Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat sê ons tyd in soveel stilte?

In ’n pandemie het ons geleer om in stilte te kommunikeer, skryf Abraham H. de Vries.

Eensaamheid het vrees geword wat in die stiltes tussen ons lê. Foto: ISTOCK

Met die eerste grendeltydperk verlede jaar het ek hier in Kaapstad al agtergekom: dié stilte is nie net ’n gebrek aan die bekende geluide en lawaai van ’n stad se strate en stemme, van wind en weer nie.

Wat was met ons aan die gebeur?

Ons het begin om mekaar nie meer met die hand te groet nie, nie aande lank met vriende te gesels nie. Waar ons loop, moes ons nie nader nie as anderhalf meter weerskant van mekaar beweeg. Pamflette en koerante wou dat ons ons kinders van jongs af dit leer.

Nederlandse kollegas het begin praat van “anderhalf samelewings” waar gemeensaamheid, medemenslikheid en beïnvloeding stil aan die verdwyn was. Die waarde van instink en sosiale verkeer het verlore gegaan, het plek gemaak vir iets dodelik onsigbaar.

Eensaamheid het vrees geword.

As boorling van die Klein-Karoo, die droë wêreld waar alles deurdrenk is van medemenslikheid, wou ek weet wat het dáár verander? Ek het dié wêreld lief, ek is deel van Kannaland.

Word die outydse godsdienstige plate nog gespeel op groot spelers op die sypaadjie voor die stadsaal? Kom die aartappels en pampoene en wortels agterop die vragmotor van die plaas af? Koop almal nog die week se benodigdhede by die winkel met die bekende naam? Staan mense nog voor die Duitse kerk met mekaar en gesels? Vertel hulle in die kafee van die doen en vrese van die kinders in die buiteland?

O, ja, hulle probeer, hulle probeer almal. Maar verlede week was daar net ’n bakkie of twee voor die boerekoöperasie en voor die wynkelder. Al moet die druiwe binnekort geoes word. Wie gaan die wyn aan wie verkoop? Wanneer?

Dit word nou in ’n wet voorgeskryf.

Eensaamheid het oral “minstens gesond lewe” geword. Al dra jy ’n polshorlosie om jou te waarsku teen ’n wêreldwye dodelike virus.

Ons werk nie meer op kantoor nie. Ons sit alleen tuis boodskappe en tik, ons werk by die huis soos kollegas by hulle s’n. Geriefliker en eensamer. Ons neem musiek, beelde, boodskappe op met ons telefone, stuur dit weg en wag op antwoorde.

Hierdie stiltes is nie beperk tot plekke nie, dit dwaal al eeue oor al wat berge is en dale. Strate en stede. Selfs oorlog en vrede.

Abraham H. de Vries

Daar is lande waar stilte die gevolg was van oorlog. Victor Klemperer (Tot het bittere einde) en Harry Mulisch (Het stenen bruidsbed) noem die verswelgende stilte die oggend van 14 Februarie 1945 in die gebombardeerde kunsstad Dresden. Die lug was leeg ná die bombardemente deur die Geallieerdes die vorige aand en die Amerikaners die daaropvolgende oggend. Hier en daar ’n sagte kraakgeluid: Fluisteringe van die dood.

Daar is “abnormale” stiltes wat “normaal” is.

Daar is lande waar die inwoners swygend luister – van Tsjeggo-Slowakye tot die Tankwa-Karoo.

Vroeër het ons met mekaar gepraat, nuus meegedeel, mekaar gewaarsku met telefone, briewe, telegramme; nou kommunikeer ons met Skype, Zoom, Whats­App, lees ons e-koerante.

Maar nog nooit het ons met mekaar gekommunikeer in groter stiltes nie.

  • De Vries is ’n skrywer.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.