Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat sit agter dekolonisering?

Verlede week het ’n groep besorgdes in Maties se biblioteekouditorium byeengekom om, breedweg gestel, ’n gesprek oor die hantering van ras in die akademie van stapel te stuur.

In die besielde heen-en-weer tussen onder meer akademici, gemeenskapsleiers en aktiviste het dekolonisering en die afbreek van die patriargie herhaaldelik aan bod gekom.

Dit was natuurlik die berugte joernaalartikel oor die wankelrige kognitiewe vermoëns van bruin vroue wat deur ’n viertal Maties gepen is en wat in ’n Britse vaktydskrif aan’t verskyn was wat dié byeenkoms genoodsaak het.

Die sentrale beswaar, soos ook teen die artikel wat onlangs uit Ikeys se bestuurskool gekom het, is dat dit op die uitgediende intellektuele premis gebou is. Naamlik dat ’n sekere rasgroep oor bepaalde inherente eienskappe beskik.

Na hierdie gevaarlike lees, waarop ’n groot stuk apartheid-denke geskoei is, word dikwels as rasse-essensialisme verwys. Sannie is ’n bruin vrou. Daarom, só loop die argument, volg dit soos dag op nag dat sy lui, dranklustig en libido-gedrewe is. Verander die ras en druk “ensovoorts”.

Dít kom op ’n vorm van biologiese determinisme neer. Om ’n norring redes is dit verwerplik. Vernaam omdat dit die rug keer op al die baie kennis wat in byvoorbeeld die sosiale antropologie verwerf is, naamlik dat ’n mens se denke en optrede veel meer deur omgewing as enigiets anders beïnvloed word.

Sannie is ’n bruin vrou. Daarom, só loop die argument, volg dit soos dag op nag dat sy lui, dranklustig en libido-gedrewe is.

Prof. Jonathan Jansen, ’n buitengewone professor in die Opvoedkunde aan die US, het welluidend sy verbasing uitgespreek dat almal só verbaas is oor die strekking van die artikel. Hy het op tesis na tesis wat in die afgelope honderd jaar aan die US verwerf is verwys wat juis op dié denkbasis gebou is.

Tog, soos prof. Amanda Gouws, een van die gesprek se medeorganiseerders, gemeld het, is daar wel aan die US ’n lang tradisie van presies die tipe kritiese vraagstelling van onder meer ras en gender wat nou allerweë geëis word.

Ek onthou kristalhelder hoe Wilhelm Verwoerd, toe ’n lektor in Politieke Filosofie, in die vroeë 1990’s ons tweedjaarklas laat steier het met die stelling dat, soos UNESCO in 1950 reeds verklaar het, ras ’n mite is.

Dat dit wat ons op die oog af so verskillend laat lyk ’n piepklein greep-DNS omsluit. Ook het hy ons aan Sáám in Afrika, ’n boek deur die teoloog prof. Attie van Niekerk, toe van die magies-klinkende Turfloop, bekendgestel.

Dis juis Van Niekerk wat in ’n openbarende artikel wat verlede week op LitNet verskyn het, worstel met die rol van ’n Afrika-bewussyn in universiteite in ’n nie-Westerse konteks.

Onder meer sê hy die aanspraak op dekolonisering, wat 25 jaar na die formele afbreek van apartheid dalk vir baie wit Suid-Afrikaners ietwat verrassend is, moet soos volg verstaan word.

Al was die stryd teen apartheid vir baie teenstanders daarvan met die ideale van swartbewussyn vervleg, was daar ook heelwat (wittes?) vir wie dit gewoon oor die afbreek van onderdrukking en ongeregtigheid was. Laasgenoemdes het hulle vir ’n Westers-gekonsipieerde stel waardes beywer.

Die versugtig na dekolonisasie, sê Van Niekerk, is deels ook ’n reaksie op die einste Westerse waardestelsel wat in apartheid se vaalwater gekom het.

Dis ’n uiters verwikkelde debat. Tog moet ’n mens die deelnemers daaraan se erns nie onderskat nie.

Diegene vir wie dít als darem net te dik vir ’n daalder is, moet Muzi Sikhakhane SC, oud-president Jacob Zuma se advokaat, in gedagte hou. Verlede week het die hof in Pietermaritzburg ’n Engelse stokkie voor sy poging gesteek om sy openingsrede in Zoeloe te lewer.

Dít kan tog sekerlik nie reg wees nie.

  • Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde.
Meer oor:  Maties  |  Bruin Vroue  |  Akademie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.