Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat ’n bisarre veldtog vir ons pioniersvroue

Kyk ek iets mis? Op televisie wys DStv een van sy vrouemaand-insetsels. Dis Janine van Wyk, Banyana Banyana se kaptein, wat vertel van vroue se stryd op ’n terrein wat deur mans oorheers word. Min dinge daar buite is eintlik maklik vir ’n vrou, sê sy, maar druk net deur en bly in jouself glo.

Terwyl sy praat, wys hulle egter geen sokkerhoogtepunte nie, maar meestal nabyskote van hoe Janine in die ateljee byna forensies gegrimeer word.

’n Rukkie later kom die sportaanbieder Elma Smit se insetsel aan die beurt. Weer is dit die mooimaaksessie wat gewys word, hierdie keer met ’n veel groter voorraad grimeermiddels. Elma kry laag op laag bloedrooi lipstiffie.

Sy vertel van “living the wonderful version of yourself” en die uitdagings wat sy as vrou in die rugbywêreld te bowe moes kom. Daar is geen wegsnyskote van Elma by die Wêreldbeker nie, net skote waar sy in die ateljee met die hand op die heup poseer en met een hand in haar hare vroetel.

Sy is veel meer as net ’n mooi gesiggie en dinamiet kom in klein pakkies.

Ek gaan kyk op DStv se webwerf waar hulle meer vertel van hierdie “WomenAre”-veldtog. Daar beskryf hulle Elma onder meer as “this stunningly feminine woman”.

Maar volgens watter definisie? En watter vroue word hierby in- of uitgesluit?

kykNET se “bubbly brunette” Lindsey Abrahams is luidens DStv “as captivating in the flesh as she is on screen”. Hoekom is dit nodig om haar onmiddellik as ’n brunet te beskryf?

En daardie “borrelend” laat ’n mens vrees dat twee ander clichés binnekort kan volg: Sy is veel meer as net ’n mooi gesiggie en dinamiet kom in klein pakkies.

Die insetsel oor maj. Mandisa Mfeka, die eerste swart vrou in Suid-Afrika wat as vegvlieënier gekwalifiseer het, is darem beter. Sy praat met gesag oor “to be authentic”. Ons sien woorde soos “determined” en “resilient”.

Maar so waar as wragtag, die oomblik toe sy die woorde “male-dominated” uiter, sny die kamera weg na waar die immer gewillige grimeerkunstenaar se poeierkwas oor Mandisa se wange dans. Waar is die beeldmateriaal van haar in ’n vliegtuig se kajuit?

Die SuperRugby-anker Motshidisi Mohono word bekend gestel as “[someone who] doesn’t exactly embody what one might visualise when we say ‘sports buff’.” Regtig? Plaas hulle Mohono dalk hier teenoor ’n gestereotipeerde manlike sportondersteuner? (Net as verwysing, tydens die uitsending van die Olimpiese Spele in Atlanta in 1996 het my wederhelf se krete van “Hol, boetie, hól!” Josia Thugwane na die marathon-wenpaal gedra.)

Maar wat sê DStv nou eintlik met hierdie goedbedoelde insetsels? Gaan druk jou stempel in die wêreld af, maar onthou om hemelsnaam die grimering? Bisar.

Kom ons praat eerder oor iets soos ongelyke salarisse en takel hierdie kwessie van daar af.

Meer oor:  Dstv  |  Bun Booyens  |  Veldtog  |  Vroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.