Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat sê dit as ambulanse aangeval word?
Annelie Botes

Saterdagoggend het ek met kwelsiekheid by die stoeptafel gesit nadat ek die koerant gelees het. Nie eens die laaste slukkies oggendkoffie kon my ontsteltenis demp nie.

Die voorbladberig van 12 ambulanse wat in een week tydens onluste in die Oos-Kaap aangeval is, het iets in my gemoed gesneller.

As één ambulans aangeval is, sou dit reeds erg genoeg gewees het. Maar 12 . . . Oor en oor het ek myself afgevra wat dit beteken. Is dit ’n tendens? Indien wel, in watter soort samelewing lewe ons?

As my geskiedenis te vertrou is, bepaal art. 19 van die Geneefse Konvensie van 1949 dat dit ’n oorlogsmisdaad is om ambulanse en mediese instellings in oorlogstyd aan te val.

In Mei 2018 bepaal die kabinet in Victoria, Australië, dat aanvalle teen nooddienste ’n kategorie 1-misdaad is, gelyk aan moord en verkragting. Die oortreder kan wéét die tronk is sy voorland. Rapport het op 10 Desember 2017 berig: “Die Grondwet maak voorsiening dat die president ’n noodtoestand kan verklaar wanneer die veiligheid van die nasie bedreig word deur oorlog, inval, opstand, natuurrampe of ’n ander noodsituasie.”

Die pasiënte in ’n ambulans is nou wel nie die hele nasie nie. Maar hulle tel onder die kwesbaarstes.

Die pasiënte in ’n ambulans is nou wel nie die hele nasie nie. Maar hulle tel onder die kwesbaarstes. Mense wie se lewe soms aan ’n draadjie hang; wat nie by magte is om terug te baklei nie. Ook die ambulanspersoneel wat hul lewens probeer red, verkeer in ’n aanval in lewensgevaar.

Watter soort mentaliteit het sulke doelgerigte aanvallers? Is dit nie gelykstaande aan ’n oorlogsmisdaad wat tronkstraf verdien nie? Ons kinders in Engeland sê daar is dit ’n misdaad as jy nie ’n ambulans voorrang gee nie of sy pad versper.

Ek en die gryse het die gewoonte om summier pad te maak wanneer ons ’n loeiende ambulans hoor sodat dit verby kan kom. Dan haal een van ons áltyd John Donne aan: “. . . for whom the bell tolls.”

Dan wonder ons wie verkeer in ’n ernstige mediese krisis, en ons dink met medelye aan ’n familie wat ’n katarsis beleef. Wie sê nie die laaste ghong sal vandag vir hulle slaan nie?

Om dan op ’n sondeurdrenkte Saterdagoggend te lees dat 12 ambulanse in een week in die Oos-Kaap alleen aangeval is, is genoeg om enige mens se maag te laat omdop.

Om dan op ’n sondeurdrenkte Saterdagoggend by die stoeptafel te lees dat 12 ambulanse in een week in die Oos-Kaap alleen aangeval is, is genoeg om enige mens se maag te laat omdop.

En te laat raai oor waarheen die orde in die samelewing op pad is. Want dit kon jóú kind of pa of suster wees wat in daardie ambulans om hul lewens geveg het.

Tog, wat kan ék daaraan doen? Niks. Behalwe om ’n pleitroep die bloue hemel in te stuur in die hoop dat dit iewers op die gewete van sulke geweldenaars sal insink.

En dat hulle in die tronk sal beland as poten­siële moordenaars. Want in ’n samelewing waar medemenslikheid baie punte behoort te tel, is sulke gruwels onnodig.

Dis skrikaanjaend dat die klok twee maal vir die heel kwesbaarstes sal lui.

Meer oor:  Annelie Botes  |  Ambulanse  |  Koerant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.