Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat maak jóú gelukkig?
Illustrasie: istock

Daar is geen enkele wetenskaplike bewys dat ’n enkellopende of ongetroude mens nie net so gelukkig kan wees soos ’n getroude mens nie, skryf Johannes de Villiers op die vooraand van Valentynsdag.

Wie sou jy raai maak die meeste geld uit Valentynsdag? Sekerlik die mense wat rooi rose verkoop? Die vervaardigers van romantiese kaartjies?

Om nie te praat van wie ook al daardie hartjievormige lekkers maak met boodskappies op soos “I love you” en “You’re special” nie?

Maar daar is ook ’n bedryf vir wie 14 Februarie een van die lonendste dae van die jaar is – die vervaardigers van antidepressante.

’n Paar jaar gelede het die Amerikaanse afspraakwebwerwe True­Beginnings en Meet Market Adven­tures elk omvattende navorsing gedoen oor wat mense op Valentyns-dag doen, vermoedelik sodat hulle mense raad kan gee oor hoe hulle hul geliefdes op dié dag kan bederf.

Maar hul bevinding uit ’n steekproef van meer as 2 000 mense het hulle ietwat onkant betrap: Die meeste mense beskou 14 Februarie as een van die terneerdrukkendste dae van die jaar.

Wie wil dan alleen wees?

As jy daaroor nadink, maak dit nogal sin. Laat ek probeer verduidelik.

Sowat die helfte van die volwasse bevolking is ongetroud, het nooit afgehaak nie, is geskei of hulle het hul geliefde reeds aan die dood afgestaan.

Sowat die helfte van die volwasse bevolking is ongetroud, het nooit afgehaak nie, is geskei of hulle het hul geliefde reeds aan die dood afgestaan.

Dít terwyl die media, politici, kerke en die kultuur in die breë jou probeer oortuig jy kan net gelukkig wees as jy ’n wederhelfte het.

Wat bedoel ons as ons sê ’n liefdesverhaal het ’n gelukkige einde? Die twee hoofkarakters het verlief geraak en by mekaar uitgekom. En wat bedoel ons as ons sê die einde was ongelukkig? Hul verhouding het op die rotse geloop.

Die idee dat die karakters dalk sou besef hulle is optimaal gelukkig as hulle eerder alleen bly, is vir die meeste mense heeltemal vergesog.

Lastige familielede dink niks daarvan nie om op ’n familiebyeenkoms enkellopendes te vra: “Wanneer gaan jy nou eendag trou?”

Maar niemand stap ooit na getroudes en vra: “Wanneer gaan julle nou eendag skei?”, nie.

Maar niemand stap ooit na getroudes en vra: “Wanneer gaan julle nou eendag skei?”, nie. Dis mos ongeskik. Almal neem bloot aan jy wil en moet getroud wees.

Sommige politici spog ook hulle verteenwoordig “gesinswaardes”. Die insinuasie is dat mense wat nie in ’n tradisionele gesin (getroude ouers­ met kinders) is nie, geen waardes het nie.

En kerke val oor hul voete om hul naam te verander na “Sus-en-so-gesinskerk” of “XYZ-familiegemeente”. Die boodskap wat daardeur oorgedra word, is dat lede van gesinne eerste kom, terwyl daar met enkellopendes iets skort.

Sommige gemeentes het wel ’n bediening vir enkellopendes, maar dis net ’n plek waar jy op ’n weekaand kan gaan om ander enkellopendes te ontmoet sodat julle kan afhaak en kan trou. Want wie wil nou tog alleen wees?

Geen wonder daar is ’n Valentynsdag, maar nie ’n Enkelloperdag nie. Die gevolg? Derduisende mense (dalk is jy een van hulle) sit elke jaar op 14 Februarie en kry hulself jammer omdat hulle vas oortuig is hul lewe het nie uitgewerk nie.

Maar wat sê die wetenskap?

In 1938 het die Harvard-Universiteit met een van die wêreld se bekendste studies begin, die Harvard Longevity Study.

Hulle het destyds ’n groep van 268 manstudente se fisieke en emosionele gesondheid gemeet en in die daaropvolgende 80 jaar die groeplede elke paar jaar besoek om te bepaal hoe hul gesondheid oor die jare heen verander het. Op dié manier het hulle ’n redelik volledige prentjie gekry oor wat mense se gesondheid en lewensverwagting bepaal.

Onder meer is in die studie bevind die faktor wat die grootste rol speel in of jy lank gaan leef en gesond gaan wees, is of jy rook en hoeveel alkohol jy gebruik.

En emosionele gesondheid? Mans wat oor die jare heen die volhoubaarste gelukkig was, was dié wat getroud was. Oor die jare heen het ’n paar ander studies soortgelyke bevindings gemaak.

Elke keer dat getroudes met ongetroudes vergelyk is, is bevind die getroudes is in die algemeen gelukkiger. Totdat dit later as ’n heilige waarheid in die sielkunde verkondig is: As jy gelukkig wil wees, moet jy sorg dat daar ’n ring aan jou vinger is.

Trou los nie probleme op nie

Maar toe verskyn Bella DePaulo, ’n sielkundeprofessor aan die Universiteit van Kalifornië, op die toneel.

Kan dit wees, het sy gewonder. Die wetenskap toon getroude mense is gelukkiger as ongetroudes, maar sy is ongetroud en is 100% tevrede met haar lewe.

Soos dit ’n goeie akademikus betaam, het DePaulo toe na die data gaan kyk. En daar het sy ’n onverwagte bevinding gemaak: Ja, as jy getroude en ongetroude mense vergelyk, is die getroudes byna altyd gelukkiger.

Maar wat presies word bedoel met “ongetroude” mense? Almal weet wat ’n “getroude” mens is – daar is ’n regsdefinisie daarvoor.

Maar “ongetroud” kan baie dinge beteken. Dit verwys na mense wat nie getroud is nie, ja, maar dit verwys ook na geskeide mense, weduwees en wewenaars.

Geskeide mense, weduwees en wewenaars is vir minstens drie jaar ná die einde van hul huwelik of afsterwe van hul wederhelf ongelukkig – en begryplik so.

Maar is dit akkuraat om hulle saam met mense wat nooit getrou het nie in een groep in te deel?

DePaulo het toe die data rondgeskuif, die geskeides, weduwees en wewenaars uit die steekproewe verwyder en bloot die geestelike gesondheid van getroudes vergelyk met die blydskapvlakke van mense wat nooit getrou het nie.

En raai wat het sy bevind? Daar is geen verskil nie.

Mense wat trou, is wel ’n paar maande voor en ná hul huwelik ’n bietjie gelukkiger as die res (iets wat sy die “wittebrood-effek” noem), maar kort voor lank stabiliseer hul blydskapvlakke weer tot waar dit voor die troue was.

Die les: As jy nie gelukkig op jou eie kan wees nie, gaan trou nie jou probleme oplos nie.

Die ‘matrimaniese’ samelewing

Kenners noem dit deesdae “matri­manie”, ’n samevoeging van die woorddele “matri” (wat na die huwelik verwys) en “manie” (’n irrasionele geesdrif vir iets).

Ons woon in ’n matrimaniese samelewing wat onrealistiese verwagtinge van die huwelik het.

Ons wil glo dat daar niks so gelukkig soos ’n stralende bruid is nie en niks so treurig soos ’n oujongnooi of oujongkêrel wat alleen by die huis is nie.

Studies wys mense sukkel om ongetroude politici en enkellopende predikante te vertrou. Baie mense neem sommer aan as jy alleen woon, moet jy ongelukkig wees.

Maar, het DePaulo in haar verdere navorsing bevind, enkellopende mense het in die algemeen groter vriendekringe as getroudes.

Ongetroude mans en vroue is meer geneig om vir hul bejaarde ouers en ander familielede te sorg as getroudes.

Ongetroude mans en vroue is meer geneig om vir hul bejaarde ouers en ander familielede te sorg as getroudes. Enkellopendes is meer betrokke by welsynwerk en ander gemeenskapsorganisasies.

Waar getroudes se lewe al hoe meer na binne keer en hulle hul naweke tuis deurbring, is ongetroudes meer betrokke in hul gemeenskap.

Natuurlik beteken dit nie daar is iets met getroude mense verkeerd nie. As jy gelukkig genoeg is om die man of vrou van jou drome te ontmoet en saam met hulle grys te kan word, hoera vir jou.

Maar as die lewe jou daartoe lei om sonder ’n huweliksmaat oor die weg te kom, weet daar is geen enkele wetenskaplike bewys dat jy nie net so gelukkig kan wees nie.

Bederf jouself vanjaar op 14 Fe­bruarie. Maak jou gunstelingdis, sak rustig saam met die hond en kat op jou leunstoel terug en geniet jou gunstelingfliek­ of -TV-program. (En as dit ’n liefdesverhaal is, onthou om nie als te glo wat hulle jou probeer wysmaak nie.)

  • De Villiers is die skrywer van onder meer Blydskap – Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe.
Meer oor:  Johannes De Villiers  |  Getroud  |  Valentynsdag  |  Antidepressante  |  Liefde  |  Enkellopend
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.