Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat is dan ons nalatenskap?
Rapule Tabane

Die dood van die veteraanmenseregteaktivis adv. George Bizos so kort ná dié van Andrew Mlangeni, wat ’n beskuldigde in die Rivonia-verhoor was, is die einde van ’n groot hoofstuk in Suid-Afrika se geskiedenis.

Weens hul gevorderde ouderdom – 92 en 94 – het ons geweet hulle moet die een of ander tyd gaan rus, maar dit stem ’n mens nogtans hartseer as jy na hul politieke en persoonlike waardes kyk.

Albei was ten diepste nierassige mense wat geveg het om ’n land wat ruimte sal hê vir alle rasse. Hulle het ook geglo die ongelykhede van die verlede moet reggestel en dat arm mense opgehef moet word. Albei het, ondanks al hul opofferings oor jare heen, weggeskram van persoonlike voordeel of roem.

Bizos het sedert 1954 as advokaat gewerk. Hy kon lankal reeds ’n regter gewees het, maar het voortgegaan om slagoffers van ongeregtighede te verteenwoordig – of dit nou slagoffers van apartheid of meer onlangs die families van die Marikana-slagoffers was. Hy het omtrent altyd gekies om arm en minderbevoorregte mense te verteenwoordig. Dit beteken ook hy is nie altyd vir sy werk betaal nie.

In Suid-Afrika gryp ons mekaar heeltyd aan die keel, maar ons kan nie eintlik wys waarvoor ons baklei nie.

Mlangeni het dieselfde nederigheid gehad. Hy het saam met oudpres. Nelson Mandela en ander lewenslange tronkstraf op Robbeneiland uitgedien. Maar toe die belonings kom en mense word ministers, presidente, ambassadeurs en sakelui, was hy nêrens te sien nie. Hy het gekies om ’n parlementêre agterbanker te word en het homself nie vir ’n kabinetspos beskikbaar gestel nie. Hy het gesê dat hy altyd gekies het om ondersteuning te bied aan diegene wat leiers wou wees, mits hulle dit om die regte redes gedoen het.

Ons moet onsself in dié tyd afvra waarvoor ons staan. Bizos en Mlangeni het gestaan vir selfopoffering ten einde geregtigheid in die land te laat geskied. Die instelling van ’n demokratiese bestel in 1994 was vir hulle ’n groot mylpaal. Wat kan ons doen om ons stempel af te druk?

Ons land is in ’n ietwat chaotiese toestand. Die ekonomie is in die moeilikheid, regeringsamptenare vul hul sakke met geld en die toestand van rasseverhoudinge is sleg. Ek wonder dikwels of daar ’n land is wat meer verdeel is as ons.

Ek volg verwikkelinge in die VSA met groot belangstelling en sien hoe diep gepolariseerd daardie gemeenskap die laaste paar jaar geword het. Dis die naaste wat ’n land aan ons is wat rasseverhoudinge betref. Ek dink tog die verdelings in die VSA het sedert 2016 vererger weens die opkoms van pres. Donald Trump.

Ons land is in ’n ietwat chaotiese toestand. Die ekonomie is in die moeilikheid, regeringsamptenare vul hul sakke met geld en die toestand van rasseverhoudinge is sleg.

Die groot verskil is dat die VSA se politieke retoriek lelik en verdelend is, maar dat die land steeds funksioneer. Die meeste mense het werk, misdaad is onder beheer, daar is openbare infrastruktuur, soos ’n betroubare, veilige vervoerstelsel. Die ekonomie is hard getref deur Covid-19, maar dis ’n identifiseerbare hindernis wat oorkom kan word.

In Suid-Afrika gryp ons mekaar heeltyd aan die keel, maar ons kan nie eintlik wys waarvoor ons baklei nie. Weens misdaad leef ons heeltyd in vrees en die arm mense word meer.

Ons het min vertroue in ons regering weens die swak werk wat hy oor die jare­ heen gedoen het. Maar ons verloor selfs méér moed met die besef dat daar nie ’n beter alternatief is waarmee ons die huidige regering kan vervang nie.

Ons het mekaar, maar ons vertrou mekaar nie. So daar is ’n werklike vrees dat, indien iets fundamenteels nie verander nie, die werk van Mandela, Denis Goldberg, Bizos, Bram Fischer en Mlangeni dalk verniet was. Ons behoort voort te gaan met dit wat hulle begin het. Maar is dit wat ons doen?

  • Tabane is politieke redakteur van City Press.
Meer oor:  Politiek  |  Chaos  |  Korrupsie  |  Rassehaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.