Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat is ‘1652’ se motief?
Patric Tariq Mellet, skrywer van The Lie of 1652.Foto: edrea du toit

Historici se rol is nie om te oordeel nie, maar om die geskiedenis binne konteks te interpreteer, skryf Rodney Warwick in reaksie op die debat oor The Lie of 1652.

My eerste reaksie op Patric Tariq Mellet se boek The Lie of 1652 was om te wonder of hy vergeet het dat daar talle geskiedenisstudente – in die verlede en in die hede – is wat Richard Elphick se boek Khoikhoi and the Founding of White South Africa (1985) gelees het.

In my voorgraadse jare in geskiedenis in die middel 1980’s aan die Universiteit van Kaapstad (UK) was Elphick se boek ’n persoonlike gunsteling, spesifiek vir sy noukeurige navorsing en hoofstukke met spesifieke verwysings oor die kontak tussen die Skiereilandse Khoi en Europese seevaarders tussen 1488 en 1662.

In ’n sleutelbeskrywing (bl. 71) skryf Elphick: “By a trick of geographic fortune the Khoikhoi found their peninsula lay athwart one of the most important trade routes in the history of mankind, the sea link between the vigorous Europe of the late Renaissance and the enticing wealth of the Orient.”

Vir die Skiereilandse Khoi was dié “geografiese fortuin” ’n geskiedkundige Swart Swaan-voorval.

Vir die Skiereilandse Khoi was dié “geografiese fortuin” ’n geskiedkundige Swart Swaan-voorval; ’n onvoorspelbare gebeurtenis met ernstige gevolge. Oor ’n betreklike kort tydperk het die Khoi se wêreld vir altyd verander. Dit is oor ’n lang tyd simpatiek gedokumenteer deur Elphick en ander liberale Afrika-geskiedkundiges uit die 1960’s soos Monica Wilson en Rodney Davenport, om maar ’n paar te noem.

Maar anders as wat dié professionele geskiedkundiges eens gedoen het, breek Mellet geen nuwe akademiese grond nie. Dit is eerder The Lie of 1652 se beskuldigende en sensasionele titel en toon wat die aandag trek en lei tot vrae oor sy interpersoonlike motiewe.

Mellet ondersteun “dekolonialisering” waarvan die voorstaanders volhou dat geskiedenis as ’n akademiese dissipline se enigste doel is om “koloniale ideologieë” te dekonstrueer deur “koloniale oortreders” bloot te stel of te veroordeel en te verseker “slagoffers” se status word verbeter. In ’n plaaslike konteks is dit Afrika-nasionalistiese geskiedenis, pleks van die wyer historiografiese reeks van keuses wat strek van George McCall Theal tot Herman Giliomee.

Slagoffers en mites

Met Mellet en dié wat hulself aggressief as dekolonialiseerders aanbied, het ons te doen met wat Franz Fanon die sielkundige van die koloniale persoonlikheid genoem het: die woedende reaksie op die waargenome internalisering van etniese of kulturele minderwaardigheid wat mense na bewering ervaar weens kolonialisering.

“Dekolonialiste” se ideologiese wortels lê in die breër postmoderne skryfgenre; hulle hou vol historici moet mag verkry vir diegene wat polities deur hulle verteenwoordig word en sover prakties moontlik enige meningsverskille delegitimiseer.

Hierdie totalitêre “identiteitspolitiek-geskiedenis” gaan gepaard met ’n amper godsdienstige fanatisisme en ’n kru, narsistiese eiegeregtigheid. Dit behoort bekend te klink. Wie kan die fanatisisme ontken wat gepaardgegaan het met eise om standbeelde en monumente van ander geskiedkundige entiteite uit te roei – in dié land en elders?

“Gedekolonialiseerde geskiedenis” staan in diens van laer politieke doelstellings, om mites te skep en te poog om dit te verewig – soos “Carmissa”, Mellet se denkbeeldige Khoi-protoport.

Natuurlik spruit Kaapstad se oorspronklike hawe en -aktiwiteite uit Europese handel en van mense wat reeds tasbare (werklike) hawens gevestig het. Baie Europese en Oosterse voorbeelde daarvan bestaan voor 1652, toe sommige Khoi wel by ruilhandel betrokke was. Maar om dié aktiwiteite te verhef tot ’n “port” is ’n verdraaiing en ’n fantasie.

Alle geskiedenis moet een of ander vorm van hedendaagse doel en inspirasie bevat – moreel, polities of ideologies. Die vraag is tot watter mate dit so belangrik word dat ander bewyse en redelike, outentieke interpretasies geïgnoreer of gemarginaliseer word.

Dié “dekolonialistiese styl” raak nóg meer negatief wanneer die dogma gepredik en onderskryf word deur rasseminagting, waardeur die geskiedenis en nalatenskap van die Westerse beskawing eenvoudig tot niet gemaak word.

Is alles dan vervloek?

Wat geïgnoreer word, is ’n geveri­fieerde narratief wat kolonialisering veronderstel wat – nouliks verhewe bo kontemporêre morele kritiek – onteenseglik die Kaap direk in Europese modernisering inbring; in ’n streek wat tot in daardie sta­dium demografies oorheers is deur pre-industriële mense.

Saam met Europese kolonialisering het die deurlopende verbetering van kommersiële, regs-, wetenskaplike en kultuurontwikkelings gekom wat reeds dekades in Europa bestaan het – eers deur die Nederlanders, maar later baie meer doeltreffend deur die Britte.

Hierdie kolonialiste en hul nageslagte is ten volle geregtig op hul geskiedenis van ondernemings en worsteling. Geen verskaffer van dekolonialisering het enige reg hom dit van hulle te ontneem nie, maar – en dis ’n kritieke punt – hul intensie is om presies dit te doen.

Dit is óf bedrieglik óf oningelig om die waarde van kolonialisering wat steeds alomteenwoordig is te negeer: kontemporêre kapitalisme met sy oorsprong uit Europa, selfs met al sy potensieel uitbuitende uitkomste is dit die optimale stelsel waarvolgens die ekonomie georganiseer is.

Hoe kan elke aspek daarvan vervloek word as ’n skending van die pre-koloniale inwoners se menslikheid?

Die Engelse taal, waarin die meeste dekolonialiste skryf, is geïnternasionaliseer. Christenskap en spesifiek die Protestante weergawe is eksplisiet deel van plaaslike kulture. Verteenwoordigende instellings en ’n magdom infrastruktuur-ontwikkeling bestaan weens ’n onontkenbare skakel met kolonialis-me.

Hoe kan elke aspek daarvan vervloek word as ’n skending van die pre-koloniale inwoners se menslikheid?

As Suid-Afrika ’n tuiste wil bly vir sy burgers – saamgevoeg uit die verskillende gemeenskappe en kulture wat dié land huis noem – dan moet daar eenvoudig ’n pragmatiese kompromis aangegaan word tussen die geskiedkundige magte en kulture wat modernisering bekend gestel en ontwikkel het, en dekolonialiste wat aandring daarop dat hul voorouers slagoffers was.

Die Kaap se geskiedenis demonstreer hierdie historiese kompleksiteit. So byvoorbeeld was Khoi-groepe wat as soldate vir Nederlandse en Britse administrateurs opgetree het gewillige instrumente van kolonialisering.

Daar is geen intrinsieke historiese veroordeling hiervoor nie, want dit is nie die historikus se rol nie. ’n Historikus is eerder bemoeid met die geskiedkundige konteks wat gebeure moontlik gemaak het.

Net so het die Kaapse Korps ’n gerespekteerde reputasie opgebou in die twee wêreldoorloë en die Grensoorlog, nieteenstaande die ongeregtighede wat hul breër gemeenskap onder apartheid moes verduur.

Mense van vlees en bloed

In ’n wêreld met beperkte afmetings en hulpbronne, tesame met die ontwikkeling van kapitalisme, was kolonialisering onvermydelik. Natuurlik het dit sy voor- en nadele gehad. Dit is onmiskenbaar dat modernisering ontwrigting vir die Khoi en ander veroorsaak het. Maar dit is lankal reeds gedek in vroeëre professionele historiografie. Mellet se herhaling (of sy geskree daaroor) neem geskiedkundige navorsing nie verder nie.

Wat dekolonialiste ook ignoreer, is die futiliteit daarvan om aan te neem modernisering sou pynloos wees; dat daar geen persoonlike rasse- of individuele skuld daarin is nie. Ons is mense met voorgeslagte van vlees en bloed, nie “morele suiwer” fantasiekarakters uit kinderverhale nie. Eiebelang – ras/stam en individueel –is deel van ons genetika, en nie minder so nie wanneer ons bedreig voel.

Mellet impliseer dat die Khoi unieke menslike lyding en trauma ervaar het. Maar in verskeie vorms was dit heeltemal universeel binne ’n wye spektrum van geskiedkundige omwentelings.

My nederige Skotse en Engelse voorvaders het hul eie verhale van gedwonge verskuiwings van die Skotse Hooglande en omliggende eilande en verstedeliking weens die nywerheidsrevolusie – albei gebeure wat plaasgevind het ná die kolonialisering van die Kaap.

Daarom kan 1652 se raison d’être beskryf word vir wat dit is: nie “nuwe geskiedenis nie”, net meer beskuldigende dekolonialiseringsdoktrine en die versterking van die politieke konteks van die EFF/ANC se bewerings dat wit Suid-Afrikaners se voorgeslagte “die land gesteel het”. Dis hoe Mellet se boodskap onder amateur-historici of bevooroordeeldes gaan versprei.

Daarom kan The Lie of 1652 maklik gesien word as ’n bevestiging van die woorde van die prominente Britse geskiedkundige Richard Pares: “Good history cannot do as much service as money or science . . . bad history can do almost as much harm as the most disastrous scientific discovery in the world”.

Daar is baie beter publikasies as 1652 beskikbaar oor dieselfde onderwerp. Maar dit vuur wel die huidige politieke onstabiliteit aan en as die boek verkoop, is dít die rede.

Dr. Rodney Warwick is 'n geskiedkundige van Kaapstad.

Meer oor:  Geskiedenis  |  The Lie Of 1652
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.