaf

Die #FeesMustFall-periode het immers sy tol op verskeie maniere geëis. Dink maar aan die debatte rondom die selfdood van wyle prof. Bongani Mayosi, dekaan van die mediese fakulteit van die Universiteit van Kaapstad. Die siele-slytasie was hoog vir studente sowel as personeel. Ons sien die gevolge daarvan nog op baie gesigte.

Op baie maniere is ons nou armer ná die proteste. Ons denke is armer, want ons het gesprekke met mekaar misgeloop. Ons is armer aan ware robuuste gesprekke, waar elkeen sy of haar sê vrylik kan sê.

Ons kuns en ander simbole is nou nog meer beperk. Ons is redelik versigtig vir diversiteit en ons het verkies om konflik te vermy. Ons het onsself probeer verskans sodat ons veilig kan bly.

Suid-Afrikaanse universiteite het dus in ’n mate dieselfde patroon gevolg as veral die Amerikaanse universiteite oor die afgelope drie jaar. Loer maar na die debatte daar oor die afgelope paar jaar.

En op ander maniere is ons beter af – ook as gevolg van #FeesMustFall. Universiteite het fundamenteel geskuif. Meestal ten goede.

Ons moet dieper en langer luister

Die post-#FeesMustFall-periode beteken beslis nie dat alles nou maar terugkeer na hoe dit was nie. Inteendeel. Ingrypende veranderinge aan universiteite (dalk ook wat die staatskoffers betref) wys dat ons oor die afgelope byna drie jaar ver gevorder het om ons universiteite se gehalte te verbeter deur radikaal te vernuwe. Groot moeite word gedoen om kurrikula te wysig sodat ons nog meer ons kontekste – plaaslik en internasionaal – in ag kan neem en kan verstaan.

Verder voeg ons stadig maar seker nuwe simbole toe; institusionele kulture vernuwe om meer mense tuis te laat voel, en ons word beter daarmee om weerlose studente te ondersteun.

Die feit dat ons nou weer kans sien om te praat en mekaar te vind beteken ook nie dat ons terugkeer na hoe dinge voorheen was nie.

Op hierdie manier het #FeesMustFall ons dus gehelp om universiteitsgemeenskappe vinniger en beter te vestig en te transformeer in wat, waarlik, nasionale en internasionale bates kan en moet wees. In die eerste 20 jaar van ons demokrasie was ons traag hiermee.

So, hoe behoort ons nou met mekaar te praat?

Die feit dat ons nou weer kans sien om te praat en mekaar te vind beteken ook nie dat ons terugkeer na hoe dinge voorheen was nie. Ons durf immers nie die foute van die verlede herhaal nie.

Leslie van Rooi

Hierdie keer sal ons dieper en langer moet luister. Ons sal moet verstaan dat ons opvattings mekaar moet aanvul. Ons moet ons geskiedenis verstaan – almal se geskiedenis(se). Ons moet ons ongelykheid op alle vlakke in ag neem. Ons moet dus bereid wees om ons eie opvattings te verander en om ander s’n aan te vul. ’n Diep en egte gesprek raak ons immers soms tot op die been.

Ons sal mekaar moet vind. Onvoorwaardelik. Ons verstaan onsself beslis beter en dit sal veroorsaak dat die gesprekke geanker is.

Die ou rangordes sal moet verdwyn as ons mekaar werklik wil vind.

Ons sal bereid moet wees om weer te probeer en ons sal moet verstaan dat Suid-Afrika ’n radikaal ander plek as selfs enkele jare gelede is. Namate ons samelewing normaliseer, kry ons die geleentheid om mekaar in ons verskeidenheid te vind.

Wat broodnodig is, is dat ons gesprekke minder oppervlakkig moet wees. Dat ons bereid moet wees om emosie aan te vul met intellektuele diepte. Ons sal bereid moet wees om verder te dink en om uitgedaag te word. Studente sal moet leer dat jy nie net met ’n geskree jou sê kan sê nie. Ons sal mekaar in die oë moet kyk, en ons sal bereid moet wees om nie net in die modder rond te stoei nie, maar om op te staan en hoër uit te styg. Nie net vir onsself nie, maar vir almal in die gesprek.

Hopelik besef ons dat ons meer mense by ons gesprekke moet inlaat. Die gedagte dat jy net na jou Facebook-vriende moet luister en, danksy algoritmes, net nuus lees wat jou pas, maak ons arm, kwaad en eenogig. Ons was al daar. Ons kan nie weer daardie pad stap nie.

As ons nie met mekaar praat nie, gaan ons mekaar nie vind nie. Ná konflik, frustrasie en selfs haat het ons steeds geen alternatief as om steeds vorentoe te mik nie. Dalk stel ons hierdie keer luister eerste en sal praat ’n ander effek op ons en ons gemeenskappe hê.

Ons land het dit beslis nodig.

*Dr. Van Rooi is senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.