Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Wat ‘solidariteit’ in Suid-Afrika behoort te beteken

Daar is te veel ontredderde, weerlose en erbarmlike mense in Suid-Afrika om aan ’n verdeelde en verdelende solidariteit te bly vashou, wat ook al die regverdiging daarvoor mag wees, skryf Nico Botha.

Nico Botha

In Suid-Afrika het die woord “solidariteit” uiteenlopende interpretasies.

Hierdie verskille in die verstaan van die woord maak dit feitlik onmoontlik om solidariteit op ’n eenvoudige manier te verstaan as menslike solidariteit en daarom as die solidariteit van alle Suid-Afrikaners met mekaar – iets wat hulle in staat stel om deur dik en dun bymekaar te staan.

Met die bekendmaking van die Solidariteit Beweging se 2030-planne kan ’n mens amper sonder vrees vir teenspraak sê dat solidariteit die betekenis dra van ’n saamstanery van mense uit die Afrikaner- kultuurgemeenskap.

Dat die omvang van die planne ’n mens na jou asem laat snak, is nie altemit nie. Terselfdertyd kan ook nie ontken word dat dit die mond laat water nie omdat daar ’n stille wete bestaan dat daai planne op grond van die beskikbare en te verkreë middele, menslike hulpbronne, vernuftigheid en vaardigheid uitgevoer sal word.

Die vraag ontstaan egter of daar nie tog – watter regverdiging daar ook al mag wees, selfs met ’n beroep op die Grondwet – met ’n verskraalde verstaan van “solidariteit” gewerk word nie. Selfs al word die sektor van die Afrikaanssprekende gemeenskap wat as “bruin” geïdentifiseer word, ingesluit.

Maar ook hier is dit moeilik om met goeie omskrywinge te werk, want in die bekendmaking van die planne is dit al asof daar verwarring bestaan oor wie ter sprake is in die onderskeid tussen “Afrikaners en Afrikaanssprekendes” of “Afrikaner-kultuurgemeenskap en die Afrikaanse taalgemeenskap”.

‘Solidariteit en apartheid’

’n Ander voorbeeld van hoe die woord solidariteit aangewend word, is die manier waarop die vakbondleier, Zwelinzima Vavi dit verstaan.

In ’n televisieprogram maak hy duidelik dat een van die grootste ellendes vandag in Suid-Afrika die gebrek aan solidariteit is.

Maar hyself werk tot ’n mate ook maar met ’n verengde interpretasie van solidariteit as hy dit byna uitsluitlik as ’n klassesolidariteit verstaan. Natuurlik bly die klasse-onderskeid en die gaping tussen ryk en arm ’n ernstige kwessie in dié land. Die vraag is egter of klassesolidariteit werklik die swart werkersklas en die wit werkersklas bymekaar sal uitbring. (En dan praat ons nie eens van die miljoene werklose armes in die land nie.)

Dit lyk nie so nie. In die praktyk word hulle steeds op grond van velkleur verdeel. Dis uiteraard na alle kante toe verskriklik moeilik om aangeleerde gewoontes af te leer. Die stelsel van apartheid het op ’n spesifieke manier aan wit solidariteit gestalte gegee, maar ook aan swart solidariteit. En waar dié solidariteite in harde kontant vertaling vind, is dit des te moeiliker om daarvan af te sien. En tog moet ons.

Om net na seksionele belange om te sien, is om solidariteitloos te lewe. En om sonder solidariteit te lewe, is amper gelykstaande daaraan om sonder God te lewe. Wanneer ons krampagtig vashou aan die gewaande sekerhede van vooruitgang en sekuriteit, loop ons gevaar om soos die Poolse Solidariteit-beweging in ontrafeling te verval en te verdwyn.

Daar is te veel ontredderde, weerlose en erbarmlike mense in Suid-Afrika om aan ’n verdeelde en verdelende solidariteit te bly vashou, wat ook al die regverdiging daarvoor mag wees.

Die Katolieke help ons om ’n bietjie verder te kom met ons verstaan van solidariteit. Om van die wêreld (lees Suid-Afrika) ’n beter plek te maak, is daar ’n aantal eenvoudige dinge waaraan voldoen moet word.

Eerstens behoort die waarde en waardigheid van die medemens gehandhaaf te word.

Tweedens moet die medemens in sy of haar regte en verantwoordelikhede gerespekteer word.

En derdens moet ’n gemeenskap tot stand kom wat mense bemagtig om hul volle potensiaal te verwesenlik.

As ons steeds elkeen net na die eie belang omsien, is so ’n solidêre of soliede samelewing waar maatskaplike kohesie woon, feitlik onmoontlik.

Die uitdaging nou is dat dié van ons wat al broekskeurende darem nog ’n bestaan kan maak, moet omsien na die belange van die agtergelatenes wat hulself in ernstige situasies van ellende bevind.

Om net na seksionele belange om te sien, is om solidariteitloos te lewe. En om sonder solidariteit te lewe, is amper gelykstaande daaraan om sonder God te lewe. Wanneer ons krampagtig vashou aan die gewaande sekerhede van vooruitgang en sekuriteit, loop ons gevaar om soos die Poolse Solidariteit-beweging in ontrafeling te verval en te verdwyn.

Die sekerheid van die lewe lê nie in pogings tot die behoud van die eie lewe nie, maar op ’n paradoksale manier juis in die prysgawe van die eie lewe oftewel die deel van die eie lewe met ander.

Dis amper die enigste manier om ’n teenwig te bewerkstellig vir die solidariteit van die elite wat besig is om die bronne van die land te buit en dit onder mekaar te verdeel.

* Botha is emeritusprofessor in teologie aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Solidariteit  |  Nico Botha  |  Zwelinzima Vavi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.