SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Wat is jou groot verlang, jou nostalgie?
Aniki
Aniki Joseph

‘As ek ’n stukkie nartjieskil tussen my vingers buig of knak / breek uit die klein sproeireën wat geurend om my hand uitsak / die boorde weer van Swartfoloos en met die nartjies om my heen / weet ek hoe dat ’n vrou kan troos.” (“Sproeireën” – D.J. Opperman)

Ons oudste seun bel. “Ek het ’n sweempie van Ma se parfuum vandag geruik. Toe ek opgewonde omdraai, staan daar ’n vreemde vrou tussen die rakke. Ek het amper gekul gevoel . . . Ma was nie daar nie. Ek was net vir ’n oomblik weer ’n seuntjie wat saans met Ma kniel om my aand­gebed te bid. Die blote gedagte daaraan laat my steeds veilig en geliefd voel. Ek mis Ma vandag.”

Nostalgie is verskillende dinge vir verskillende mense. Vir C. Louis Leipoldt was dit waboom-blare en ghnarrabos-blare.

Vir iemand anders kan dit dalk spelende paddavissies tussen die groen slyk van ’n plaasdam wees. Dalk piekniek met kouevleistoebroodjies op ’n geruite kombers onder ’n bloekomboom langs die dorp se munisipale swembad. Of die vrolike geklingel van die roomyskarretjie wat straataf kom. Die dikwielfiets met sy ligblou koelboks met die bekende wit-en-rooi Wall’s-kenteken. Die roomysman sou ’n kort wit jas dra en ons toelaat om te loer deur die klein opening bo-op die koelboks om ’n roomys te kies.

Gedurende 1688 was daar ’n mediese dokter wat geglo het ’n mens kon sterf aan nostalgie,

Vir baie Suid-Afrikaners sou dit ’n ou Spoorweghuis wees. ’n Sterk rooibaksteengebou met ’n sinkdak, ’n blinkrooi Cobra-stoep en ’n sementpaadjie. Blokkiesvloere. ’n Kaggel in die sitkamer. ’n Stewige huis met vensters wat dig sluit en deure wat nie rammel wanneer die wind waai nie. Perfekte vakmanskap. Afrikaners, bloedrooi malvas, jakopregops en leeubekkies in die tuin.

Wat is jou groot verlang?

Gedurende 1688 was daar ’n mediese dokter wat geglo het ’n mens kon sterf aan nostalgie. Hy het tot hierdie slotsom gekom ná die bestudering van militêre personeel wat depressief geraak het omdat hulle na die huis verlang het.

Die woord nostalgie is afgelei van die Griekse woord “nostos”, wat die terugkeer na ’n tuiste beteken. Dit verwys na ’n pynlike verlange na die huis.

Psigiaters tydens die tyd van Sigmund Freud het na nostalgie verwys as depressie. Hulle het geglo dit gebeur omdat mense wat te veel aan hul verlede dink, nie vorentoe kan beweeg nie.

Op die voorblad van Die kind uit die wingerd vra Helene de Kock: “Hoe kan ’n mens iemand wees as jy nie weet waar jy vandaan kom nie?” Die mens bly ’n soekende, hunkerende wese. Nog altyd. Dalk is dít die kern van nostalgie.

Ons kuier op die balkon van die woonstel by die studente in Kaapstad. Ek vra hulle wat dit is wat hulle die mééste na die huis laat verlang. “Huiskos!” kom dit in ’n koor. Die mediese student se tyd beperk hom meestal tot boeke en gevallestudies. Dit is die filosofiestudent wat ’n laaste stuiwer in die armbeurs gooi. “Dankie vir jul liefde. Dit is huis.”

Meer oor:  Aniki Joseph  |  Herinneringe  |  Depressie  |  Nostalgie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.