Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat is politieke inkorrektheid?

Herman Toerien skryf verlede week op Maroela Media ’n artikel oor politieke kommentators (in die Afrikaanse media) en politieke inkorrektheid. Oor albei onderwerpe het ek probleme met sy redenasies.

Hy gaan van die vertrekpunt uit dat (ek neem aan) Maroela Media politiek inkorrek is.

Volgens hom is daar twee groeperinge waarin politieke inkorrektheid geld – die een is “regs” en die ander die “antitese van die Seunse Weenkoor” – Piet Croucamp as liberalis en Max du Preez as “leftie” (vergewe my as ek nie hierdie logika verstaan nie).

Ek neem aan Croucamp en Du Preez kom ter sprake omdat hulle nie so maklik in ’n ideologiese kamp ingedeel kan word nie.

Die tweede groep politiek inkorrektes is “diegene wat vakkundig korrek en politiek onverbonde probeer bly”.

Dit laat die vraag: Watter media is politiek korrek? “Politiek korrek” is natuurlik ’n skelwoord wat beteken dat rubriekskrywers slaafs die politiek van die dag navolg en die regering van die dag se beleide verdedig.

Ons moet dus aanneem dat diegene wat vir die hoofstroom- Afrikaanse media skryf, almal politiek korrek is.

Ons moet dus aanneem dat diegene wat vir die hoofstroom- Afrikaanse media skryf, almal politiek korrek is.

Ek aanvaar dat Toerien enige kritiek op Afrikaners se doen en late, Afri­Forum en Solidariteit as politiek korrek sal interpreteer.

Wat Toerien miskyk, is dat hierdie selfde rubriekskrywers net so krities van die ANC, die DA, die EFF en ander groeperinge is. Dit is wat ons gebalanseerde kommentaar noem.

Vakkundige kennis is baie belangrik en daar is waarde daarin om onafhanklik te bly sonder om die mondstuk van ’n belangegroep te word. Dis die enigste manier to speak truth to power.

Kommentaar op die afgelope verkiesing het my lank laat dink oor die re­levansie van vakkundige kennis, want ek het nog nooit so ’n konglomerasie van kommentators (sonder vakkundige kennis) gesien wat soveel onsin kwyt­geraak het nie. In die tyd van die digitale media dink elke Jan Rap en sy maat hulle kan kommentators wees.

Politieke korrektheid verwys na terme wat gebruik kan word om te verhoed om aanstoot te gee of om onsensitiwiteit teenoor sekere (gemarginaliseerde) groeperinge te openbaar.

Die term “politiek korrek” word dikwels teen ander gebruik deur diegene wat hul eie diskriminerende beskouings en gedrag wil verbloem.

Wat my meer opgeval het, is dat Toerien net twee vroulike rubriekskrywers in sy skrywe noem – Alida Kok en Rhoda Kadalie (die ikoon van die polities inkorrektes).

Al die ander name is van mans. In die eerste plek is daar nie so baie vroue nie, en tweedens dink Toerien dalk dat hulle almal “politiek korrek” is.

Wat belangrik is, is die ervaring van vroulike rubriekskrywers – die seksisme en haatspraak teen vroue, ongeag of hulle politiek korrek of inkorrek is.

Ek kry gereeld e-posse vol haatspraak ongeag die onderwerp waaroor ek geskryf het. Dit kom van regs en links.

Dit is natuurlik die probleem as jy met ’n feministiese lens na die wêreld kyk. Patriargie kies nie kant vir links of regs nie – dit is oral.

Dit bevorder nie die debat om rubriekskrywers in kategorieë van politiek korrek of inkorrek te plaas nie, want stereotipering veroorsaak dat die lesers dan met ’n sekere bril iemand se skrywes lees.

Dit bevorder ook polarisasie onder Afrikaanse rubriekskrywers, wat onnodig is. ’n Mens kan iets uit alle kommentaar leer. Ek wens Kok sterkte toe omdat sy ’n vrou is, maar ek is seker sy kan self besluit watter soort rubriekskrywer sy is.

  • Gouws is professor in politieke wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Amanda Gouws  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.