
Erik Holm
Netwerk24
Lees nou die dag ’n studie deur Unisa oor huisroof in Suid-Afrika. Dit spruit voort uit onderhoude met honderde huisrowers in tronke en die statistieke is nie die politiek gedokterde syfers van die polisie nie.
Moord en roof is nie ’n onnatuurlike verskynsel nie. Dit is net wanneer jy iemand van jou eie spesie doodmaak – prooi of ander kompeterende spesies doodmaak is nie moord nie. Moord in die natuur is altyd om rasionele oorlewings- of voortplantingsredes. Dit gaan oor toegang tot wyfies of oorlewingshulpbronne. Ons sien dit meestal in die vorm van rangorde-gevegte of gevegte om territorium, maar dit kan ook die vorm aanneem van oorlog, byvoorbeeld by mier- of byekolonies van dieselfde spesie.
Jaloesie, roof van besittings met moord op die eienaar of oorloë is die hoofredes vir moord by mense – dus ook maar prakties-biologies van aard. Mense verskil wel daarin dat hulle ook sal moord pleeg weens biologies heel irrasionele redes. Oorloë wat gevoer word weens meme (soos geloofsoorloë) gaan nie oor praktiese oorlewingsvoordele nie. Daar is meer moord en oorlog gepleeg weens geloofsverskille en politiek ideologiese verskille as weens praktiese redes.
Die bendes bestaan tipies uit vier lede, tussen 19 en 26 jaar oud, waarvan 97% bewapen is en 30% moordenaars is.
Die Unisa-verslag (crimestatssa.co.za) bevat ’n paar interessante gegewens oor roof- en moordbendes. Die bendes bestaan tipies uit vier lede, tussen 19 en 26 jaar oud, waarvan 97% bewapen is en 30% moordenaars is. Wat my verbaas, is dat net 17% buitelanders is, ondanks die groot bohaai oor ingevoerde misdaad.
Ook insiggewend is dat 90% van rowers nie skool voltooi het nie. Dit is ’n beroep, soos ’n politikus, waarvoor jy nie kwalifikasies nodig het nie. ’n Volle 10% het ander werk gehad, maar oorgeskakel weens beter opbrengste. Die gemiddelde rower voer 103 rooftogte uit voordat hy gevang word. Dit is dus ’n baie laerisiko-ambag en daarby is die veroordelingspersentasie net 7,7%. Die verslag verskaf ook ’n lys van optredes deur hul slagoffers wat rowers behaag of nie.
As roof as ’n beroep beskou word, is ons werkloosheidsyfer veel laer as wat aangegee word.
Die natuurlike ding by roof en moord is dat die slagoffers die geleentheid het om hulself te verdedig en natuurlik daaraan soveel energie (geld) bestee as wat sin maak. In moderne gemeenskappe word dié koste deur die staat aangegaan en van die burgers verhaal deur belasting. Maar hier by ons betaal ons drie keer: eerstens vir ’n onbevoegde polisiediens, tweedens vir die enorme private beveiligingsbedryf en derdens deur die willose wetstoepassing wat van albei in elk geval ’n grap maak.
In ’n huisrooftog is die rower se kans om skotvry weg te kom 85%, die slagoffer wat hom verweer 0%. Die Engelse het vroeër hul misdadigers na Australië verban. By ons word net die hoogs gekwalifiseerde en bevoegde werkers middels SEB na Australië verban. Misdaad hier, lyk dit my, is nou om ’n bekwame wit man te wees!
* Prof. Holm is 'n entomoloog.