Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat soek Zweli nog in kabinet?
Johanna van Eeden

Hoe lank gaan pres. Cyril Rama­phosa nog deur ’n pandemie kan voortstoom met ’n minister van gesondheid wat met spesiale verlof is?

Ramaphosa het dr. Zweli Mkhize al op 9 Junie op spesiale verlof geplaas. Dit is hangende Mkhize se beweerde betrokkenheid by die toekenning van onreëlmatige kontrakte aan Digital Vibes, wat aangewys is om kommunikasie oor die Covid-19-pandemie namens Mkhize en sy departement te hanteer.

Ramaphosa het gesê hy sal wag totdat ’n verslag oor die aangeleentheid beskikbaar is voordat hy verder optree. Dié verslag het hy reeds op 6 Junie gekry, maar voordat die president iets kon doen, breek die hel in KwaZulu-Natal los en spoel oor na Gauteng. In ’n sta­dium is die plundery deur Ramaphosa se kantoor aangevoer as die rede dat hy nog nie op die verslag gereageer het nie.

Bewerings word meer

Intussen is daar ál meer bewerings wat Mkhize en sy seun Dedani op die een of ander manier met ongerymdhede verbind. Die spesiale ondersoekeenheid beveel aan dat Mkhize strafregtelik vervolg word, R22 miljoen van Digital Vibes se bank- en beleggings­rekenings is bevries, en daar is pogings om R4 miljoen van die Mkhize-gesin terug­ te eis. Maar Ramaphosa swyg.

Een van die onderliggende partypolitieke kwessies wat Ramaphosa se besluitneming moontlik beïnvloed, is die steun wat Mkhize weens sy gewildheid in KwaZulu-Natal vir Ramaphosa in dié provinsie kan werf.

En hoe versoen ’n mens dit dat een van die hoofverdagtes ’n mediese dokter is? In die middel van ’n pandemie?

As dit die kernrede is dat Mkhize nog met spesiale verlof is en nie lankal­ gevra is om sy kantoor te ontruim nie, wys dit Ramaphosa se politieke steun in die ANC weeg vir hom swaarder as nasionale belang. Wat eintlik jammer is. Want sou Ramaphosa ferm optree teen Mkhize, sou hy moontlik wyd steun daarvoor gekry het . . . behalwe dat dit hoofsaaklik van buite die ANC-kring sou wees. En dit sal hom min help in die aanloop tot ’n moontlike tweede termyn as ANC-president.

In Julie 2020, terwyl Suid-Afrika nog besig was om die onbekende waters van die pandemie te betree, het Ramaphosa belowe daar sal geen ruimte vir korrupsie wees met Covid-19-geld nie. Pla dit hom nie dat ’n lid van sy binnekring betrek word by dié soort korrupsie en hom derhalwe soos ’n gek laat lyk nie?

Suiwer gierigheid

Hoewel onthullings oor korrupsie waarby staatsamptenare en ministers betrek word oor die jare heen deel van ons nuussiklus geword het, is die Digital Vibes-kwessie tegnies nie staatska­ping nie. Daar is geen Gupta-broeder of verskuilde politieke motief nie. Wat ter sprake is, is blote gierigheid.

En hoe versoen ’n mens dit dat een van die hoofverdagtes ’n mediese dokter is? In die middel van ’n pandemie?

Sedert hy op spesiale verlof geplaas is, het Mkhize laag gaan lê. Al wanneer ons van hom hoor, is as hy die jongste bewerings teen hom ontken. Vóór dit was hy aan die voorpunt van die pandemie en is die daaglikse Covid-19-syfers byvoorbeeld klokslag van sy Twitter-rekening gestuur. Op dié platform, waar sy profiel aangedui word as “Former Treasur­er General Current Minister of Health”, swyg hy sedert 6 Junie (drie dae vóórdat sy spesiale verlof begin het) soos die graf.

Suid-Afrikaners wag nie dat die ANC teen Mkhize moet optree nie. Vir almal buite die party is sulke optrede nutteloos. Die land wag op Ramaphosa om Mkhize af te dank of hom – te midde van bespiegeling oor ’n kabinetskommeling – te vervang met ’n minister van gesondheid wat die land deur die pandemie kan lei.

Dis nie net die regte ding om te doen nie, dis onafwendbaar. Hoe langer Ramaphosa níks doen nie, hoe langer stuur dit die verkeerde boodskap uit.

  • Van Eeden is meningsredakteur van Beeld en Die Burger.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.