Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat is regtig fout met SA?
Johanna van Eeden

Jare gelede besoek ek Frankfurt saam met ’n groep joernaliste as gas van die Lufthansa-lugdiens.

Om naby ons gasheer se hoofkantoor te wees, bly ons in ’n hotel naby die lughawe.

Daar is ’n bietjie vrye tyd tussen-in, maar nie heeltemal genoeg om ’n trein stad toe te neem nie. As jy wil, kan jy wel ’n entjie in die woud skuins oorkant die hotel gaan stap, sê een van die toerleiers.

Voor die ingang van die wandelroete deur die woud trek my keel toe en ek keer terug na die hotel. Te bang om alleen in ’n vreemde stad deur ’n donker woud te loop.

Ek dink soms aan daardie oomblik. Hoe irrasioneel dit was. ’n Bondel vrese wat buite konteks deur my kop geskiet het.

Want ek was in Frankfurt, Duitsland. Nie Johannesburg, Suid-Afrika, nie – waar my vrees om selfs net na my naaste winkelsentrum te stap nie werklik ongegrond is nie.

En ek is boonop een van die bevoorregtes. Ek is nie een van die miljoene vroue in Suid-Afrika wat elke dag deur die oop veld moet loop om water te gaan skep by ’n stroom, of donkernag alleen in ’n township vir ’n taxi moet wag nie.

Die uitreiking verlede week van die land se misdaadsyfers stem ’n mens mismoedig. En maak jou kwaad.

Ek kan die mense wat ek ken wat nog nooit onder misdaad deurgeloop het nie op die vingers van een hand opnoem.

Maar wat regtig ontstellend is, is hoe árm misdaad ons maak. Nie weens die verlies aan inkomste as jy ernstig beseer word of versekering as jy kaal gesteel word nie.

Nie weens werkverliese en voedselonsekerheid in die geval van plaasaanvalle nie.

Nie weens al die staatshulpbronne wat ontplooi moet word om misdaad te beskerm nie.

Nie weens al die geld wat diegene wat dit kan bekostig bó en behalwe belasting opdok om private veiligheidsdienste aan te skaf nie.

Dink net vir ’n oomblik watter soort land Suid-Afrika sou gewees het as al dié geld vir die bevordering van onderwys en werkskepping aangewend kon word.

Misdaad maak ons armer omdat dit iets van elkeen van ons steel.

Misdaad maak ons armer omdat dit iets van elkeen van ons steel. Dit beroof Suid-Afrikaners van die geleentheid om mekaar in die volheid van die land te leer ken omdat misdaad ons vul met agterdog en vrees teenoor mekaar.

Dit maak jou bang om al die interessante plekke in Suid-Afrika waar jy nog nooit voorheen was nie, te ontgin.

Dit stroop ons land van inkomste.

Watter regdenkende buitelandse toeris wat sy huiswerk vooraf ordentlik doen, sal dink dis ’n goeie besluit om vakansie te hou in ’n land waar meer as 21 000 mense jaarliks vermoor word?

En watter buitelandse belegger sal meen hiérdie is nou ’n goeie bestemming vir sy geld as hy sien hoe korrupsie soos brandsiek oor die ekonomiese landskap kruip?

Nou word gewaarsku dat daar in die toekoms selfs ’n toename in misdaad gaan wees namate meer mense arm en honger gaan word weens die ekonomiese impak van Covid-19.

Suid-Afrika is die land ter wêreld met die grootste gaping tussen arm en ryk.

Maar dis nie die enigste land ter wêreld met arm en honger mense nie. En misdaad in van daardie lande lyk nie dieselfde as op eie bodem nie.

Kan ons langer armoede en honger die skuld gee vir die ontsaglike wreedheid waarmee onskuldige kinders in Suid-Afrika vermoor word?

Of moes ons wag vir ’n pandemie om ons tot stilstand te dwing sodat ons kan kyk wat régtig fout is met hierdie land?

  • Van Eeden is adjunkredakteur van Beeld.
Meer oor:  Lufthansa  |  Johanna Van Eeden  |  Suid-Afrika  |  Frankfurt  |  Verkragting  |  Misdaad  |  Moord  |  Geweld Teen Kinders  |  Geweld Teen Vroue  |  Fout
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.