Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat onteiening van grond vir jonges beteken

Die ontwikkelinge oor grondonteiening sonder vergoeding is belangrik vir ons grondwetlike demokrasie. Die meegaande openbare sittings wys ons demokrasie werk.

Thapelo Molefi
Thapelo Molefi.

Nogtans is die vraag of ons jeug voordeel gaan trek uit grondonteiening en of dit bloot dieselfde pad gaan volg as die swart ekonomiese bemag­tiging (SEB) wat goedgunstiglik diegene bevoor­deel wat na aan die heersende elite is.

Laasgenoemde mening word sterk in sommige kringe in ons gemeenskap uitgespreek. Dit spruit daaruit dat ons naburige Zimbabwe ’n intensiewe grondhervormingsbeleid toegepas het wat deur baie as ’n sege vir gewone burgers toegejuig is. Maar jare later is besef dat die meeste bevoordeeldes diegene na aan die heersende elite, eerder as gewone burgers, was. Reg of verkeerd, het dit tot ’n sterk narratief gelei dat as die saak nie korrek behartig word nie, sal Suid-Afrika nog ’n Zimbabwe wees.

Tuis is ons jeug werkloos en grondloos, maar tog hoopvol dat dinge wel ten goede sal uit­werk.

Dit blyk daaruit dat hulle aanhou studeer en gretige entrepreneurs is.

Die bevoorregtes wat werk het, is eerstegeslag-middel­klaswerkers in hul families. Dit lei daartoe dat hulle oorbelas is en gevolglik skuld het.

Sommiges wat gemoedsrus nastreef, word selfs huurders op hul tuisdorpe. Die voorgestelde wysiging van die Grondwet laat die jeug hoop dat die regering met die proses van grondonteiening residensiële grond aan hulle beskikbaar sal stel.

Tuis is ons jeug werkloos en grondloos, maar tog hoopvol dat dinge wel ten goede sal verander.

Die hoop beskaam. Dit lyk asof die regering residensiële grond slegs vir die bou van HOP-huise, soms aan die rand van stede en dorpe, beskikbaar stel. ’n Beduidende aantal jeugdiges stel nie in staatsgefinansierde HOP-huise belang nie, maar wil hê die regering moet residensiële grond beskikbaar stel sodat hulle hul droom­huise daarop kan bou.

Die jeug is nie net gretig om grond vir woon­huise te bekom nie, maar ook dat landbougrond aan hulle beskikbaar gestel word. Landbougrond sal veral verwelkom word deur diegene wat reeds die nodige vaardighede het om die land­bou­grond te bewerk.

My skrywe spruit uit die besondere narratief wat daarop gegrond is dat “grond” vir die stedelike jeug “residensiële grond” beteken. Vir hulle beteken dit die beskikbaarheid van grond vir die bou van hul droomhuise en die vestiging van jong, florerende gemeenskappe. Die gesprek word aangespoor deur ons geskiedenis van grondontneming, migrasie en verstedeliking, wat die stedelike jeug van landbougrond ver­vreem het. Dat stedelike jongmense eerder vakmanne as grondbewerkers is, staaf dit.

Sommige voer wel aan dat die landelike jeug eerder in stede wil werk as om landelike grond te bewerk. Ander navorsers meen as jongmense plaasgrond aan die rand van die stad kry, sal hulle dit weier, omdat plaasverblyf vir hulle iets anders beteken.

Vir jongmense beteken grondhervorming tog ’n belegging in die toekoms van die jeug én van Suid-Afrika, ongeag watter grond toegeken word. Dit beteken dat munisipaliteite residen­siële grond aan die stedelike jeug beskikbaar moet stel, en daarna ander grond.

  • Molefi is ’n opvoedkundige en navorser van Bloemfontein.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.