Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat sit agter die xenofobie op ons strate?
Martie Retief Meiring

Straataf klink ’n vreeslike tumult op. Ek loer deur die venster (die spreekwoordelike ou dame wat alles van agter haar kantgordyn sien).

Nes ek gedink het: dis ons geliefde bergie wat gewoonlik vroegoggend uit vullisblikke skarrel, maar wat nou, sonder haar trollie, twee jong manne en twee meisies staan en uitkryt. Kan nie alles uitmaak nie, maar duidelik verjaag sy hulle. Toe sy by my verby kom, is sy nog omgekrap: “Hulle moet bly waar hulle is. Wat soek hulle hier?”

Ek vra vanwaar hulle dan kom.

“Hoe sil ek weet,” skreeu sy deur die venster. “Hulle kom van anneplek af. Hulle moet daar bly.”

Sy is vies vir inkommers. Skel, mompel, armswaaiend. Dik vies. Inkommers, immigrante, vlugtelinge, xenofobie. Ons ken die woorde. Selfs hier onder my venster.

Die verskynsel speel op TV af: bakstene, bande, brande, plunder, jillende, gillende mense wat weghardloop van ’n paar polisiemanne, of van die ontstoke opstokers. Is dit die “Somali’s” (die versamelwoord vir buitelanders) of plein plaaslike rampokkery?

Wat is die oorsaak van hierdie uitbarstings? Kulturele verskille? Afguns?

Wat is die oorsaak van hierdie uitbarstings? Kulturele verskille? Afguns?

’n Maatskaplike werker wat in die uitgestrekte Kaapse Vlakte werk, gee ook ’n ander mening: minderwaardigheid.

Die opvatting is dat die “inkommers” wat winkeltjies bedryf, lenings gee, meer geleerd is as meeste van die plaaslike mense. ’n Wydlopende storie is dat wit mense eerder vir buitelanders werk wil gee, want hulle het die sertifikate.

Maar hoe vergelyk die aanvaarde syfer van net 3,5 miljoen immigrante in ’n bevolking van nagenoeg 59 miljoen? Ja, maar om die teenkant te opper – wat van al die onwettige immigrante wat werk hier kom kry?

Dalk is dit ’n oorvereenvoudiging.

Die Europese Unie het verskeie afdelings wat die verskille in die oorsake en gevolge van migrasie ondersoek. Vlugtelinge van oorloë teenoor ekonomiese vlugtelinge word ondersoek, nie net wat betref getalle nie, maar ook oor die sosiologiese en veral sielkundige invloede.

Die proses van migrasie sluit voorafbeplanning in, dan volg die implementering en die gevolge wat veral emosionele aanpassing en geestesgesondheid raak.

Inheemse gedrag in bestemmingslande word ook geraak. Navorsing wil dit hê dat daar 1 000 vlugteling-moorde plaasgevind het in die eerste maand van Donald Trump se termyn. Voorspellers meen ook dat die “nasionalisme” van Brexit immigrasie sal stuit. Indië het pas amper 2 miljoen mense as onaanvaarbaar verklaar as hulle nie kan bewys dat hulle of hul voorsate vóór 1970 in Indië gewoon het nie.

Hoe kan Jeppestown, Turffontein, Alexandra ontlont word? Die maatskaplike werker reken dat ’n honger maag uiteindelik nie maklik ontlont kan word nie.

Meer oor:  Martie Retief Meiring  |  Migrante  |  Xenofobie  |  Rassehaat  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.