Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat is dit met ons en al die Engelse name?
Johan van Wyk

Wat Shakespeare (“what’s in a name?”) daarvan sou dink, weet ons nie, maar ek kan raai.

Hy sou dalk gevra het: “Wat is dit met Afrikaanse mense dat hulle hul perde, honde, huise en kinders so graag Engelse name gee?

Die aanwys in Bloemfontein van Valley’s Rising Music van die “Mountain View-stalle” as die grootkampioen-vyfgangsaalperd (opgetooi soos Salomo met stomende digterlike vryheid nie ’n bruid vir die huweliksbed kon voorberei nie) het my daaroor laat wonder.

Soos Afrikaanse boere ook graag wildplase met “lodges” eksotiese Afrika-name gee om die sogenaamde misterie van die donker, geheim-sinnige vasteland by naïewe, oningeligte toeriste te versterk. Terwyl Afrika – soos toenemend Suid-Afrika met al sy hulpbronne – se groeiende onvermoë om uit versukkeling, verval en armoede te ontsnap die eintlike misterie is.

Ek sou graag wou weet tot watter mate Afrika-naamgewing tot die versterking van aansprake op die onteiening van grond sonder vergoeding bygedra het. Met apologie aan Cyril Ramaphosa, “whether you like it or not”. Hou dit in ge-dagte op pad stembus toe.

Jare later het ek Japie wel gery. Hy was toe al oud, maar het my onthou.

“Valley’s Rising Music” was dus nie musiek in my ore nie. Wel “Rigter”, vir Hertzogville se Jack Russell-kampioen. Die vergange rigters wat Israel na die beloofde land gelei het, sou in hul skik wees. In my geestesoog sien ek hoe hy met ’n rooijakkals in die gerig tree. “Vat hom, saaaa!”

Die Afrikaanse name van ’n leeftyd se eie ryperde weerklink ook steeds in my ore. Soos Japie, my suster se skoolperd: ’n Groot, rustige reun met ’n plat kruis waarop jy ’n skinkbord met koffie kon staanmaak sonder dat ’n druppel sou mors. Ek wou hom bitter graag op Calvinia se Boereweek ry toe ek ses jaar oud was.

“Jy is te lig in die broek”, het oom Henry Florisdrift gesê, my tot staldiens beperk en sy voorjong, Dirk, ’n uitmuntende ruiter, laat klim. Jare later het ek Japie wel gery. Hy was toe al oud, maar het my onthou. Toe ek hom opsaal, het hy sy sagte neusvleuels in my nek gedruk.

Die beskrywendste was “Spook”, vir ’n vaal hingsvul wat ’n “appelblouskimmel met spierwitte maanhaar” (Jan Celliers) geword het.

In ’n volspoedtrippel het hy so aangekap dat bloed aan die agterkant van sy voorhoewe gespat en die salpetersweet soos muf op ou brood langs sy flanke uitgeslaan het.

Dié môre toe hy nader staan met ’n voorbeen wat aan ’n velletjie hang, het ek geweet wat ek moes doen. Soos die Doorspring Friesperd-stoetery by Keimoes se pragtige kampioenhings, Othello Fan Ferwalde, ingevoer uit Holland, is hy met volle eer begrawe.

Die aangrypende hartseer daarvan word vertel in Wreed en mooi is die dood, meesterlik versorg en saamgestel deur my vriend en ’n boekmaker van formaat, Tobie Wiese, en pas uitgegee deur Jonathan Ball.

Dit is ’n boek wat nie gemis moet word nie.

Meer oor:  Johan Van Wyk  |  Engels  |  Perd  |  Taal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.