SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
'Wat sou gebeur as Blair nee gesê het vir oorlog?'

Die bloedvergieting in die Midde-Ooste en die vlugtelingkrisis in Europa laat Sarel van der Walt wonder hoe dinge anders sou wees as Tony Blair hom nie destyds deur die Amerikaners op sleeptou laat neem het nie.

Sarel van der Walt.

Vroeg in 2003 het ek een aand alleen by ’n tafel in die ou, maar vol pub Prince of Wales in Kensington, Londen, met ’n glas wit wyn in die hand gesit en koerant lees.

Buite was dit bitter koud.

Dit was in die weke voordat die Irak-oorlog uitgebreek het. Die koerante en televisie-nuuskanale was vol van die dreigende konflik oor pres. Saddam Hoesein van Irak wat glo wapens van massavernieting in sy arsenaal gehad het.

Die pub (ek verkies die woord pub bo kroeg wanneer ek van dié in Engeland praat) het al hoe voller geword namate mense ná werk eers ’n bier of twee kom drink het.

In ’n stadium het ’n man en sy vriende gevra of ek sal omgee as hulle ook by die tafel sit.

Hulle het vir my ’n glas wyn gekoop en ons het aan die gesels geraak.

Een van hulle was ’n vegvlieënier wat met Amerikaanse F16-vegvliegtuie vir die Jordaniese lugmag gevlieg het.

Dit was ’n aangename en insiggewende gesprek wat uiteindelik ook die naderende konflik in Irak ingesluit het.

Die VSA en Brittanje het hulle in daardie stadium begin regmaak om Irak binne te val om die bewind van pres. Saddam Hoesein omver te werp.

Pres. George W. Bush van die VSA en die Britte se premier Tony Blair het byna op ’n daaglikse grondslag die lyne tussen die Withuis in Washington en 10 Downing Street in Londen warm gebel.

Danksy ’n briljante toespraak in die laerhuis kon Blair uiteindelik ’n mosie ten gunste van die oorlog in Westminster deurgevoer kry.

Wêreldwyd het Britse en Amerikaanse diplomate steun vir die aanval probeer werf, terwyl ander hulle beywer het vir ’n onderhandelde skikking. ’n Diplomaat het in daardie tyd vir my gesê dit lyk “of die trein die stasie reeds verlaat het” op pad oorlog toe.

Die kans op ’n onderhandelde skikking was “baie, baie skraal”, het die diplomaat gewaarsku.

Maar daardie aand in die Prince of Wales het die Jordaniese veglieënier iets gesê wat my altyd sou bybly:

“Bush-hulle moet oppas,” het hy gesê. “Hulle gaan iets in die Midde-Ooste wakker maak wat hulle nie sal kan blus nie.”

Dit is woorde waaraan ek die laaste week weer baie gedink het toe ek die verslae oor die bloedvergieting in Sirië, die moord op die Russiese ambassadeur in Turkye, en die terreuraanval in die Duitse hoofstad, Berlyn, gehoor en gelees het.

Terwyl Blair sy volle steun aan Bush gegee het en ons probeer wysmaak het Saddam beskik oor wapens van massavernietiging wat ’n gevaar vir die wêreld inhou, was daar groot teenkanting teen die beplande inval.

In daardie tyd het ek op ’n grou, koue Saterdagmiddag verslag gedoen oor sowat 1 miljoen mense wat in Hyde Park in Londen byeengekom het om teen die oorlog te betoog.

In dieselfde tyd het 71 rebelle in Blair se Arbeidersparty ’n verklaring onderteken waarin hulle hul teenkanting teen ’n oorlog in Irak uitgespreek het. Die twee voorbokke was twee kabinetslede, Robin Cook en Claire Short.

Jeremy Corbyn, huidige leier van die Arbeidersparty, was ook een van die rebelle.

Danksy ’n briljante toespraak in die laerhuis kon Blair uiteindelik ’n mosie ten gunste van die oorlog in Westminster deurgevoer kry.

’n Rebelle-mosie dat die oorlog nie geregverdig is nie, is ná ’n debat van langer as nege uur in die Britse parlement met 396 stemme teen 217 verslaan.

Cook, leier van die laerhuis en voormalige minister van buitelandse sake, en Short, minister van internasionale ontwikkeling, het albei later uit die Blair-kabinet bedank.

Short, wat beskou is as “die gewete van die Britse regering”, wou hê daar moes ’n duidelik plan (road map) vir Irak wees nadat Saddam tot ’n val gekom het. Sy wou hê Blair en Bush moet eers goedkeuring by die Verenigde Nasies (VN) vir die aanval kry.

Sou ’n onderhandelde skikking nie ’n beter uitweg gewees nie?

Short, wat uiteindelik ondanks haar kritiek oor die wyse waarop die krisis hanteer is, tot die oorlog ingestem het, het ook gemeen dit sou beter gewees het as die VN die regering van Irak oorgeneem het ná Saddam se val.

Sy het voorspel ’n inval in Irak sou lei tot groot burgerlike ontwrigting en ontheemde vlugtelinge.

Short se waarskuwing het waar geword.

Ek kan onthou hoe Short kort ná die val van Saddam op ’n mediakonferensie van die Vereniging van Buitelandse Korrespondente (FPA) in dié se kantoor langs die Mall tussen Buckinghampaleis en Trafalgarplein vure moes doodslaan oor die gebrekkige gebeurlikheidsplanne van die geallieerde invalsmag.

Sy het ’n paar weke later finaal handdoek ingegooi en uit die kabinet bedank.

Met die toenemende probleme in veral die Midde-Ooste en die vlugtelingprobleem in Europa wat daaruit vloei, wonder ek wat sou gebeur het as Blair hom nie deur die Amerikaners op sleeptou laat neem het nie.

Sou ’n onderhandelde skikking nie ’n beter uitweg gewees nie? En ek kan nie dink daar was van sy en Bush se raadgewers wat hulle nie gewaarsku het nie. Hulle moes geweet het hulle speel met vuur, soos wat die Jordaniese vegvlieënier gewaarsku het.

Dan sou die Londense middagblad Evening Standard nie die middag ná die inval in Irak buite die Kensington High Street-moltreinstasie ’n plakkaat gehad het wat gelees het “It’s war!” nie.

* Sarel van der Walt is ’n politieke joernalis en sportskrywer wat van 2003 tot 2005 Media24 se verteenwoordiger in Londen was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.